You are browsing the archive for 2017 November.

Profile photo of maraja

by maraja

Om te Knoop of te Doop…

November 16, 2017 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

Om te Knoop of te Doop…

“Mamma gaan al jou hare afknip…” dreig ek soggens as Sussie huil terwyl ek die woeste Kroon op haar koppie probeer tem…en dit issie net omdat ek ‘n ongeduldige ma probeer wees nie…no ways…Dit tele-transport my na die laat sewentiger jare…met my eie Rapunzel-hare tot oppi boude…en Ma wat ure sit en hare uitkam…en kougom-koeke probeer ontknoop…en ek wat huil en en en…dis ‘n aaklige besigheid…en ek kannie glo dat ek nou op my oudag die rede moet wees vir ‘n klein dogtertjie se trane-met-hare nie…My eie soet Rapunzel-revenge het eers op die rype ouderdom van 20 gekom…toe ek my lang vlegsel afgeskeer en vir my ma gegee het…

Dit gee my steeds oneindige omkrul-tone-plesier om soggens so tussen ‘n mond vol Aquafresh-skuim, die skêr te gryp, en ‘n weerbarstige Saartjie Bauman-krul te wys wies baas van hierdie hare-plaas…

Want wat is nou erger as los toue in ‘n mens se lewe?  Dis soos om perd te ry sonder enige tou ini hand…die blerrie-merrie-perd galop sommer die veld in…met jou…slegs as passasier…So lê ek een aand langs my oorle man in die bed…en gaan aan oor dit…en dat…en nogmaals dat…Hy het gevra hoekom ek so uptight is oor als…en ek het hom verontwaardig geantwoord:  “Al hierdie los toue wat so hang in die lug…is besig om my senuwees te knaag my skat…”  Hy het sommer net daar uit die bed gespring en die kabel van die DSTV in die solder gaan oprol…(een toutjie minder op my lysie…)

Het jy al gehoor dat van uitstel… afstel kom? En stel ons nie so graag onplesierighede uit vir later nie?  Om iemand te konfronteer oor ‘n slegte aangeleentheid…om jou bankbalans en bankier vierkantig in die oë te gaan kyk…of om vir iemand askies te sê…Tog is dit so bevrydend…en die slimstes onder ons het ‘n term daarvoor…delayed gratification…met ander woorde…hou die lekkerte vir laaste…

Toue het al baie drenkelinge se lewens gered…maar o genade…moenie my vra om vir jou ‘n knoop te ontknoop nie…dis pure hel op aarde…en wie ken nie die sielsdodende gevoel van ‘n verkeers-knoop nie…dit voel soos die highway-to-hell…met die uurglas van jou lewe wat jy in jou geestes-oog op die dashboard sien sit…elke korrel sand…verspil op die tarmac van jou eie sell-by-date

Maar wag…laat ek jou vertel van die twee ou seemans-geknoopte toue om my enkels…Soos ‘n groot, ou seilskip van ouds…het ek twee ankers…en al is hulle maar nog klein en lig ini broek…hou my bol-seile koers…want my kompas is gestel op hul toekoms…ver annerkant die horison waar die son sak saans…Snags, as ek luister na hul sagte klein-dogtertjie slaap geluide…kyk ek op na Orion se belt…want ek weet hul Vader hou ook ‘n wakende oog oor hul slapende lyfies…en dis dan wat ek waarlik geknoop en gedoop voel in hul/my liefde vir my/hul…