You are browsing the archive for 2017 September.

Profile photo of maraja

by maraja

Erfgoed…is Swerfgoed…

September 26, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Erfgoed…is Swerfgoed…

“Vir iemand wat in ‘n Museum grootgeword het…het jy darem baie min respek vir Antieke goed….”  was my ma se harde woorde aan my so ‘n paar jaar gelede…terwyl ek benoud na haar gordyne geloer het…want ek en my man het sopas daardie afgelope winter al haar pelmits verwerk tot kaggelhout…(dit was ‘n baie koue winter ok?)  Die ou linoleum op die kombuisvloer het ons (koerantpapier en al) uitgeruk en met pragtige Spaanse teels vervang, die kombuis zink is vervang met ‘n pragtige werksbank (van Build IT) met gesonke dubbelwasbak en die mure is ligblou geverf soos Jamie Oliver s’n…My droom kombuis…maar my ma se huis… My ma was so kwaad vir my…sy het net daarna die dorp verlaat en die ou Art Deco huis in die mark gesit… en ek is my erfporsie kwyt…

Ek lees die afgelope week van 5 kleindogters wat baklei (in die groot howe in die Kaap) teen hul oupa-grootjie se testament wat bepaal dat geen vroulike erfgenaam ooit enige van sy plase in die Oudtshoorn distrik sal erf nie…Nou ja…die mansmense het uitgesterf…en nou is die vroumense kwaad oor die onregverdige Test(ikel)ment wat laaank gelede opgestel is voordat enige vrou in die wereld gedroom het van ‘n kruisie by die stembus trek…

My pa was ook lief om ons daaraan te herinner dat ons nooit enigiets van hom gaan erf as ons nie na hom wou luister nie… Ek het nie mooi die implikasies daarvan verstaan nie…maar het in my hart geweet dis ‘n ernstige dreigement…amper soos :  “Vanaand gaan jy sonder kos bed toe..”  en al het ek niks van hom ge-erf nie, het ek elke aand in ‘n warm bed met ‘n vol magie gele…teddiebeer onder die arm… My pa is al meer as 10 jaar gelede oorlede…en al het my broers vandag nog moordkuile in hul harte oor die feit dat hulle toe net mooi niks ge-erf het nie (seker omdat hulle daagliks in hul spore moes trap) kan ek duidelik my pa se erfenis in hulle sien…Die jongste lyk nes my pa…die middelste een sit altyd met sy neus in ‘n boek (by my pa se lessenaar)…en die oudste..wel…is net so inhalig soos my pa (…Shilock the Jew…).  En ek?  Ek kry seker my kunsstreep van my Pa se familie…want hulle is glo ‘n eksentrieke spul…

Vandag was Erfenisdag in Suid-Afrika…en al het ons Boere dit herdoop tot Nasionale Braaidag (seker maar uit verleentheid oor ons Afrikaner Nasionalistiese verlede…) was braaivleis nog nooit groot gewees in my weird familie nie…

So wat is my Erfenis dan anders as wat ek van my voorsate ge-erf het?  Vergeet van materialistiese, aardse goed…want sien ek het eenmaal ‘n bietjie geld ge-erf by my pa se broer toe hy die die familieplaas in die Colesberg-distrik vir baie geld verkoop het…maar wat het ek met die geld gedoen?  Niks gewoond nie…het ek ‘n groot kleur TV gaan koop (ek het met ‘n swart-en-wit TV grootgeword) by Game…wat seker net 6 maande gehou het…siestog…

Ek moet darem bieg…die splinternuwe Samsung, rooi Golf en flatscreen TV wat ek laasjaar by my man ge-erf het tydens sy ontydige dood…is baie handig, maar al het ek nie miljoene rande van ‘n Outsurance Lewenspolis ontvang nie…kyk ek elke dag vas in die nalatenskap wat hy vir my agtergelaat het in sy twee pragtige dogtertjies…Wat meer kan ek vra?

Ek het laasweek vir een van my geliefde matriek-leerlinge gese (want ons tyd vir koebaai-Meraai kruip nou vinnig nader)…”Ek se nooit tot siens nie…”  Sy het met blink oe na my, haar geliefde mentor, gekyk…en ek het verder verduidelik…”Ek sal altyd ‘n deel van jou geskiedenis wees…en die kwaliteit tyd wat ons oor die jare saam spandeer het…is my erfenis aan jou…”

Maar dit bring ons terug by my ma…wat baie trots is op die feit (en sy herinner my gereeld daaraan) dat ek al haar aardse goed eendag gaan erf…Nie omdat ek die voorbeeldigste kind in die huis was nie….maar bloot omdat ek die jongste is…en minste het…siestog…Dit laat my egter ook baie benoud voel, want gaan ons aardse reis nie juis daaroor om ons los te maak van alles…selfs dierbares en geliefdes nie?

Ek weet ek sal nooit eendag aardse skatte vir my twee dogtertjies kan agterlaat nie…maar hopelik sal my nalatenskap van stories en prentjies hul oneindig trots maak op die feit dat hulle volgens James Hillman se teorie gekies het om twee akkertjies van hierdie ou Eikeboom te kon wees…

 

 

 

 

 

 

Profile photo of maraja

by maraja

Tussen die Boom en die Bas…

September 15, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Tussen die Boom en die Bas…

Min van my vriende (of selfs familie) weet dat my familie-wapen ‘n groot groen Appel-boom as embleem op het…en wie gee nou juis om?  Maar tog is dit vir my so mooi…en so simbolies…nes die pragtige Tamarisk wat ek vanoggend langs die pad sien blom het.  Wie almal weet dat koning Dawid sy boesemvriend onder ‘n Tamarisk ter ruste gele het?  Dit is ‘n outydse boom en ‘n mens sien hulle selde…en ek vermoed dat hulle slegs geplant word as iemand aan Jonathan dink…

My ma het kleintyd vir my vertel toe sy die slag 3 klein Sipresse langs ons huis geplant het…”Mamma plant hulle vir Geloof, Hoop en Liefde…”  Toe die sipresluise die een laat vrek, het Ma gese dis no. 3…want die liefde tussen haar en Pa het glo ook een-of-ander siekte onderlede gehad…maar daarvan het ek min verstaan…

Vriendin Nina vertel gereeld vir my dat so-en-so noualweer vanwee die bome…nie die bos raakgesien het nie….Kan ‘n mens dan nou regtig so blind wees?  Ek ry elke liewe oggend verby ‘n slagveld van ‘n ou Bloekombos…met net ‘n enkele boom hier en daar wat verbete veg teen die vergetelheid…Dit lyk asof die Eerste Wereldoorlog sopas daar ge-eindig het…maar ek kan regtig nie vir jou se wie nou juis gewen… of wie verloor het nie…want daar waar die groot skaduryke bome eers gestaan het…is dit dor…en kan die bome regtig die blaam dra vir ons selfsugtige vermorsing van water?

Op skool het ek reeds bome begin teken…Mooi wintersbome…met hul slapende arms wat uitreik na die hemele….en laasjaar was ek obsessed met dooie bome, afgekapte bome of bome uit proporsie gesnoei…want dit was wat my siel gevoel het….’n groot tak van my familieboom was ewe skielik stomp afgekap…my man was dood…en dit was geen sipresluis of ‘n gebrek aan liefde nie…

Maar soos Martin Luther King glo eenmaal gese het :  “Selfs al weet ek die wereld sal more vergaan…sal ek steeds my Appelboom plant…” glo ek ook aan bome plant…en hou ek baie van bome met pragtige name (soos die Papier-bas-boom of die Koors-boom) of bome met blom/vrug verrassings.  Het jy al ooit gesien hoe mooi lyk ‘n Peerboom in blom…of die donkergroenblink blare van ‘n Suurlemoenboom tussen jou vingers geruik?

Iemand het my eenmaal vertel dat sekere bome (die Kremetart) selfs ‘n bees of twee kan doodval…sommer netso…in ‘n oogwink.  Geen stadige gekantel sywaarts nie…soos die Twin-Towers implode hy…kadoef.  Boom en bees….katswink.  Garingbome sterf ook baie dramaties.  Dit word glo plusminus 10 jaar oud…maak dan die pragtigste kersbome vir ons…en sterf…met ‘n hele rits klein boompies wat groei om die graf van die moederboom.  Eintlik baie slim, want wie kan nou grootword in die skaduwee van ‘n groot boom?  Ek het ‘n hele paar vriende wat die kinders is van famous mense…en hulle groei gebukkend in hul ouers se skaduwees…

Gepraat van kinders…Sussie vra vir die soveelste maal vanoggend wanneer sy dan die nuwe Frozen Lego gaan kry…raadop antwoord ek haar : “Dink jy geld groei op Mamma se rug?”

Sy het belangstellend na my rug gestaar en verwonderd gevra : “Soos blaartjies aan ‘n boom Mamma?”  Ek het laggend geantwoord : “I wish baby….I wish…” en gedink…

Hierdie appeltjie het definitief nie te ver van die boom geval nie…