You are browsing the archive for 2017 October.

Profile photo of maraja

by maraja

‘n Brawe Kartograaf…

October 29, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

‘n Brawe Kartograaf…

Ek lees noudie dag dat (volgens ‘n ene Scott M Peck) ons almal as klein kindertjies ‘n kaart van die Lewe teken…Ek kan my voorstel dat hierdie kaart soos die een van ons eie wêreld is…soos die Verenigde Nasies dui ons op ons eie kaarte aan waar onlangs oorloë plaasgevind het…watter nasies met agterdog bejeen moet word…waarheen ons met gemak kan reis…waar gevaarlike, verspuwende berge geleë is…of waar tsunami’s al voorgekom het. Het jy geweet dat pirates nie net in Disneyland aangetref word nie, maar ook langs die kus van Afrika?

Die probleme van die Lewe bekruip ons egter hier teen die teenager stadium wanneer ons kaarte begin verouder…en ons ons kaarte oor moet begin teken…Grense tussen lande word verskuif, nuwe unies word gestig…ou kolonies verdwyn…presidente kom…en gaan…en ons, die ewige reisigers van die Lewe moet seker maak dat ons Visa’s en Paspoorte op datum is…

Slim wysneuse (wat jare lank in die sielkunde studeer het) noem hierdie verskynsel “transference”…en dit beteken dat ons die kaart wat ons kleintyd geteken het…toepas op ons huidige situasies….bv “mense kannie vertrou word nie” of “ek is alleen in hierdie grootmens wêreld” en “ek is lelik, niemand hou van my nie”…

Min mense is volgens Peck se Road Less Travelled…braaf genoeg om hul kaarte te her-teken…dit is glo ‘n konstante gedoente…Kan jy jou voorstel…om daagliks jou opgevoude kaart uit jou handsak te haal en gou tydens lunch, tussen tee en ‘n koue ham toebroodjie, jou groot wit uitveër (ook altyd byderhand en onderin jou handsak) te neem en so-en-so se naam van jou kaart uit te vee (want julle het ‘n onderonsie by die fotostaat masjien gehad om 10 vanoggend) amper soos die unfriend knoppie op Facebook…”Mamma…Ida wil nie meer my maaikie wees nie…” huil Sussie vanoggend toe ek gou gaan koffie drink by Buurvrou…Halfpad in die rede geval…het ek geirriteerd vir Sussie beveel om onmiddelik weer te gaan “maaikies maak”…’n groot sluk van my koue koppie koffie gevat…en my storie met Ida se ma hervat…

Maar wat is nou eintlik die punt van hierdie storie? Die punt is dat daar een konstant van die Lewe is…dat die Lewe nie konstant is nie…Net noudie dag was ek ‘n bruid in wit…toe word ek “Mamma” in maternity wear…en toe weer ‘n weduwee in swart…goeie genade…alles binne die bestek van vyf jaar…hoeveel uitveërs kan mens opgebruik? Ek onthou ook nog goed hoe die stil NG Kerk dominee ons vier kinders om my ma se groot etenstafel laat sit het (pas nadat my pa gesterf het) en ons vertel het dat ons nou ‘n nuwe identiteit het…”Pa-loos”…en eendag in die toekoms sal ons dit weer moet doen as ouer-lose “wees-kinders”…want dit is die Lewe…soos brawe Kartograwe…moet ons nooit bang wees om ons kaarte te herrangskik…of selfs oor te teken nie.  Ons almal weet hoe erg dit is om met ‘n foutiewe kaart of verkeerde aanwysings oor die telefoon na ’n belangrike baken te soek….was dit nou links…of regs…?

Ons weet elke pirate van ouds het ‘n kaart in sy broeksak gedra…van ‘n magical skatkis ( begrawe, êrens op ‘n baie geheime plek..) maar dat dit nooit regtig bestaan het nie…

Tog is dit die soeke en hoop na ‘n volledige verwysingsraamwerkende Kaart van jou eie lewe (nes die pot goud aan die einde van die reënboog) wat vir jou geluk en gemoedsrus sal bring…

Is dit nie die ware skat van die Lewe nie?

Profile photo of maraja

by maraja

‘n Kas vol Vriende…

October 12, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

‘n Kas vol Vriende….

Het jy geweet dat daar sekere celebrities is wat miljoene vriende op social media het?  Ek wonder of hulle werklik geliefd voel deur al hierdie vreemdelinge…or are they weighed down….deur die feit dat dit slegs ‘n virtuele vriendskap is?  Een van my favourite rock sterre het so drie maande gelede homself opgehang…en ek wonder of ook een van sy vriende (wat genoeg van al sy issues gehad het) gese het…”Gee hom net genoeg tou…” want dis wat ek ook noudie dag gese het…want vriende kan mens soms grensloos irriteer, maar miskien het mens net dalk ‘n break van hulle nodig?

Ek onthou nog goed die bloedstollende gil…en vreeslike geween (so twee jaar gelede) toe ek vir Sussie en Kleinsus in die bad gelaat het (miskien ‘n titsel te lank…) om die vreugde van bubbles te ontdek (Wat is dan lekkerder en meer ontspanne as ‘n borrelbad na ‘n lang dag by die werk?) Uitasem gehardloop, moes ek letterlik snak na my asem toe my baba haar vet armpie na my oplig en die evidence van tandemerke beskuldigend na my uithou…wat de hel?  Die tweetjies was duidelik moeg vir mekaar se geselskap…en Sussie het verduidelik (ook nou deur trane van moegheid) dat Kleinsus nie vir haar wou luister nie…Ek was self uitgemergel van ‘n laaaaaang stressvolle dag, dat ek toe maar tot hulle vlak daal en vir Sussie aan die arm beetkry…en byt.  Maar ek het vergeet dat ek ‘n ou skaap-ooi is met stomp tande daarby…en dit was vir die twee so snaaks dat hulle uitgebars het van die lag…(Mamma…die gevalle heldin…)

Sou dit nie wonderlik wees as ons sekere onderonsies (soos honde) kon vermy deur net ons tande vir mekaar te kon flits nie?  Maar wat doen ons?  Ons kruip braaf weg agter ‘n bree wit glimlag…terwyl ons huil na binne-toe…gewond deur woorde…gewoonlik van die vriende…naaste aan ons…

Ek het al gevind (soos weereens die afgelope week) dat jy soms staatmaker vriende vind in die moeilikste situasies…en gewoonlik op die mees onwaarskynlikste plekke… Hulle help jou met ‘n smile…Niks is vir hulle te veel moeite nie…en hulle verwag niks behalwe nog ‘n geleentheid om jou by te staan nie… Sal jy nie graag op die slagveld wou bygestaan word deur so ‘n makker aan jou sy nie?  Die probleem is…hulle bemarking is nie wat waffers nie, en jy kan hulle ook nie koop op ‘n Red-Hanger-Sale nie…Hulle dra nie enige Sherriff-badges nie…en het geen neon haloes wat hul hoofde in ‘n heilge lig omring nie.  Hoe vind mens hulle?  Ek vermoed…jy moet ongelukkig deur diep waters swem…

Ek het onlangs ‘n ou vriendskap be-eindig… Dit was baie swaar…en baie moeilik, maar ook nodig vir selfbehoud.  ‘n Wyse vriend het jare gelede vir my gese dat jy ‘n kas vol vriende het…en soms is dit nodig om die kas skoon te maak en die rakke af te stof… Hoe anders kan jy plek maak vir nuwe vriende?

Sussie kla vanoggend dat Kleinsus nie meer haar maatjie wil wees nie.  Ek het probeer verduidelik dat sy familie is…en daarom nie ‘n keuse het om Sussie se “maatjie” te wees nie…en al byt hulle mekaar nog so af en toe (Kleinsus het al geleer om haarself te verdedig met grom geluide en skerp tandjies wys…) hoop ek heimlik hulle baklei nie ‘n leeftyd soos ouma en haar sussie nie…want om so ‘n vuurhert aan die gang te hou…kos baie kole en baie trane…

‘n Vriendskapskas

Ons stal so trots uit:

gewaarwordinge

in blompotte

van glas…maar

Ons bly in ou kasarms

waar

stofbelaaide rakke

kreun

onder

vergete tyd…

en waar kaste

teesinnig beur

teen

die Oorbodige…

 

(M.Badenhorst-Burger)