You are browsing the archive for 2018 April.

Profile photo of maraja

by maraja

Remember Me…

April 10, 2018 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

Remember Me…

“Wie het van Pappa se koek geëet?” vra Sussie vanoggend (deur die slaap) toe ons regmaak om kersies dood te blaas op Pappa se tweede hemel-koek…Ek het so skuldig soos Gouelokkies gevoel toe ek na die missing driehoek kyk in die middel van die vars tjoklit  icing…maar gelukkig leef ons in die era van kinder-verbeelding (en het Kleinsus nie net gisteraand gehuil oor sy bang was vir die Dinosaur in haar bed nie?) My briljante antwoord het vinnig gekom : “Dit was natuurlik Pappa…dis tog sy verjaarsdag nie waar nie?”  Sussie se gesiggie het sommer opgehelder en was heel tevrede met Mamma se verduideliking…nevermind the fact dat ek gisteraand nie kon slaap nie…gaan koffie maak het…en myself alleen gevind het in ‘n kombuis met ‘n groot tjoklit-koek op ‘n ronde kombuistafel…vir ‘n man wat dood is…

Ons het gesing…kersies doodgeblaas…gelag…en tjoklit-koek vir brekfis gehad… Ek het besef (tussen al die lawwigheid deur) dat hierdie koek darem self laf proe…ooops…ek het sout vergeet…but who cares?  Na al die maande van sout trane huil…het ek gehou van die simboliese waarde van ‘n te soet koek…en gou was onsdrie op ‘n sugar-rush…reg vir die eerste dag van die skool-kwartaal…

Ek het vinnig die oomblik op kamera vasgevang en op Facebook geplaas en gewonder “Het ek myself verbeel…of was daar ekstra liggies soos ‘n stralekrans om die kleintjies en hul Pappa se koek?” toe ek deur die foto’s scroll…en maar gehoop hy was met ons in gees…

Ons het net noudiedag die oulikste kinder-movie (Coco) gesien waarin ‘n klein Meksikaanse seuntjie sy oupa in die doderyk vind… Ek was heel beïndruk met die Meksikaanse kultuur wat een dag van die jaar hul afgestorwe familie-lede onthou deur hul foto’s uit te stal, kerse te brand en hul gunsteling kos te maak. Ek dink volgende jaar moet ek Pappa se gunsteling Peppermint-crisp-tert maak (dan kan ek sommer ekstra smul daaraan die aand voor die tyd).  Wat my bygebly het van die fliek was die pragtige tema-liedjie “Remember me” asook die feit dat dit ‘n baie jolly affêre vir die Meksikane is…en hoekom dan nou nie?

Oppad werk toe het ek by ‘n vervelige rooi robot na die kommentaar op Facebook geloer…en ja daar was ‘n paar mooi boodskappe…maar hoekom eindig die meeste met die woorde “sterkte” het ek gewonder?  Met wat? My stukkende moter…die nuwe huis se hoë paaiement…die nuwe petrolprys…winter-griep wat voorlê…of wat?  Ouma het gesê hy is “op ‘n baie beter plek as ons..” rerig?  Kon hy regtig proe hoe amazing lekker daai tjoklit icing was?  Ek twyfel sterk…

Ek lees gisteraand in ‘n boekie “A Season of Grief” dat iemand voorstel dat ons almal besig is om dood te gaan. Sommiges van ons weet wanneer ( soos die wat siek is) en ons ander het nie ‘n clue nie…Sou ek ‘n man getrou het as ek geweet het hy sou binne 5 jaar sterf en my met twee kleintjies los? Nee. Sal ek my reis van die afgelope paar jaar vir enigiets anders wil verruil? Nee. Ek is ‘n beter mens as gevolg daarvan…en ek sal ook nooit weer die mens wees wat ek was nie.  Ek leef elke dag asof dit my laaste dag is.  Ek hoor, sien, proe, ruik en voel soveel meer as tevore…ek voel ast’ware wedergebore…’n nuwe, beter weergawe van my ou self…

So…as my kleintjies eendag my kersies doodblaas op my hemel-koek…hoop ek hulle sal “Remember Me” sing…en lag…en gelukkig wees…want ware “sterkte” vind jy nie op Facebook (waar mense bang is om oor die dood te praat nie) maar in die hier en nou…

Profile photo of maraja

by maraja

Om te Gee of te Neem…

April 3, 2018 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

Om te Gee of te Neem…

‘n Snaakse ding gebeur annerdag met my…my kar was halfpad in die lug opgejack, toe die mechanic onder die enjin vir my uitloer en met ‘n swart ghries-neus beduie daars geen fout met die kar nie, maar met my…Hy (aka my landlord) het genoeg gehad van my en my kroos…en nes op Skipskop was dit alweer tyd vir  “…pak-op…pak-op…en hou tog net invadersnaam…daai kindjie dop….”

My aarde het op sy as gewankel…want in die prentjie-mooi dorp waarin ek woon…is daar ook geen blyplek nie…(alles kom teen ‘n prys) en ek het in my geestesoog gesien hoe ek en die kleintjies slaap in ons motor (my ma het nog altyd gesê ek moes eerder Drama as Kuns gaan swot het, want eks ‘n regte Drama Queen) Ek het die volgende oggend oor die radio gehoor van mense in opstand van Gauteng tot Hermanus wat aandring op ‘n stukkie Grond van hul eie…en het by myself gewonder of ek nie hulle moet gaan join nie? “’n Stukkie lê hier…en ’n stukkie lê daar…die stukkies van my lewe lê so deurmekaar…”

Soos ek rondgerol het die volgende paar donker nagte…het ek my opsies oorweeg. Ek kon al ons aardse besittings êrens gaan stoor (maar daar was geen storage op die dorp beskikbaar nie…)  en dan noodgewonge slaapplek by vriende, familie, vreemdes…of die Salvation Army bedel…maar my ma sê eks heeltemal te trots… Een nag het ek ‘n blink plan gehad…en hardop gedink:  ”Net môreoggend gaan ek ‘n tent koop by die Koöperasie…en hom opslaan op die Kerk se lawn….” Hulle sal mos nie ‘n arme weduwee en haar twee kleintjies wegwys nie? Met die son op…het ek my plan laat vaar toe ek besef ek het nog nooit in my lewe ‘n tent opgeslaan nie…what was I thinking? ‘n Vriend het voorgestel ek gaan slaan ‘n shack op ‘n stukkie oop grond op…en na ‘n paar maande gaan kla ek by die local authorities oor die haglike omstandighede waarin ek en my kleintjies moet oorleef…Hop-Huis asb?  Ons het lekker hieroor gelag…maar ek het al in ‘n sink-shack gebly…lank gelede as arm student…en wens dit vir geeneen toe nie…veral nie vir my twee bloedjies nie…”Seblief meneer…sê tog weer…is dit die pad wat ons môre moet vat?”

Die laaste nag…was die ergste…Ek het my kussing papnat gehuil terwyl ek gesien het hoe ek onsdrie vergas in my rooi motortjie…Sommer op die pavement…voor ons blyplek…want ek het genoeg getrek…en ek is moeg getrek…en waarheen moet ek dan trek?  Almal het ‘n breekpunt…en ek was hoop-verlore…“Pak-op…pak-op….wanneer hou die dinge op?”

Maar weereens het die sons-opkoms my benewelde brein tot helderheid en afgryse oor my donker fantasieë wakker laat skrik…en ek is seker dat ek vir my straf (oor my ver-romantisering oor die dood) ‘n rype ouderdom van 101 gaan word met geen haar op my kop of tand in my mond oor nie…Ek het my Bybel toegeslaan by Psalm 23… en gestort, mooi aangetrek, die kleintjies in die death-mobiel gelaai…en die strate ingery om my lot by die Mens te bepaal…en dis hier waar ek weereens ‘n lewensles geleer het…

Barmhartigheid kry jy nie by diegene wat het… en in Paleise woon nie, maar by die wat die minste het.  Hulle ontferm hulle oor jou…sien die seer van swaarkry wat vlak in jou gemoed lê…en kan identifiseer met al jou pyn…want hulle is ook stukkend…

Ek sit vanaand en skryf  hierdie storie in my nuwe klein huisie…en luister hoe rustig slaap die kleintjies in hul klein pienk bedjies…en al bly ons nie meer in die bo-dorp nie, is dit hemels, want ek bly tussen stukkende mense…nes ek…wat hou van gee…en ek voel so tuis…”Sê maar solong Skipskop…Skipskop sê goodbye…”

Tog bekommer ek my steeds oor die wat neem…want het jy ook al gelees van die storie van die ryk man wat vir Jesus gevra het hoe hy moet maak om in die Hemel te kom?