Profile photo of maraja

by

Ons Groet Sonder Woorde…

April 6, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Ons Groet Sonder Woorde…

Ek is my ma se laatlammetjie en na drie seuns het sy my in watte toegedraai en opgepas soos goud. As tiener het sy my na ‘n Meisieskool gestuur waar ons drie keer op ‘n sondag kerk toe is en waar daar vir ons gepreek is oor die Grey seuns…..”Dogters…moenie glo nie…. vrees net”

Vyf jaar later het my ma my by ‘n Universiteit gaan aflaai met die afskeidswoorde nog in my ore….”Onthou my skat….. ‘n man se brein sit tussen sy bene!”  Nodeloos om te se was ek so bang vir ‘n man soos die houtjie van die galg…..
Ek het nie links….. of regs…. gekyk nie en my verdiep in my studies en latere beroep…

En toe….. op 35….. raak ek verlief op ‘n man…

Skielik….. was ek ‘n giggelende 14 jarige st. 6 meisietjie wat verlief is op ‘n matriekseun! Wat sou my ma se? Ek het skelm met hom begin gesels oor die telefoon…..dit was eksamentyd by die skool en ek moes vraestelle merk…..Ek het op al die kinders se vraestelle hartjies geteken en my hart het bokgespring elke keer as hy my bel……Sy naam was Fanus Burger…

Ek wou by vriendinne hoor (tot hulle groot vermaak) hoe soen mens ‘n man? Watter kos eet hulle? Hoe trek hulle aan? Watter programme kyk hulle op tv?
Hulle was ‘n spesie wat ek niks van geweet het nie…..en skielik was ek net so geinteresseerd soos die kinders in my voorligtingsklasse in al die diagramme in die handboeke….

Jy was so liefdevol en geduldig met my….Ek kon jou enige skaam vraag vra…. en jy het nooit vir my gelag nie….Alles wat ek wou weet….. het jy sorgvuldig vir my uitgele….Ewe skielik was jy die onderwyser en ek die kind….

Snaaks dat ek altyd gevoel het ons tyd saam is kosbaar en min?

Jy’t my geleer hoe om Boerekos te kook vir ‘n Boereseun….Hanna het my vertel hoe soen jy ‘n man en Susan het gese haar ma se ‘n gelukkige huwelik is gebou op ‘n warm koppie koffie as jou man moeg van die werk by die deur instap….Ek het so slim gevoel!

Toe word ons verras met ‘n klein pienkvoet wat oppad is….Jy het gese as dit ‘n seuntjie is noem ons hom Petrus Johannes Dirkse (‘n familienaam) want jy dra die broek in die huis…. het ons gelag…..maar toe daag klein Petronella op…..’n klein patroontjie van haar pa.

Ek was teesinnig, want ek ken mos nie meisietjies nie….maar jy het my geleer van Onvoorwaardelike Liefde. Dis dan geen verrassing dat haar eerste woord…. “Pappa….” was nie….Saans het jy bottels gegee en winde uitgevryf sonder om te kla….en met ons volgende verrassingspakkie 13 maande later het jy my geleer wat Ware Geduld is….. toe klein Kitty (‘n klein patroontjie van haar ma) 3 maande lank koliek gehad het….Vir jou noem sy steeds “Mamma”….. en vir my “Pappa”…..

Min mense het jou soos ek geken en ons kon nagte om gesels…

Jy was ‘n diep siel met Liefde vir jou Naaste….Al het jy soms self swaar gekry… wou jy dit nie in ander sien nie…en toe iemand jou eenmaal vra hoekom jy die werkers nie agterop jou bakkie laat ry nie het jy vir my vertel want jy weet self hoe koud dit agterop ‘n bakkie is….

Kwaad gaan slaap het ons nooit nie ….en as ek dalk in die na-nag rondgerol het oor iemand wat my of jou te na gekom het….het jy aan my verduidelik dat ek moet Vergewe en Vergeet want daardie persoon slaap heel rustig vannag….
Soms was ek weke stomkwaad vir my ma….dan het jy voorgestel ek bel haar want jy weet ek mis haar….. jy ken my soos jou hand het jy gelag…

Laasjaar het jy my die Transvaal gaan wys en ek het dinge gesien en beleef wat my laat groei het as mens en toe ek jou vertel dis nie meer lekker nie, het jy gese kom ons gaan terug huis toe…..en al was jy nooit ‘n Burger van Montagu nie…. het tannie Yvonne Bassel gesweer jy is ‘n afstameling van ‘n verlangse nefie van haar wat gaan goud soek het in die Transvaal….

Jy het my melankoliese siel goed gedoen…. en altyd die Mooi en Pittige dinge in die lewe raakgesien…en as jy my hand vasgehou het in die dorp het ek gevoel ek hou my pa se hand vas……Jy was ‘n veilige hawe vir my verwese roeibootjie van 5 jaar gelede….maar ek is nie meer die klein dogtertjie wat jy toe ontmoet het nie…. Jy het van my ‘n vrou en ‘n ma gemaak…en laat my agter met 2 pragtige geskenke….en nog ‘n ma wat baie lief is vir my…

Vroeer die jaar, toe jy jou werk verloor het…. het jy moedeloos gewonder hoekom straf die Here ons so? Vandag weet ek Hy het ons eintlik Geseen…. want jou uurglas was besig om uit te loop en kon jy soveel meer tyd saam met ons spandeer…

Lank gelede…. het ek my ma eendag gevra hoekom ons op aarde is? Sy het geantwoord : “Om goed te wees vir ander my kind”……

Dankie Fanus Burger dat jy so goed was vir my……al groet ons sonder woorde….

(Gelees deur Maraja Badenhorst-Burger op haar man se begrafnis op 1 Junie 2016 te Montagu NG Kerk )

 

2 responses to Ons Groet Sonder Woorde…

  1. Ek dink fanus sit met die grootste glimlag nou! Wat n mooi ode aan jou man!!

  2. Ware woorde! Ek voel waardeur jy gaan! Jou oulike kiddies hou jou besig anders sou jy vergaan! Gelukkig KAN jy skryf!

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *