Profile photo of maraja

by

Die Perfekte Partytjie…

August 13, 2018 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

 Die Perfekte Partytjie…

Hoe beplan ‘n mens die perfekte partytjie op ‘n limited budjet?  Dis eenvoudig…jy doen nie…jy raap en skraap…en probeer jou bes (onder omstandighede)…en hoop vir die best case senario

“Mamma…wanneer is dit my verjaarsdag?”  “Oor drie maande my skat…”

Het jy geweet ‘n sesjarige klein dogtertjie het geen benul van tyd nie?  Gelukkig onthou ek…as die sneeu dik op die Bolandse berge lê…is dit daai tyd van die jaar…verjaarsdagtyd… Dankietog dis nie twee jaar gelede…toe Sussie gehoop het Pappa sal uit die dood opstaan (soos Lazarus) om haar partytjie by te woon nie…en ek heeldag haar vraende ogies probeer vermy het nie…

”Mamma…wanneer verjaar ek nouweer?”  “Oor een-en-twintig slapies liefie…”

Twee weke terug het ek begin rond scout…en was baie bly oor al die Winter Sales by die kinderklere-winkels…’n skoentjie hier…en ‘n broekie daar…en siedaar…

“Mamma…oor hoeveel slapies verjaar ek?”  “Sewe…my engel…”

Gelukkig het Sussie besluit op ‘n baie goedkoop venue hierdie jaar…sommer die parkie om die draai van ons nuwe huis.  Saam het ek en sy al die invitations aan haar klasmaatjies gedecorate met potlood en magic (glitter)…Hoekom sal enigeen dit wil misloop?…het ek gedink, maar soos die Lewe is…misgis mens jou al te veel met vakansiedae en langnaweke… Een na die ander het maatjies se ma’s laat weet hulle is klaar genooi na ander partytjies (double bookings?) of hulle is in die bevoorregte posisies om weg te gaan vir die laaaaaang naweek…

Ek het heelweek my foon se Weather App met ‘n valk-oog dopgehou en gebid dat die reën asseblief moet wag vir Sondag…Vrydagaand het ek begin stress toe ek slegs vier maatjies op my vingers tel..wat definitief kom…en het vinnig ‘n paar ekstra Watsups gestuur na die maatjies wat in Kleinsus se klassie is…”Is julle lus vir koek eet more…kom asb?”

“Mamma…verjaar ek mòre?” “Ja..liefiekind..”

En so breek die Groot Dag (aka Saterdag) aan…die dag van die Groot Partytjie… Sussie en Kleinsus is vroegoggend geskrop in die bad en koeke is onder groot bohaai uit die koppies gewas en geborsel…en ek het steeds ‘n hol kol op die maag gehad… Ek het my maar besig gehou met popcorn-skiet en Niknaks en Fizzers in die tien lucky packets (handmade deur Sussie nogal) gesit…en gou-gou sommer ook cupcakes gebak (net vir incase…)  Twee-uur (want die partytjie begin stiptelik om drie-uur) is ons by die voordeur uit (Mamma met ‘n baie swaar gemoed)…en oor die straat…na die Dorp se enigste parkie.  Daar het ons onder die  grootste koelteboom ‘n paar komberse uitgegooi met kussings, balonne en streamers…en so stuk-stuk het vier karre gestop met ‘n maatjie-ma-en kleinsus/boet…

My Groot Vrees was duidelik besig om voor my oë te ontrafel…’n sad party…met min maatjies…en ek het met ‘n knop-in-my-keel my eie partytjies van lank gelede onthou…hierdie was definitief nie ‘n Facebook Party wat enigeen kon “like” nie…maar Sussie was totally oblivious deur Mamma sy byna-angs-aanval…en soos die middag gevorder het…het daar ook ‘n wonderwerk gebeur…soos Jesus die vissies en brode vermeerder het…het Sussie se skaterlag op die skoppelmaaie en merry-go-round die buurt se kindertjies gelok…en die klein gate-crashertjies het soos bye om Sussie se heuningkoek saamgedrom…tot almal se magies vol was… Hulle het vir haar gesing “Veels geluk liewe maatjie…” en haar ge-entertain tot die son agter die blou berge verdwyn het…Almal het help opruim na die tyd (dankie tog ek het swartsakke onthou) en ek het selfs uit dankbaarheid vir almal se bydrae die kleingoed huis toe gestuur met die orige koeldrank, balonne en streamers

Laataand, na Sussie al haar puzzles, kryte en Sales-specials bewonder het…het sy pootuit, maar baie tevrede, in haar klein bedjie geklim.  Ek het vir haar  ‘n drukkie gegee en haar nag gesoen…en vol bewondering na haar gekyk…

“Hoekom is jy so oulik Petronella?”  “Want Jesus het my so gemaak Mamma…”

Kan ons nie maar almal so sterk van geloof wees soos klein kindertjies nie?

 

 

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *