You are browsing the archive for 2018 May.

Profile photo of maraja

by maraja

By die Hoek-Kafee van die Lewe…

May 13, 2018 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

By die Hoek-Kafee van die Lewe…

Ons is lief daarvoor om Sondae (na Kerk) na die naaste hoekkafee te stap…dalk vir ‘n brood of twee, melk…en miskien ‘n sweetie vir elke kies…maar wie sou ooit kon dink dat ons die Bybel-les (saam met Sondagskool) nie by die Kerk se trappies kon agterlaat nie?

Die bottelstoor (wat ook deesdae op Sondae oop is) is reg langs die hoekkafee en dus ook oorkant die Kerk en elke Sondag sien ons verlore siele daar rondsit, steier of lê… “Mamma, hoekom lê daardie oom en slaap op die straat en nie in sy bedjie nie?” Met die klank van die kerk-klok agter ons, antwoord ek sonder om tweemaal te dink : “Dis omdat hy te veel nagmaal-wyn gedrink het my skat”  Ek sien hoe knip die klein ogies teen die son en hoe werk die klein breintjie in eerste rat terwyl ons ‘n draai om die slapelose, hawelose loop…

By die deur van die kafee word ons voorgekeer deur ‘n bedelaar wat smeek vir ‘n “twintig-sent-seblief” en ek skud net my kop vies en trek die twee kleintjies met ‘n spoed tot binne-in die koel veiligheid van die hoekkafee.  Binne gesels ons met die vriendelike oom-van-Bangladesh agter die counter, neem ‘n brood-en-melk en besluit op twee rypgeel piesangs.  Ek staan en lees die nare opskrifte op die Sondag-koerant se voorblad en hoor weer my ma se  tug-woorde aan my : “Jy lees te min koerant my kind, jy moet weet wat aangaan in die wêreld…” Nee dankie ma…daar’s net te veel boosheid in die lug…en ek vermoed dis aansteeklik…Daarom neem ek die twee se klein handjies weer stewig in myne, groet die hoekkafee se eienaar, en marsjeer die verblindende sonlig buite in…

En so gaan dit elke sondag…tot gister…oppad kafee toe…sien ons ‘n straat-kind hang half-lyf binne-in ‘n munisipale drom.  Hy het opgekyk toe hy ons hoor aankom…en gevra vir ‘n stukkie brood. “Hoekom is daai seuntjie dan honger Mamma?” wou Sussie weet…maar ek het nie geweet wat om te antwoord nie…  Ek het haar en hom ge-ignoreer en ’n wye draai om die slapelose, hawelose geloop… Binne die kafee het ek besluit  om die sweetie-geld te spandeer op ‘n ekstra brood (tot Sussie se ergernis) en toe ons weer buite kom, die sakkie in haar klein handjies gedruk en gesê : “Hoekom gaan gee jy nie vir daardie seuntjie jou brood nie?”

Soms het ‘n Bybel-les nie woorde nodig nie…slegs ‘n gebaar…en ek kon op Sussie se gesig sien sy het verstaan wat dit is om iets vir iemand te beteken…en al was ons dorp laasweek op Kyknet se Dorp-van-die-jaar program, is dit baie moeilik om jou blind te staar teen die armoede, alkoholisme en honger, regoorkant die Kerk, by die Hoek-Kafee van die Lewe…