Profile photo of maraja

by

So Naelskraap en so Hit-te-te…

February 6, 2018 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

So Naelskraap en so Hit-te-te…

“Kom, my Kind…so sal jy jouself nooit, ooit weer hoef te verneder nie…” het Ma gesê en my klein sweterige handjie in hare geneem en met berekende treë na haar ligblou Triumph gestap…Dit was ‘n warm, somersmiddag in 1982 en ek het sopas aan my heel eerste atletiek-oefening op 6 jarige ouderdom deelgeneem…Ek het heel onskuldig na haar opgekyk…en al het die son my verblind, kon ek aanvoel sy was baie, baie vies…”Wat beteken ‘ver-ne-der’…Mamma?”….het ek gevra, terwyl ek gewonder het wat ek dan verkeerd gedoen het?…Maar sy was te besig om aan my toekomstige, ‘alternatiewe’ buitemuurse aktiwiteite te dink…om my te hoor… Vandaar onthou ek slegs somersmiddae in pienk tutu’s…glibberige pinch-pots van klei…en kwaai tannies langs my op harde klavierstoeltjies…en my drome van ‘n atletiek-loopbaan…aan skerwe…

En so beland ek toe… laasnaweek (so plus-minus 35 jaar later) op dieselfde grasgroen veld…met die pragtigste blou berge omring…op ‘n snikhete somer-saterdag…hierdie keer in die rol van my ma…met mini-me se sweterige handjie in myne…o hel…waar is die kar nouweer?

Ek het opgedaag in ‘n brawe gesig-masker en oorlogs-kleur-rooi-rok mondering (al was ons eintlik daar om die Groenspan te ondersteun) en het benoud rondgevra of die mamma’s rerig moet saamhardloop met die kleinspan? Ek het senuagtig vasgeklou aan die kleintjies se doeksak (sonder enige doek, bersie, bottel of dummy) en ‘n paar slukkies gevat van een se koeldrank uit die sak…Sussie het onmiddellik my hand gelos en haar maatjies gaan soek en op die pawiljoen gaan klim om saam liedjies te sing…en Kleinsus het wraggies ook my hand gelos toe sy haar nuwe juffrou sien…om my verwese en alleen agter te los…’n sesjarige weergawe van myself…op dieselfde stuk groen gras…

“Bly volhard soos atlete…dis God wat die wedloop bepaal…” was die enigste liedjie wat ek altyd voor gevra het as dit my beurt was om iets voor te stel tydens godsdiens-periode…omdat ek nie kan hardloop nie, sien?

”Daar’s ‘n skare verlossers wat wag om die draai…” en dis ook die naaste wat ek aan atletiek gekom het…as getroue toeskouer…en ondersteuner…vir die wat kan, sien?

En so breek 10 uur die oggend aan…vir die Kleuterskool-atlete by die Laerskool-atletiek…Ek het die Kleintjies gou bymekaar gemaak en elkeen by hul juffrou gelos, want Mamma (die getroue ondersteuner) moes gou gaan wag aan die ander kant van die baan…”Dat ons almal die wenstreep sal haal…”

Ek was min gespin oor Sussie, want met haar lang beentjies wat sy by Pappe ge-erf het, het ek min probleme voorsien met haar toekomstige atletiek-loopbaan…maar Mamma was verkeerd.  Ek vermoed, ek het haar te veel opgesaaik al van die vorige dag af…en haar ook ‘n GROOT ice-cream belowe as sy ons klein familie-naam hoog hou…met my visioene van medaljes, bekers en podiums…

Juffrou het na die tyd om verskoning kom vra…want Sussie het soos blits deur haar arms geglip toe die oom met die gun die skoot laat klap….om saam met die bondel seuntjies te hardloop….sodat sy ver voor Mamma (wat nog halfpad oppad was) by die wenstreep aangekom het…

Ek het van skok gaan staan…en omgedraai (in die middel van die baan)…want, toe die tweede skoot klap…het klein, vlugvoetige vlindertjies aangevlieg gekom…en vir liewe Kleinsus agter gelaat…en daar sien ek toe wat my eie ma gesien het…soveel dekades gelede…’n klein weergawe van myself…wat verbete probeer byhou…maar nie kan nie…Ek het opgekyk na die Berge…waar sal my Hulp vandaan kom?

Maar Mamma was weer verkeerd, want voor ek ‘n traan kon stort van bejammering, sien ek hoe Kleinsus haar koppie agteroor gooi…en hoe sy skaterlag….en vooroor dubbelvou…handjies op die knieë…in die middel van die scary groen grasveld…het ‘n lagbui haar oorval…dat sy nie meer ‘n voet verder kon sit nie….Ek moes haar noodgedwonge van die veld gaan verwyder (wat nou gladnie meer so scary was nie), sodat die ernstige atlete hul nommers kon klaarmaak…

En daar is dit toe…op een dag het ons drietjies geskiedenis gemaak…Sussie so naelskraap….Kleinsus so hit-te-te…en Mamma heeltemal ontslae van haar atletiek issues

Maar ek het tog gedink aan Pappa se woorde van lank gelede…”Ek kan nie wag om eendag langs die baan te wees as hulle sport doen nie…” but, I suppose…dit is God wat die Wedloop van die Lewe bepaal…met die wat Hardloop, die wat Waarneem…en die wat Wag…omdat hul klaar hul Wedloop voltooi het, nie waar nie?

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *