You are browsing the archive for 2018 October.

Profile photo of maraja

by maraja

Dinge wat jy nie ‘n Nuwe Weduwee moet sê of vra nie…

October 12, 2018 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Dinge wat jy nie ‘n Nuwe Weduwee moet  sê of vra nie….

“Jammer om van jou man te hoor, maar ek wil net vir jou sê jy beter spoedig begin werk soek sus….onderwysposte is nou skaars, so jy sal seker eers teen Januarie kan regkom…”

Dit is einde Mei…..nog nie eers 24 uur vandat my jong, gesonde boer van ‘n man aan sy hart beswyk het nie, en my liewe oudste broer (ek het drie) ontferm hom alreeds oor my…..Wat ‘n verskrikking op dit wat nog kom!

Ek beweeg stadig deur my ma se groot, ou, donker huis in ‘n waas van skok en ongeloof….en om elke hoek en draai word ek telkemale gekonfronteer deur ‘n nuwe bestaan wat ekself nie gekies het nie.  Liewe Madeleine (mede huisbewoner) waarsku my in die donker gang teen mense se weird reaksies op tyding van die dood….Kan dit regtig so erg wees?  Dit is erger….

My ma bel vriende en familie en hulle haas hulle na my……”Hoe is hy dood?”…..Ek staar hulle uitdrukkingloos aan en dink…hoe moet ek weet, ek kom nou maar self hier?

(Polisie en Dr deel ons die volgende dag mee dit was ‘n massiewe hartaanval by die werk)

“Wat gaan jy die kinders sê?” vra iemand……Goeie vraag…hulle kan dan nog nie eens praat nie? Die tweetjies draai-draai om my en ek probeer my smart vir hulle wegsteek (die een is 3 en die ander maar 2) Hoe lank gaan dit hulle neem voordat hulle besef iets skort?  Ek smile deur die trane, gooi ekstra suiker in hul bottels rooibostee (vir die skok wat hulle nie eens van bewus is nie, sien) en speel vir hulle die DVD van The Lion King (die een waar Simba se pa doodgaan….)

‘n Bejaarde tannie vra my ‘n paar dae later….. “Wat het hy makeer, my kind?”…. Die Here alleen weet tannie….dink ek tranerig….hy het gekla van ‘n brand in sy bors, maar ek het mos vir hom hoesmedisyne gaan koop…. Wil tannie my nou wraggies ook op ‘n guilt trip sit?

Oornag het almal op ons dorp ewe skielik dokters geword en vertel my presies die oorsaak van sy dood (asof ek hulle gevra het?) Hy het definitief te veel gerook en jy weet hoe lief hy vir sy stukkie vetterige braaivleis was……  My ma stop my selfs een oggend donkervroeg Readers Digest se ensiklopedie EAT WELL in die hand en sê sy weet nou presies hoekom die kleintjies se pa dood is….hy het geen vrugte geëet nie.  As ek, of my kinders nie dieselfde pad wil loop nie, beter ek ons dieet verander….Wat? Geen rooibostee of Marie Biscuits meer nie??

Talle maan dat ek nou moet sterk wees…..en verkrummel dan op my skouer….

“Hy is nou op ‘n beter plek….” maak selfs my liewe, saggeaarde ma opstandig : “Hoe weet hulle dit?”  vra sy een aand laat deur die trane……Want die Bybel sê so ma….dink ek droogweg….

Oppad na die begrafnis lui my man se selfoon….  Dis Capitec wat vra of hulle met hom kan praat oor sy agterstallige lening….Ek ly nog so aan skok dat ek belowe om hom te sê om hulle terug te bel…en eks seker waar hy homself ookal bevind….het hy lekker vir my gelag!

Dit bring ons by die kwessie van geld…”Het hy darem ‘n goeie lewenspolis gehad?” vra iemand my noudie dag.  Ek het hulle net ‘n vriendelike “none of your beeswax” smile gegee en die enkele groen noot in sy beursie voor my geestesoog gesien….Ons motto was juis vir 5 jaar “Arm van Vlees…..Ryk aan Gees”….maar dit help my nie veel vandag om nappies en melk te gaan koop nie, ne?

Na ‘n week se begrafnishou (met ‘n geween en ‘n gekners van tande) is ek so moeg van almal se meëdoenlose vrae wat onbeantwoord in die lug bly hang, dat ek myself toesluit in my ma se groot, donker huis…..’n welkome oase vir ‘n afgematte siel….

Ek rou nou in my eie privaatheid en loop trots met my nuwe pers Pepstores kamerjas die wêreld vol…..en wag …….uitdagend…… dat iemand my net iets verkeerds vra…..

Dit is nou twee jaar later…en dis waar van tyd wat wonde genees… Iemand sê noudie dag in die apteek vir my met groot, hartseer oë :  “Ek is so jammer om van jou man te hoor..”  Ek het my kop agteroor gegooi, uit my maag gelag en vir die geskokte persoon geantwoord:  “Watter een?”  Want sien…al is ek intussen weer getroud met ‘n wonderlike man en pappa vir die kleintjies…bly ek steeds ‘n weduwee, maar moet my nie jammer kry nie, want… I’ve earned this badge baby…