You are browsing the archive for 2018 July.

Profile photo of maraja

by maraja

‘n Groot Donker Gat…

July 8, 2018 in Uncategorized

 Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

‘n Groot Donker Gat…

Ek het eenmaal lank-lank gelede, toe ek (onder dwang) Aardryksunde moes aanbied, vir ‘n leerling ‘n lugfoto van Graaff-Reinet gewys en haar gevra wat sy dink die groot swart kol buite die dorp (obviously die munisipale dam) was…sy het haar asem diep ingetrek en met groot oë gesê :  “Ek weet nie juffrou, maar dit maak my baie, baie bang…” Ek het jare lank hierdie storie oorvertel aan mede pedagoge, maar dit het my ook laat wonder…

Hoekom is ons so bang vir gate? Daar is fisiese gate wat ons (obviously) moet vermy…soos bv. slaggate, sinkgate, boorgate, mangate ensovoorts…maar wat van die emosionele gate?

Ek het op ‘n stadium in my lewe gevoel daar is ‘n groot gat in my borskas…amper soos ‘n vierkantige blok wat daaruit gesny is…en as mens mooi kyk, kon jy dwarsdeur my…en die gat sien…amper soos ‘n venster wat oopstaan…die probleem was…hoe maak mens die venster toe?  Hoe vul ‘n mens so ‘n gat?  Met tyd het ek geleer om dit met liefde te vul…liefde vir die self, maar grootliks liefde vir ander…en dit het ingesluit familie, vriende en vreemdes, maar hoe gemaak as jou liefde onbeantwoord bly?  As jou liefde nie genoeg is nie?  As jy geweeg en te lig gevind word deur ander?  Of as mense jou soms onredelik eenkant toe stoot?  Die koerante is vol van mense wat ander se lewens be-eindig omdat hulle liefde nie genoeg is nie…en hulle nie kan aanbeweeg, of weet hoe om die groot gat in hul harte te vul nie…Daar is seker niks erger op hierdie aarde as om ongeliefd te voel nie…en verhoudings met mense leer jou daarvan… Mense los en verlaat jou…selfs jou kinders sal eendag (dis doodnormaal) en dan gaan jy aan empty-ness-syndrome ly…Selfs my oorlede man het my gelos…en ek was lank baie kwaad en hartseer daaroor…onredelik, ek weet…

In Philip Yancey se boek “Where is God when it Hurts?” bespreek hy die konsep van onbaatsugtige liefde ( I suppose…nes Jesus)…om niks terug te verwag vir die liefde wat jy gee nie…want dit maak die groot gat in jou hart vol…

Ek het op die oomblik ‘n groot gat op my stuitjie (na ‘n operasie so ‘n paar weke terug) en sit op ‘n gatkussing terwyl ek hierdie storie skryf…maar dis ok, want ek weet dis net tydelik en ek het innige meegevoel ontwikkel vir mense wat in konstante fisiese pyn leef.  Volgens Yancey, wat ‘n studie van melaatses gemaak het, kan hulle geen pyn voel nie en verloor daardeur ledemate omdat hulle hulself beseer…Hy beweer dat pyn deur God aan ons gegee is sodat ons kan voel (en besef) dat daar iets fout is…en ook sodoende iets daaromtrent kan doen…’n baie interessante stelling…

In die middeleeue het geestelikes hulself gegesel om pyn te kan voel…en sodoende nader aan God te voel…en dit laat my wonder…hoekom is die “moderne mens” so bang daarvoor?  Hoekom verdoof ons die fisiese en emosionele pyn met allerhande medikasie om emosioneel en fisies dood te voel?

‘n Klein gediggie wat ek geskryf het toe my man oorlede is…en daar ‘n groot gat in my hart was…

Mynskag

bedags

sirkel ek

die groot gat

wat jy

agtergelaat het…

en staar hipnoties

af

in niks…

met tyd

verdwyn al meer

herrinneringe

die duisternis in…

ondergrondse gange val in

en sinkgate verskyn

op die oppervlak…

en hoe meer ek myself

weg probeer skeur

hoe meer

vind ek die donker dieptes

onweerstaanbaar mooi…

ek staan op die afgrond van verlange…