You are browsing the archive for 2017 July.

Profile photo of maraja

by maraja

Die Vrees van die Vlees…

July 15, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie… 

Die Vrees van die Vlees….

“Dogters….moenie Glo nie….Vrees net…” het dr. Burger elke liewe Sondag vanaf die preekstoel in die Klipkerk van Bloemfontein na ons toe toe afgebulder…waar ons…jonge maagde van die Christelike en Nasionale Meisieskool Oranje…groot-oog na hom opgestaar het…Hy het natuurlik na die Grey-seuns verwys, maar ek het nie ‘n clue gehad wat hy regtig bedoel het nie…Al wat ek met sekerheid kan getuig…is dat die Vrees my bekruip het…en het ek met my oe op die grond begin lewe…en nie links of regs gekyk nie…bang…vir alles…

Ek het my Vrese lewe gegee…en het vreeslike dinge oorgekom…In my twintigs het ek altyd angstige drome gedroom …waar ek weg moes hardloop…of weg moes kruip vir gevaar…

So… met die verloop van tyd… op die Groot Pelgrimstog van die Lewe…het ek geleer om my Vrese een na die ander te face…en het geleer dat die meeste nooit regtig daar was nie (soos die monsters onder jou bed toe jy klein was) en het trots verkondig na die geboorte van my twee kleintjies :  “Ek het al geboorte geskenk aan twee mense…Ek is ‘n ystertjie…”  en noudat ek selfs die Dood (letterlik) in die gesig gestaar het…kan ek jou verseker dat my put van innerlike krag bodem-loos is…

Sussie kerm laasnag by my (terwyl ek geduldig die groeipyne uit haar tenger beentjies probeer vryf) dat haar beentjies groot wil wees…maar dat sy nie groot wil wees nie…Ek het probeer verduidelik dat ons dit nie kan keer nie…dat ons almal groot moet word…

Dit bring ons dan by die onderwerp van grootmense self….want het ek nie al self eendag gefrustreerd verklaar na die afloop van ‘n Jeugfees (wat ek in die Oos-Kaap gereel het)…. dat dit ongelooflik was om te sien hoe die kinders so volwasse was…en die grootmense (wat my soveel kopseer gegee het) hulle nes ‘n spul kinders gedra het nie?  Moet dit dan nie juis andersom wees nie?

Soveel van my vriende en familie beleef op die oomblik die cliché van ‘n midlife-crisis…Goeie genade…kan dit waar wees dat mense dit nie sien kom nie?  Mans verloor ewe skielik hulle manlike krag (en trots) en vrouens weer hulle uiterlike skoonheid (en trots) …en sien soos Sneeuwitjie se stiefma die liederlikse goed in hul badkamer spieels as hulle make-up aansit soggens… Die mans gee hulself oor aan slegte gewoontes en die vrouens spandeer heeltemal te veel geld aan retail therapy….of real therapy….

As klein dogtertjie het ek gedroom van die dag as ek veertig word…want ek het geweet my lewe gaan dan begin….ek gaan eindelik groot wees…en gemaklik voel in my eie vel…soos ‘n paar goeie ou jeans…gaan dit lekker sit…nommerpas…Ek lees noudie dag dat ‘n mens se siel wasdom bereik hier omenby 30 jaar oud (so oud soos Jesus was toe hy begin preek het) ..so al word jou vlees ouer (of jy sterf)…bly jou gees ewig jonk…Is dit nie wonderlik nie?

Ek glo ‘n mens moet nie Vrese he nie, want onbewustelik maak jy besluite…wat jou Vrese gestalte laat kry…soos die monsters onder jou bed…

“Mamma…kan ek weer ‘n babatjie wees in jou maag?”  vra Sussie vanoggend… bang… vanuit haar bedjie…

Ek het haar styf vasgehou…. en geantwoord…“Nee my skat….jy moenie Vrees nie…Glo net…” want al is die Vlees swak…is die Gees darem deksels sterk…

Profile photo of maraja

by maraja

Die Akwaduk van die Lewe…

July 4, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Die Akwaduk van die Lewe…

Het jy al ooit gevoel die Lewe stuur jou in ‘n rigting waarheen jy gladnie wil gaan nie? Ons skop dan so erg vas dat die briekmerke sommer pikgietswart oor die teer le…en as jy baie hardkoppig is…gaan die spoor sommer deur die metal railings langs die pad…en verdwyn in die niet oor ‘n groot afgrond… (soos ek annerdag oppad dorp toe gesien het) en ander wonder dan slegs vir ‘n oomblik : “Het die arme siel dit darem oorleef?”

Ek het al ‘n paar maal in my eie lewe sulke noue ontkomings gehad…en omdat ek soms so oorversigtig en bang kan wees…moes God my selfs by ‘n geleentheid of twee met ‘n bliksemstraal oor die kop moker…Ek (wat self daagliks met kinders werk) weet hoe frustrerend dit is om iets oorenoorenoor te moet herhaal, want jy wil nie graag he die arme kind moet foute maak nie, maar nou ja, ons almal weet hoe min daar na goeie raad geluister word…so kan enigiemand God verkwalik as hy soms gefrustreerd word met sy ongehoorsame kinders?

Ek sal tot die dag wat ek my kop neerle NOOIT erken ek was ‘n GROOT fan van die Oprah en Dr. Phil combo wat seker so vyftien jaar gelede daagliks op die kassie gewys het…Ek was ‘n groupie…maar skelm…en omdat my eie lewe in my laat twintigs maar beroerd daar uitgesien het…glo ek vandag dat hierdie twee baie beroemde (en baie ryk) Amerikaners my die moed gegee het om my lewe handomkeer te verander… “Stop taking a back seat to your own life Cassey…and stop blaming others for the bad place you’re in…Get behind that steering wheel!”…het Dr. Phil gereeld iemand laat skaamkry op die verhoog…en vir ons (die gehoor) laat lekkerkry…

Ek het laasjaar ‘n behoorlike wake up call van bo gehad met die dood van my man…en het sederdien hard gewerk om my geestelike lewe weer op die regte pad te kry…want soms volg mens iemand blindelings op ‘n afdraai voetpaadjie van die Groot Pad van die Lewe…en kom jy ‘n rotvanger van Hamlin tee… wat die mooiste musiek in jou ore laat weerklink…en voor jy jou oe kan uitvee…het al die voels van die Hemele jou broodkrummels opgepik…en is die Huis baie ver…. en die pad terug…. onbekend….

Maar dankie tog vir Vergifnis….en Genade….want hoe anders kan ons lesse leer van die Grootskool van die Lewe?

Ek skaam my dood vir die feit dat ek my lampie onder ‘n groot doek wegsteek…en kry al hoe meer en duidelik die boodskap van Bo dat ek die skilderkwas moet opneem en die talent wat vir my gegee is moet deel met ander…maar dis gladnie ‘n maklike pad om te stap in ‘n wereld waar die meeste leef van payday tot payday nie…Is ek braaf genoeg om my eie liggie te laat skyn? Senoumanet more is my laaste dag op aarde…het ek regtig gedoen wat my gelukkig maak?

Ek het hierdie week ‘n baie interessante biografie gelees van Mark Preston, die man wat Rooi Rose in 1942 begin het….Die titel is “My God en Ek”….en die verhaal begin waar hy sy nek breek op 21 jarige leeftyd. Hy het in die hospitaal by God gepleit om hom net te spaar sodat hy iets positiefs vir sy naaste kon doen…en dit het hy dan ook…vir nog 30 jaar daarna…

Die regte pad is dikwels nie die maklikste pad nie…en die regte besluit …ook meestal die moeilikste besluit…So is dit dan ook met die Akwaduk van die Lewe…want het die Romeinse ingeneurs nie ook duisende jare gelede die Wonder verrig van hul Waters se koers te verander en dit boonop teen ‘n helling uit te stuur nie?