You are browsing the archive for 2018 January.

Profile photo of maraja

by maraja

Om Jou vir laas te Groet…

January 15, 2018 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

Om Jou vir laas te Groet…

“Koebaai….koebaai…ons sê koebaaaai…..” sing my twee dogtertjies vanoggend, al hangend by die rooi kar se agterste twee vensters uit…armpies al wuiwend…Ek hoor Skoonma begin saggies langs my snik…En ek?…Ek weet nie of ek moet lag, of huil nie…

Die vakansie is eindelik verby, maar ons het nog een taak wat afgehandel moet word, voor sy vanmiddag om vyfuur op die GreyHound klim, terug Noorde toe…

My oog vang skuins die houtboksie op haar skoot (die laaste oorskot van haar geliefde seun) …. en sien hoe sy die trane met ‘n klein wit sneusie probeer keer….

”Koebaai…koebaai…” klink die helder kinderstemmetjies weer hier van agter…en ek wonder saggies in my binneste…. of sy ook die ironie van hul woorde besef?  Ek weet nie regtig hoe om haar te troos nie…dus fokus ek maar op die ratte verwisseling van die geleende motor….Een…Twee…Drie…Stop…(ai, ek mis die gemak van my automatiese Duitse motor…)  Ons bestemming?  Na laaaaang betragting (met logistieke moontlikhede en hindernisse) het ons besluit om Pappa se as te gaan strooi in die dorp se Karoo-Natuurtuin.  Ouma loop maar swaar…en die klein kronkel- en afdwaal-paadjies lê vol moontlike beenbreuke of verdwaal…Dis amper erger as Survivor (Outwit,Outwin,Outlast?) en ek kan aanvoel hoe die irritasie in my opbou soos ons elkeen ‘n klein sweterige handjie vashou…en my hemp van die somershitte aan my rug begin vas-plak…Vandag draai die kwik weer hier by veertig…

“Waarheen is ons oppad Mamma?” vra Sussie, terwyl sy by die paadjies af huppel en  al die plantjies en skoenlappers bewonder.  Hoe verduidelik ek aan haar dat ons eindelik vir haar Pa totsiens sê vandag? My moed begewe my…en die juffrou-gear in my skop onmiddelik in (dankie tog vir auto-pilot?)…”Kyk net daardie pragtige koningsblou water-lelie skat!” roep ek met verwondering uit (ek weet sy hou van groot woorde met ‘n titseltjie kleur bygemeng).  Sy gaan staan doodstil…en verwonder haar aan die diep blou-tot-geel skakerings…terwyl Ouma en Kleinsus voort…steier…die opdraendes uit…My oog vang hier en daar die pragtige Karoo plantjies…en ek probeer selfs die natuurprag aan my skoonma uitwys…”Kyk net hierdie klein, skelrooi vetplantjie Ma…Het Ma geweet, hoe minder water hy kry, hoe mooier-rooier word hy?”… maar sy is verblind deur haar trane en blykbaar ook nou doofstom…

Ons gaan sit vlugtig onder ‘n Karoo-Boerboon dat ouma kan asem skep.  “Is dit nie ‘n mooi naam nie Ma?” vra ek terwyl ek opreik tussen die stekelrige takke en een van die pienk blommetjies pluk om vir haar aan te gee.  Sy knik haar kop terwyl ek langs haar inskuif op die harde-hout-bankie.

Ek sien by my voete staan ‘n Kruidjie-Roer-My-Nie…en ek onthou hartseer hoe haar seun soms Anton Goosen se liedjie met dieselfde naam (”Jy’s ‘n bondeltjie liefde….as jy hier langs my…donkiekar ry…”) vir my gesing het…maar dit deel ek nie met haar nie…

“Wat…dit…Ouma?” vra Kleinsus belangstellend in haar baba-taal tewryl sy met ‘n klein, vuil vingertjie na die boksie op Ouma se skoot beduie…en terwyl ek (die enigste tolk tydens hierdie trippie) my woorde versigtig probeer kies, sê Sussie verontwaardig en baie duidelik:  “Dis ons Pappa.  Hy is dood.” In geskokte stilte dink ek…Salomo was darem ‘n wyse man…uit die mond van die Suigling kom die Waarheid…hard, helder…en duidelik…en Kleinsus aanvaar die verduideliking gelate, sonder om ‘n oog te knip…(moet ons nie dalk die land se sake ook vir die kleintjies los nie…wonder ek droogweg…)

Ouma gee die teken dat ons maar verder kan gaan…en ek lei haar met ‘n paadjie (wat ek weet tot by ‘n pragtige koppie kronkel) langs…maar toe sy op die bordjie lees dat dit ‘n hele 1792 meter verder is, vra sy of ons maar die seremonie net daar kan afhandel. Ek het benoud rondgekyk, maar daar was geen pragtige blomme of bome meer om ons om my uit my dilemma te help nie.  Ek het haar toe maar van die voetpad afgehelp tussen die droeë Karoo-bossies in (en gestop toe ek ‘n klein Kannie-Dood vetplantjie sien…dis simbolies genoeg vir my…Let it Go….Let it Gooooo…)  Ek het die klein kissie oopgeskroef en die deurskynende plastiek- sakkie oopgeskeur en die kleintjies het belangstellend daar ingeloer.  Ek wou nie hê hulle moes gril nie, en probeer maar toe die mooi-heid daarvan uitwys…“Kyk julle, dit lyk soos die stukkende skulpies wat ons by die see gesien het..” maar teen die tyd het Skoonma genoeg van my natuur-les gehad en het sy ‘n hand daarvan opgeraap en oor die bos voor haar gegooi. Voor ek tot my sinne kon kom, het Sussie (immer die hulpvaardige een, ook ‘n hand geneem…met Kleinsus, wat altyd so bang is sy mis uit, kort op haar hakke…) Ek het in afgryse (soos mens soms in daai aksie-movies sien hoe tyd vinnger en stadiger voor jou afspeel…) gesien hoe die boksie in my hand leeg word…Hoe die wind hul Pa se as skep…en soos meel oor hul koppies-klere-sandale sif…en hoe Ouma omdraai en wegloop…Uit die hoek van my oog het ek ‘n groterige stukkie been sien hang (My geliefde hang aan die Bitter-Bessie-Bos?) en dit vinnig afgeskud grond toe…

“Wil Ma nie die boksie hê nie?” het ek geroep terwyl ek afkyk na die mooi uitgekerfde houtboksie (SI BURGER 1973-2016) en agter haar aandraf (sy was duidelik nou baie haastig) Sy het dit van die hand gewys (was sy dalk vies vir my?) terwyl sy en Kleinsus met hernude energie verby die waterlelies drafstap…Skielik het ek  besef dat Sussie darem nou baie stil geword het…en waar is sy?

Ek het omgedraai…en was stomgeslaan toe ek sien waarmee sy besig was…

Soos Hansie se Grietjie…was sy besig om die kronkel-paadjie te versier…vanaf die as-bos tot by die kar…was daar duidelike, groot kruise getrek…meters ver in die stof…

En ek het in stilte verstaan waarom haar pa haar altyd so jammer gekry het as hy sê: “Sy is ‘n baie sensitiewe siel…en gaan nog baie seer kry… “