You are browsing the archive for 2019 June.

by maraja

Jesus maak die Storm stil…

June 19, 2019 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Jesus maak die Storm Stil…

“In every life a little rain must fall…” gaan ‘n bekende ou-ou liedjie…

Soos ons elkeen weet is daar soms in ons lewens ‘n bietjie reën, soms ‘n bietjie sonskyn en soms daardie onvergeetlike Storm…die een wat jy die dag en datum van kan onthou…selfs die uur…en waar jy was…waarmee jy besig was…want jy was nooit-ooit-ooit weer dieselfde daarna nie…

Ek onthou elke detail van die maandagmiddag…toe ek die eerste maal gehoor het van die Twin Towers wat “nounet deur ‘n vliegtuig getref is…” of die sondagoggend toe ek geleer het wat  ‘n tsunami is en hoe dit ‘n hele eiland-bevolking kan wegvee voor-die-voet… Die huil- oproep om half-vyf tydens ‘n lui Karoo-herfsmiddag van my skoonma…”My seun is dood”…het tyd vir my stil laat staan…(ek het eenmaal, êrens, gelees…dit is die heel stilste in die middel van ‘n tornado)

Tydens…of na so ‘n storm…bly die vraag altyd :  “Hoe braaf was jy?”

Die dominee vertel noudiedag vir ons van Jesus wat in ‘n bootjie (heel rustig) gelê en slaap het terwyl ‘n vreeslike/vieslike storm Sy dissipels baie bang (en onrustig) gemaak het…Hy was baie teleurgesteld in hul kleingelowigheid toe hulle Hom daar wakker maak en het hulle sommer goed uitgetrap…en dit het my laat dink…wat doen ons as dinge te rof raak?  Staan ons op die dek en kyk die oog van die storm vierkantig in die oë?  Of kruip ons onder ‘n kombers weg soos my arme Ma (met ‘n baba in die arms) toe ‘n aardbewing Tulbach in die laat sestigerjare getref het.  Was dit nie vir my brawe pa wat die ou gewelhuis ingehardloop en my ma en bababoetie by die huis uitgesleep het nie, was ek dalk vandag nie eers hier nie?

Sussie het pas begin leer lees op 6 jaar…en net soos toe sy begin praat het op 8 maande…is ek verstom oor haar vernuf… Voel alle ouers dan so?

So breek ‘n maandagaand in Maart vanjaar aan… Waar ek gewoonlik ‘n slaaptydstorie lees, vra Sussie heel onverwags of sy asseblief vanaand kan probeer?  Sy lees woord-vir-woord (stadig en baie duidelik) “Jesus maak die storm stil…” (eie keuse) en Mamma moet ‘n hele paar keer verduidelik wat ‘skuit’ beteken…”…en Jesus staan op in die skuit en sê vir die storm :  “Hou op storm!”…en die storm het bedaar…

Uitasem en heel ingenome met haarself is Sussie en Kleinsus bed toe…min wetend dat daar ‘n werklike storm oor minder as ‘n uur uit die hemele oor ons klein dorpie sou uitbars…en vreeslike groot skade sou aanrig…

Eers het dit saggies begin reën…en toe kon mens duidelik op die sinkdak die klein haelkorreltjies hoor soos dit polka-dans af grond toe… Ons het al in die bed gelê…en ek het gelag toe ‘n klein vermetelde ysklippie by die kamervenster inwaai…maar groot was die skok toe daar meteens groot klippe op die metaaldak begin neerknetter …en die surrealistiese ge-pieng van vensters wat uitgeslaan word…het my lam van skok gelaat…wat van ons motors buite in die straat?  Ons het met afgryse op die stoep gestaan en kyk…hoe alles stukkend…en uitgeslaan word…

Sekondes het minute geword…wat soos ure gevoel het (tyd was nog altyd vir my ‘n baie abstrakte affêre) en soos die skok by my insink…was ek verstom dat die kleintjies deur dit alles (nes Jesus) salig en heerlik gelê en slaap het (definitief baie sterk van geloof)…en ek het my kop opgelig en die storm in die oog gekyk en saggies gesê :  “Dis nou genoeg storm…”

Wel, die storm het nie meteens opgehou nie, maar het geleidelik bedaar…maar wat so fantasties was, was die innerlike kalmte wat ek ervaar het…Ek het tog al baie erger storms beleef… het ek vir myself gefluister…en hierdie is alles aardse goed… Ek het my arme buurvrou baie jammer gekry wat histeries  deur haar gebreekte vensters vir ons gehuil  het en geweier het om na buite te kom om na die skade aan haar motor te kom kyk …en in die strate het verwese mense rondgedwaal en hul aardse skade bereken…

Tot my spyt, kon ek die volgende oggend nie by die skool uitkom  nie vanweë ‘n vreeslike rotsstorting by die ingang van ons dorp, maar ek het darem my klas kinders lekker laat lag die volgende dag toe hulle my motor vol duike sien en vra :  “Maar juffrou, was jy dan nie bang nie?”

“Nee wat” het ek geglimlag…”Soos julle weet, liewe kinders, kan ek nie vinnig hardloop nie en is daar slegs een ding waarvoor ek regtig bang is…”

“En wat is dit juffrou?”… wou hulle nuuskierig weet…

“Zombies….”

http://blogs.litnet.co.za/marajabadenhorstburger/