Profile photo of maraja

by

‘n Brawe Kartograaf…

October 29, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

‘n Brawe Kartograaf…

Ek lees noudie dag dat (volgens ‘n ene Scott M Peck) ons almal as klein kindertjies ‘n kaart van die Lewe teken…Ek kan my voorstel dat hierdie kaart soos die een van ons eie wêreld is…soos die Verenigde Nasies dui ons op ons eie kaarte aan waar onlangs oorloë plaasgevind het…watter nasies met agterdog bejeen moet word…waarheen ons met gemak kan reis…waar gevaarlike, verspuwende berge geleë is…of waar tsunami’s al voorgekom het. Het jy geweet dat pirates nie net in Disneyland aangetref word nie, maar ook langs die kus van Afrika?

Die probleme van die Lewe bekruip ons egter hier teen die teenager stadium wanneer ons kaarte begin verouder…en ons ons kaarte oor moet begin teken…Grense tussen lande word verskuif, nuwe unies word gestig…ou kolonies verdwyn…presidente kom…en gaan…en ons, die ewige reisigers van die Lewe moet seker maak dat ons Visa’s en Paspoorte op datum is…

Slim wysneuse (wat jare lank in die sielkunde studeer het) noem hierdie verskynsel “transference”…en dit beteken dat ons die kaart wat ons kleintyd geteken het…toepas op ons huidige situasies….bv “mense kannie vertrou word nie” of “ek is alleen in hierdie grootmens wêreld” en “ek is lelik, niemand hou van my nie”…

Min mense is volgens Peck se Road Less Travelled…braaf genoeg om hul kaarte te her-teken…dit is glo ‘n konstante gedoente…Kan jy jou voorstel…om daagliks jou opgevoude kaart uit jou handsak te haal en gou tydens lunch, tussen tee en ‘n koue ham toebroodjie, jou groot wit uitveër (ook altyd byderhand en onderin jou handsak) te neem en so-en-so se naam van jou kaart uit te vee (want julle het ‘n onderonsie by die fotostaat masjien gehad om 10 vanoggend) amper soos die unfriend knoppie op Facebook…”Mamma…Ida wil nie meer my maaikie wees nie…” huil Sussie vanoggend toe ek gou gaan koffie drink by Buurvrou…Halfpad in die rede geval…het ek geirriteerd vir Sussie beveel om onmiddelik weer te gaan “maaikies maak”…’n groot sluk van my koue koppie koffie gevat…en my storie met Ida se ma hervat…

Maar wat is nou eintlik die punt van hierdie storie? Die punt is dat daar een konstant van die Lewe is…dat die Lewe nie konstant is nie…Net noudie dag was ek ‘n bruid in wit…toe word ek “Mamma” in maternity wear…en toe weer ‘n weduwee in swart…goeie genade…alles binne die bestek van vyf jaar…hoeveel uitveërs kan mens opgebruik? Ek onthou ook nog goed hoe die stil NG Kerk dominee ons vier kinders om my ma se groot etenstafel laat sit het (pas nadat my pa gesterf het) en ons vertel het dat ons nou ‘n nuwe identiteit het…”Pa-loos”…en eendag in die toekoms sal ons dit weer moet doen as ouer-lose “wees-kinders”…want dit is die Lewe…soos brawe Kartograwe…moet ons nooit bang wees om ons kaarte te herrangskik…of selfs oor te teken nie.  Ons almal weet hoe erg dit is om met ‘n foutiewe kaart of verkeerde aanwysings oor die telefoon na ’n belangrike baken te soek….was dit nou links…of regs…?

Ons weet elke pirate van ouds het ‘n kaart in sy broeksak gedra…van ‘n magical skatkis ( begrawe, êrens op ‘n baie geheime plek..) maar dat dit nooit regtig bestaan het nie…

Tog is dit die soeke en hoop na ‘n volledige verwysingsraamwerkende Kaart van jou eie lewe (nes die pot goud aan die einde van die reënboog) wat vir jou geluk en gemoedsrus sal bring…

Is dit nie die ware skat van die Lewe nie?

2 responses to ‘n Brawe Kartograaf…

  1. lekker gelees! Dis maar bra stil hier…’n Paar jaar gelede het Litnet se blogs gegons!

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *