Profile photo of maraja

by

Kleur kom nooit Alleen nie…

April 9, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Kleur kom nooit Alleen nie…

Ek het nooit geweet dat CS Lewis oor meer as net Wit Leeus en Magiese klerekaste geskryf het nie….het jy?  Hy het 4 klaswerkboeke (wat hy tussen sy kinders se skoolboeke gekry het) vol geskryf nadat sy vrou gesterf het…en homself belowe dat hy nie nog ‘n boek sal koop as hy die laaste voltooi het nie….want waar eindig dit dan?  In A Grief Observed…beskryf hy die proses van Rou… as ‘n sirkel….nee…eintlik ‘n spiraal….want sommige dae voel jy beter (en sien weer kans vir die land van die lewendes)….ander dae voel jy selfs weer gelukkig (en voel dan skuldig)…en dan…sekere dae voel jy weer soos ‘n rou stukkie vleis (asof jy jou geliefde net gister verloor het…)  Hy beskryf die gevoel soos om ‘n ledemaat te verloor…asof dit geamputeer is…en jy …van vooraf…. moet leer loop met net een been…

Ek is nie een vir lang gesigte nie…en hou nie van hierdie limbo wereld waarin ek myself op die oomblik bevind nie…Is dit waarvan Dante in sy Devine Comedy gepraat het toe hy die 7 Sirkels van Hel beskryf het?  Want hierdie mallemeule waarop ek myself bevind…is geen pret-rit nie hoor?  Maar ek verdien seker maar hierdie geboortepyne op die oomblik, want dit was my eie keuse om die happy pills (wat my dokter my in die hand gestop het…twee dae na my man se begrafnis) by die toilet af te flush…Ek hou ook nie van wyn-vir-die-pyn nie…en daarom ervaar ek my lewenservaring op die oomblik as eyes-wide-shut

“I’ll get to the bridge…and I’ll cross it”…het ek altyd vir my man gese….hy het dan gelag en my probeer reghelp met ‘n…..“Neeeeee my skat…dis….I’ll cross the bridge when I get there….”

Maar wat maak dit nou saak?  Jy kom by die brug…en jy moet daaroor….maak net seker jy het dit nie jare gelede verbrand nie…of hoe?  Hy het ook altyd kopskuddend gese:  “Ek het wraggies my ma getrou”….want ek’s ook lief daarvoor (soos skoonma) om die bobbejaan agter die berg te gaan haal….Ek lees noudie dag in ‘n klein boekie dat ‘n mens altyd so bekommerd is oor wat die dag van more sal bring…en worry jou dood omdat jy vermoed dat die ou brug op jou wandelpad al lankal in duie gestort het…terwyl jou Metgesel voortdurend jou gerusstel…. All is Well….

“Maraja…skryf jouself daarin…daardeur…en anderkant uit”…. het Susan se ma laasjaar voorgestel toe ek haar vertel my kop is baie vol…en ek dink in sirkels…(soos ‘n afkop hoender se laaste tree….)  Sy’t my ‘n paar van haar ou digbundels in die hand gestop en my alleen gelaat….want dis ‘n pad wat ‘n mens net alleen kan stap…soos die klein skaapwagtertjie in The Alchemist uitgevind het…

Op ‘n stadium kom mnr Lewis tot die gevolgtrekking dat trou definitief nie perdekoop is nie…en dat jy…die dag wat jy trou…ook eintlik sign on the dotted line….om jou eggenoot te moet begrawe…Kom die seisoen Herfs dan nie ook na Somer nie?  Dis die Natuur….my dier….

”…Van die klink van huweliks-klokkies…tot die kluit-klap op die kis” ….het ons eie CJ Langenhoven (wat glo ook ‘n baie slim man was) geskryf in een van die versies van die ou Landslied van Suid-Afrika…. Ek lees deesdae op Facebook van almal se huweliks-herdenkings….of kyk na nuwe trou kiekies…en dink dan in afgryse by myself…weet julle wat wag vir julle?  Want daardie brug wat ekself gedink het ek eers hoef oor te steek op my oudag…het onverwags en eens-klaps voor my verskyn soos die Groot Vloed van 1981 hier op my eie dorp…

Maar noudat ek amper oor die brug is en afgestaar het na die kolkende watermassa onder my van ‘n Groot Rivier in volle vloed ….vra ek myself af…sal ek weer afhaak? …..O ja…beslis…want ‘n huwelik is soos ‘n Groot Spieel wat God voor jou ophou…(spieeltjie…spieeltjie aan die wand….)  Jy sien jou eie refleksie daarin…soms die mooi…soms die lelik….en soms die potensiaal…want onthou…’n mens is ‘n mens deur ander mense…

‘n Vreemde vrou laat noudie dag hoor…“Ek hoor jou man is dood?  Jy is so gelukkig…”  Ek is so bly ek het nooit my man dood gewens nie, want nie alle huwelike eindig in die dood nie (vra maar my eie swaer wat al 5 maal voor die kansel gestaan het…) Miskien is sekere spieels net te  swaar om vas te hou…of die reflections daarin net too much to handle?  Maar een ding weet ek verseker….Antjie (wat bytheway ook ‘n baie slim vrou is) was reg….

Kleur kom nooit Alleen nie….

En dit…liewe mede-maats van die Pretpark….is vir my as kunstenaar…’n droom van ‘n palet….

2 responses to Kleur kom nooit Alleen nie…

  1. Ek het 4 (of is dit nou 5) kosbaar boekies (dis nou behalwe die dosyne los ‘oefenboek’ blaaie in ‘n leer saam met gedrukte afskrifte. My eerste (en kosbaarste) had ‘n swart ferweel oortreksel in is
    in dagboekvorm. ‘n Sonnige vrugteslaai van jonkvroudrome – gedagtes en belewenisse wat ek hoop hy eendag sal kan lees. Sommige blaaie vir ewig met vergifnis vasgestypel as verbrande as. Amper tyd om op te staan. Mooi dag. xx

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *