You are browsing the archive for 2017 August.

Profile photo of maraja

by maraja

Werp jou Brood op die Water…

August 31, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Werp jou Brood op die Water…

Het jy geweet dat brood sonde kan wees?  Ek weet ek mag nie eintlik brood eet nie, want dis die gouste wat my jean net nie meer lekker sit nie….maar dis darem deksels lekker….

Lank gelede… het ek as klein dogtertjie met groot verwagting uitgesien na my tiener boeties wat hongermoeg van die skool af kom…want dit het gewoonlik twee dik snye bruin brood met peanut butter en ma se tuisgemaakte appelkoos jem beteken…en natuurlik ‘n groot beker soet koffie.  Ek en my boeties eet nie meer brood saam nie…al het my pa gesweer ons Badenhorste het almal broodvormige koppe…en ek mis dit…

Ek lees noudie dag dit het vir veertig jaar lank brood (manna) gereen in die Woestyn…en dat God so vir sy geliefde volk (die Israeliete) gesorg het….Hy moes baie baie lief vir daai klomp Jode gewees het…dink jy nie?

Wit brood was Groot Sonde in ons huis toe ek klein was….ma het gesukkel met ‘n lui dikderm sien…en ons moes almal daarvoor betaal.  Groot was my sonde toe ek dus my eie brood kon begin koop….en glinsterwit elke sny op sny…As student kon ek die ongelooflikste kombinasies stellasies uitdink…ek  het op ‘n stadium selfs drome gekoester van my eie sandwich shop erens in ‘n stad….tot ek so ses maande gelede ‘n meisie raakloop met ‘n groot cooler box op ‘n warm somersmiddag op ‘n sypaadjie erens op die platteland wat toebroodjies verkoop….Dankie tog eks nie meer twintig nie…..

Maar dit bring ons terug by my eie brood…wat ek op ‘n stadium ook baie graag self wou knie en bak….onder leiding van die Naked Chef….wat dit altyd so maklik op TV laat lyk het…Ek het dit een jaar sommer ook my nuwejaarsvoorneme gemaak :  “Hierdie jaar gaan ek leer brood bak…watch this space…” Maar nes ek met hoehakskoene moes uitvind ek het nie die enkels daarvoor nie…moes ek ook die tuig neerle as Kokkedoor Broodbakster….swak polse sien… “This Breadshop is closed”…Toe hoor ek van speeldeeg…soos speelklei… Ek koop steeds so af en toe ‘n sakkie opgeblaasde deeg by Shoprite…om dit te sien uitrys in my oond…want niks kom by daai eerste warm korsie met net botter op nie…en jy vra nie eens ‘n mede huisbewoner of hulle dit met jou wil deel nie…want jy weet alklaar wat die antwoord is….en wie wil dit nou hoor?  Gelukkig is Sussie ‘n Sasko Sam girl…en gril nog vir mamma se skewe brode en oneweredige dik snye brood…maar wag…

Iets besonders het vandag met my gebeur….Dit was net na pouse…en terwyl ek die klaskamer instap…keer ‘n kind my voor en skeur versigtig haar wit toebroodjie (met rooi trein-smash) in twee sodat ek die helfte kon eet.  Ek was beslis nie honger nie en weet dat hierdie meisiekind gewoonlik pouses kos bedel by ander kinders.  Onkant gevang, wou ek dit eers van die hand wys, maar sien toe hoe trots sy die helfte van haar maal met die grootste verwagting na my uithou…en terwyl ons die heilsaamste tuisgebakte brood (wat sy self geknie en uitgerys het) nuttig… met rooi jem om ons mondhoeke…het ek gewonder by myself…

Hoekom voel dit soos Nagmaal…helder oordag…in ‘n klaskamer vol kinders?

 

Profile photo of maraja

by maraja

Heldin uit die Vreemde…

August 9, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Heldin uit die Vreemde….

Dit het laasnaweek gesneeu buite die dorp….. Saterdagnag (to be specific) en die hele dorp het na kerk opgepiekel die berge in om sneeu-balle te gaan rol…Die opwinding was kristal-helder in die lug soos ons mede padgebruikers tee gekom het (oppad terug dorp toe) met sneeumanne op hul bonnets…en Sussie het klein gilletjies van plesier gegee soos ons die steiltes uitklim…want sy was doodseker ons was oppad na die Yspaleis van Queen Elsa…want wie anders kan sneeu fabriseer as sy hhmmm? Vir Kleinsus was die afwagting net een te veel en het sy halfpad die berg op…haar brekfis gerecycle…en terwyl ek so in die bestuur haar gesiggie skoonvee…hou my een oog die petrol gauge dop wat gevaarlik duskant die rooi kuier…en soos ekself ‘n naar kol van benoudheid ontwikkel sien ek twee kontrasterende heldinne skielik voor my geestesoog…

Eerstens is daar Sussie se idol….die Noorweegse koningin uit die movie Frozen…wat almal en alles om haar in ysblokkies verander as sy upset is….maar meer as dit…is sy Sussie se Groot Heldin…en die res is onbelangrik…Mamma word elke oggend aangese om haar soos Elsa te dress…en mag selfs ‘n borsel naby haar krulkop bring…no pain…no gain…want haar mooi kort krulkoppie moet nou in ‘n oogwink ook soos Elsa s’n lyk…Wat ‘n frustrasie…en ‘n tranedal…Wie gee hierdie gemene Ice Queen die reg om my klein dogtertjie ‘n selfbeeld probleem te gee op die ouderdom van 5?

En soos ons deur die sneeu-landskap vaar…vertel ek haar van Mamma se kindertyd heldin….liewe Rageltjie de Beer…Heldin op eie bodem…wat tydens een v(r)ieslike kappoknag glo haar lewe opgeoffer het vir haar klein boetie deur ‘n miershoop vir hom uit te hol…Sy red sy lewe…en as ons Katolieke was, sou die Pous haar seker herdoop het na Saint Rachel…virewig in ons harte vas ge-freezer-burn…Wat het jy miskien gedoen, sir David Beckham?

Want …vandag is Nasionale Vrouedag…maar wat beteken dit nou eintlik?  Is ons nie almal heldinne in ons daaglikse struggles nie?  Net soos ek my geboortedag elke dag van die jaar vier (..when I feel like it…) behoort ons as vroue elke dag te celabrate…die feit dat jy ‘n vrou is maak van jou ‘n unieke heldin…Ons gee geboorte aan die volk…ons pamperlang die mans in ons lewens…ons voed en versorg ons geliefdes (twee en vier potiges) en ons maak opofferings sonder om twee maal te dink….en om iets terug te verwag…

Twee jaar gelede het ek op my eie, met twee siek baba’s, alleen in my rooi motortjie 2000 km Noorde toe gery…Dit was voorwaar ‘n tog-en-‘n-half….but I did it….al het dit my 7 dae geneem (nie by die Silbersteins nie)…Al die vrouens (van Mpumalanga tot Limpopo) het my groot-oog en vol verwondering geluk gewens…en gebieg hulle sou nooit ooit so iets aanpak nie….Ek het gelag en hul meegedeel dat hul ouma’s (wat dit bytheway baie swaarder as hulle gehad het in hul gemaksugtige en luukse aircon 4 x 4’s) darem uiters teleurgesteld sou wees in hul bang kleindogters se kleingelowigheid…Imagine net…om agter op ‘n ossewa met siek kleintjies die Onbekende te trotseer (met vreemde siektes en vreemde kulture) Hulle was voorwaar yster mamma’s….(wat ook glo baie sekuur met ‘n Sanna kon skiet…)

Ek het in st. 7 op ‘n Koor toer na Pretoria ‘n baie mooi quote op die Strydomplein langs die Staats Teater gesien…Ek het lank voor die muur gestaan en terwyl my maatjies rondgehardloop het met chips-en-coke…het ek dit gememoriseer…

“….en as jou Vryheidsdag…eens oor jou velde lag….Weet wie te danke is…eer hul nagedagtenis….”       (Jan F Cilliers)