Profile photo of maraja

by

Onkruid Vergaan nie…

March 14, 2018 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

Onkruid Vergaan nie…

My ma se naam is “Moedertjie”…maar mense ken haar as “Blackie”….en Ouma het haar altyd “Marina” genoem…Sy het sopas 75 (‘n halwe eeu) oud geword… In Japan word ‘n mens teen ‘n sekere ouderdom as Nasionale Monument verklaar…en ek is seker Moedertjie (wat ‘n Museum-mens is) sou baie van so ‘n titel gehou het…

Ek ken haar al vir 43 jaar…terwyl ander haar al vir baie langer ken…tog was ek (as die laatlammetjie) die uitverkore een wat haar vir baie lank up-close-and-personal dopgehou en waargeneem het…en geluister…en geleer het van haar…Al het ek haar probeer verstaan…’n soms onmoontlike taak, want Blackie Publiek…is nie Blackie Huis nie…weet ek een ding verseker vandag….ek is ‘n produk van my Moedertjie….en ook baie trots daarop…en wil kortliks met julle deel die 10 lewenslesse wat Moeder Blackie vir my geleer het:

  1. Wees altyd Mededeelsaam…’n moeilike les vir ‘n laatlam en enigste dogter daarby…maar ek het altyd gesien hoe Ma alles wat sy het (hoe min ookal) met ander deel…en hoeveel vreugde sy daardeur in mense se lewens bring…
  2. Jy is jou eie Beste Maatjie…min mense weet dat sy in 1985 vanaf Montagu na die Oos-Kaap verhuis het…net om nader aan haar ou skool (Oranje Meisieskool) te wees…sodat sy my op 13 in ‘n ander provinsie (die Vrystaat) kon agterlaat met hierdie afskeidswoorde….”Onthou, jy is jou eie beste maatjie…” Sy het jare later gebieg…dit was een van die moeilikste dinge wat sy ooit gedoen het…en het heelpad (sowat 6 uur se ry in haar ou Peogeot) huis toe gehuil…
  3. Moenie Skree in die Strate nie…soos almal weet…is Montagu se strate vol van mense wat skree…dus moes Ma in 1980 vir my en my beste maatjie (Zaza, wat in die Blou Piekegebly het) een middag nader roep en maan : “ ’n Jong dame skree nie soos ‘n spiritsvrou in die straat nie…”
  4. Fokus op jou Talente en Droom Groot…van kleinsaf het Ma vir my kryte en verf gekoop sodat ek my kunstalent kon uitleef en slyp…en al wou sy graag hê ek moet ‘n famous kunstenaar word soos my oom Philip in Europa…voel ek vandag famous in haar oë…want sy noem haarself my Grootste Fên…
  5. Daars Genade in Werk…Ma het my jare gelede vertel ek moenie te veel dink nie…bly besig…dan sal jy sommer gou beter voel…en toe my man so 2 jaar gelede oorlede is, het sy toegelaat dat ek haar hele Persiese mat (waarop sy so heilig is) in die sitkamer vol verf spat sodat ek van my hartseer ontslae kon raak…
  6. Leef nader aan die Aarde…Ma glo nogsteeds aan ‘n eie groentetuin, jou eie hoenders hê…en eenvoudig eet…en soos die land se ekonomie op die oomblik afwaarts struikel…dink ek sy het dalk ‘n punt beet…
  7. Kies altyd Korrekte Taal…Van kleinsaf het ma vir my boeke gekoop en voorgelees toe ek nog nie self kon nie…’n boek in ons huis was ‘n heilge voorwerp…en ek het vandag ook ‘n heilge biblioteek leesstof van my eie…en leer swart kinders daagliks die wonder van Afrikaans…
  8. Kinders is die Vuur wat jy jou Hande by Warm maak op jou Oudag…Ma het vir my ‘n laaaang brief geskryf toe ek 35 word en nog ongetroud is met die bostaande woorde….(Alhoewel sy ook glo jy moenie by jou kinders bly op jou oudag nie, want hulle gaan jou net boelie…)
  9. Rus is in die Dood…Ma glo dat jy nie op jou louere moet rus nie….doen wat jy moet doen vandag…wie weet wat die toekoms bring?
  10. Die Positiewe Aspekte van Onkruid…is dan ook my gunsteling….As verveelde tiener moes ek na eindelose VLV en ACVV praatjies van Ma gaan om al die botteltjies vol kruie en onkruid rond te dra…Vinkel koekies moes vir die Tannies uitgedeel word saam met hul Lemon-Verbena-Suurlemoen tee en daarna Brandnetelsop en Saadjiebrood…

Moedertjie verstaan nie vandag hoekom ek so happy hier op Montagu is nie…maar ek is so gelukkig hier, want Montagu is my Ma…ek volg in my Ma se voetspore…daarom voel ek…my Ma is nooit te ver van my nie (al woon sy vandag in Colesberg)…Ek vertel vir almal ek is die MuseumBaba van Montagu…dat Pa deur die kloof moes jaag een warm somersmiddag sodat ek in Robertson se Hospitaal gebore moes word, omdat Ma ‘n crush op die ou dokter gehad het…

Soggens…as ek die laaste wilde draai vat Kleuterskool toe…en hoor hoe my Kleintjies gil van plesier….onthou ek daai selfde draai…soveel jare gelede…toe die Triumph se deur oopgegaan het….en Ma my aan die voet beetgekry het…Ons was altyd laat vir skool….en ek is nogsteeds laat vir skool….

My ma is soos Klitsgras in my hart…en soos die meeste onkruid…wat weier om te vergaan….wil ek vir Ma Blackie gerusstel…met hierdie afskeidswoorde van ons Alma Mater…

“Die Meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval….Ja, my erfenis is vir my Mooi…”

liewe Moedertjie…

 

2 responses to Onkruid Vergaan nie…

  1. Pragtig Meraai! Kosbaar!

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *