Profile photo of maraja

by

Nie alle Malva’s hoef te blom nie…

November 24, 2018 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

Nie alle Malva’s hoef te blom nie…

Ek staan laat gistermiddag en maak my nuwe “steggie-tuin” nat…en kyk trots hoe daar waar eers dorre grond vroeër vanjaar was (toe ons ingetrek het) nou welige, dankbare, plante groei…

Dis maar ‘n eenvoudige tuintjie hierdie.  Hier en daar het ek steggies gebedel, soms mooi stukkies-plant in my sak weggesteek en selfs twee stukkies Malva’s wat gedurende ‘n reënbui noudiedag met die pad afgespoel het, opgetel en ook in my tuin kom druk tussen die winters-pampoen-pitte en laas-somer-se-vrot-tamaties wat nou geil orals opkom…

Ek het ingedagte staan en kyk na van die plante wat ek noual maande pamperlang met soveel ure (en water) se liefde…en by myself gewonder hoekom hulle so traag is om hulle kant te bring?  Vies het ek ‘n paar dooie steggies uitgepluk en eenkant vir kompos gegooi…

Onwillekeurig het ek ook aan die afgelope jaar gedink by die skool, want dit was een van die moeilikste matriek-klasse wat ek nog ooit gehad het.  Van hierdie kinders het ek vyf jaar gelede leer ken toe hulle vars en blink-oog by die Hoërskool se hekke ingestap het.  Soos nuwe plantjies wat jy by ‘n kwekery gaan optel, het ek hulle met groot sorg van maandag tot vrydag natgemaak met kennis.  Ek het hulle probeer voorberei op die grootmens-lewe wat voorlê…en ons het lief en leed gedeel.  Hulle het gesien en beleef hoe ek gesnoei is deur die Groot Tuinmaker en hoe ek self twee Blompotte ryker geword het.  Hulle het self een klasmaat aan die dood afgestaan…en ek het hulle soms daaraan herinner as hulle besonder lui was vir werk…maar nouja…

Dit was ‘n les wat ek self jare gelede moes leer toe ek nog ‘n baie jong juffie was…en onrealistiese drome gekoester het vir my leerlinge… Ek wou so graag hê dat elkeen in my klas ‘n “A” simbool sou kry op sy/haar matriek-sertifikaat, want dan sou hulle tog met groot selfvertroue die grootmenslewe kon tegemoet gaan, nie waar nie?  Verkeerd.  Sommiges het wel, maar nie almal nie…. Ek het soos ‘n totale mislukking gevoel…tot ek op ‘n dag in een-of-ander boek gelees het dat nie alle kinders “blom” in jou klaskamer nie.  Soos ‘n roosboom, sien jy net ‘n paar knoppe oopgaan op ‘n slag…hou maar net aan om water te gee…

Sussie en Kleinsus het om my en die tuinslang in die water-poele rondgeplas en geskaterlag…en ek het so geseënd gevoel om ook ‘n rol in hulle lewens te kan speel… en ek het die woorde van wyse Kahlil Gibran weer voor my geestes-oog gesien :

“Your children are not your children…. They are the sons and daughters of Life’s longing for itself… They come through you, but not from you…and though they are with you, they do not belong to you…You may give them your love, but not your thoughts, for they have their own thoughts…You may house their bodies, but not their souls, for their souls dwell in the house of tomorrow, which you cannot visit, not even in your dreams…”

Ek het verbaas opgekyk toe ek sien my reënbui-Malva het die twee mooiste donker-pienk blomme oopgemaak.  Ek het dit met dankbaarheid gepluk en agter elke kleintjie se oortjie ingesteek en gesien hoe hulle verder huppel deur die reënboog-water-poele…en besef… nie alle Malva’s hoef te blom nie…

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *