You are browsing the archive for 2018 June.

Profile photo of maraja

by maraja

Voor jy kan sê… ‘mes’…

June 24, 2018 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

Voor jy kan sê…’mes’…

“Hoe lank gaan Mamma weg wees?” vra Sussie hierdie week groot-oog toe sy sien hoe ek twee groot, swaar sakke vol klere druk.  Die een, vol van my mooiste klere, die ander, vol van my oudste klere…Ek het vlugtig opgekyk in haar bekommerde gesiggie en gewonder hoe verduidelik ek vir haar dat my twee outings hierdie week ook ‘n impak op haar ou lewetjie gaan hê?  Die eerste was vir ‘n fênsie job-interview in Bloemfontein…en die ander vir ‘n groot operasie wat ek al vir 15 jaar uitstel…

Het jy al ooit die boek gelees Around the World in 80 Days?  Wel…dit het amper gevoel soos Around the Country in 48 hours…Dinsdagaand is ek op ‘n oranjeblanjeblou Intercape Sleepliner gesit met die mooiblou Hexrivier-berge om my en ‘n paar reëndruppels van die Kaapse winter wat om my val…om vroeg-vroeg woensdagoggend wakker te word in ‘n ryp-koue Vrystaatse winter…Nog met slaap in my oë is ek gekarwy deur die strate van Bloemfontein…oppad na my dream-job…by ‘n droom-skool…en wat ek gesien en beleef het…het soos ‘n surrealistiese nagmerrie gevoel… Die skool het soos Dubai (as ek my kon voorstel) gevoel, ‘n oase in die middel van ‘n woestyn van verganklikheid…buite was die strate vuil en weerloos…en voor die stadsplein het ‘n groot nuwe brons-standbeeld van Fidel Castro ‘n Kubaanse vlaggie gewaai…die hemel help ons…

By die kuns-museum oorkant die straat het ‘n tannie wat in haar blou Mazdatjie slaap my nader geroep toe ek verbystap…”My kind, jy moenie so alleen rondstap nie, dis baie onveilig hier…” Ek het vir haar gesmile en gesê ek gaan net gou na die mooi prentjies binne kyk…Sy het my snaaks aangekyk en gesê :  “Van waar is jy my kind?”  “Eks vannie Kaap tannie…maar eks hier vir ‘n werk”  Sy het my vertel dat “hiers nie werk nie Sussie, bly maar waar jy is..”  Grootoog het ek by die kuns-museum ingesluip waar ek met Thomas (die deurwag) bevriend geraak het.  Hy het weer vir my vertel hoe ongelukkig hy in sy nuwe fênsie job was…”Geld koop nie geluk nie, mevrou…ek moes maar by die Golfklub by Tempe gebly het…daar was ek vir baie, baie jare…baie gelukkig…”  Ek het so groot geskrik dat ek skoon vergeet het van die mooi prentjies en blindelings weer die sonlig buitentoe is…was hierdie almal tekens van Bo…dit waarvoor ek so gebid het?

Verlig het ek Woensdagaand weer op die oranjeblanjeblou bus geklim…terug huis toe…maar net betyds om my volgende sak klere te gryp om in te book by die Worcester-hospitaal (not the Medi-Clinic) en daar het ek vir die volgende drie dae in ‘n saal vol vroue gelê van all walks of life…en elkeen het ‘n kleurvolle storie gehad…

Spoedig was ek onder die mes en in my beswymelende toestand met skerp teater-ligte wat my verblind het ek ‘n lightbulb-moment gehad…Ek moet definitief mal wees…want soos die klein skaapwagtertjie in Paolo Coelho se The Alchemis het ek ook die huis verlaat om my skatte te gaan soek…en die het jou wrintiewaar by my eie drumpel gelê, want toe ek ontslaan word uit die hospitaal teen saterdag-oggend, is ek verwelkom by die huis met ope arms en blye kinder-hartjies.

Sussie het weereens gevra :  “Hoe lank was jy weg Mamma?” en ek het verlig ge-antwoord :  “Voor jy kan sê “mes” skat…is Mamma terug…”