Profile photo of maraja

by

Werp jou Brood op die Water…

August 31, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Werp jou Brood op die Water…

Het jy geweet dat brood sonde kan wees?  Ek weet ek mag nie eintlik brood eet nie, want dis die gouste wat my jean net nie meer lekker sit nie….maar dis darem deksels lekker….

Lank gelede… het ek as klein dogtertjie met groot verwagting uitgesien na my tiener boeties wat hongermoeg van die skool af kom…want dit het gewoonlik twee dik snye bruin brood met peanut butter en ma se tuisgemaakte appelkoos jem beteken…en natuurlik ‘n groot beker soet koffie.  Ek en my boeties eet nie meer brood saam nie…al het my pa gesweer ons Badenhorste het almal broodvormige koppe…en ek mis dit…

Ek lees noudie dag dit het vir veertig jaar lank brood (manna) gereen in die Woestyn…en dat God so vir sy geliefde volk (die Israeliete) gesorg het….Hy moes baie baie lief vir daai klomp Jode gewees het…dink jy nie?

Wit brood was Groot Sonde in ons huis toe ek klein was….ma het gesukkel met ‘n lui dikderm sien…en ons moes almal daarvoor betaal.  Groot was my sonde toe ek dus my eie brood kon begin koop….en glinsterwit elke sny op sny…As student kon ek die ongelooflikste kombinasies stellasies uitdink…ek  het op ‘n stadium selfs drome gekoester van my eie sandwich shop erens in ‘n stad….tot ek so ses maande gelede ‘n meisie raakloop met ‘n groot cooler box op ‘n warm somersmiddag op ‘n sypaadjie erens op die platteland wat toebroodjies verkoop….Dankie tog eks nie meer twintig nie…..

Maar dit bring ons terug by my eie brood…wat ek op ‘n stadium ook baie graag self wou knie en bak….onder leiding van die Naked Chef….wat dit altyd so maklik op TV laat lyk het…Ek het dit een jaar sommer ook my nuwejaarsvoorneme gemaak :  “Hierdie jaar gaan ek leer brood bak…watch this space…” Maar nes ek met hoehakskoene moes uitvind ek het nie die enkels daarvoor nie…moes ek ook die tuig neerle as Kokkedoor Broodbakster….swak polse sien… “This Breadshop is closed”…Toe hoor ek van speeldeeg…soos speelklei… Ek koop steeds so af en toe ‘n sakkie opgeblaasde deeg by Shoprite…om dit te sien uitrys in my oond…want niks kom by daai eerste warm korsie met net botter op nie…en jy vra nie eens ‘n mede huisbewoner of hulle dit met jou wil deel nie…want jy weet alklaar wat die antwoord is….en wie wil dit nou hoor?  Gelukkig is Sussie ‘n Sasko Sam girl…en gril nog vir mamma se skewe brode en oneweredige dik snye brood…maar wag…

Iets besonders het vandag met my gebeur….Dit was net na pouse…en terwyl ek die klaskamer instap…keer ‘n kind my voor en skeur versigtig haar wit toebroodjie (met rooi trein-smash) in twee sodat ek die helfte kon eet.  Ek was beslis nie honger nie en weet dat hierdie meisiekind gewoonlik pouses kos bedel by ander kinders.  Onkant gevang, wou ek dit eers van die hand wys, maar sien toe hoe trots sy die helfte van haar maal met die grootste verwagting na my uithou…en terwyl ons die heilsaamste tuisgebakte brood (wat sy self geknie en uitgerys het) nuttig… met rooi jem om ons mondhoeke…het ek gewonder by myself…

Hoekom voel dit soos Nagmaal…helder oordag…in ‘n klaskamer vol kinders?

 

2 responses to Werp jou Brood op die Water…

  1. Weer eens pragtig geskryf Maraja

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *