Profile photo of maraja

by

Uit die Oog…uit die Hart…

March 7, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

 Uit die Oog…uit die Hart…

Twee dae na my man se begrafnis het ‘n vreemde man sommerso in die verbygaan die volgende vreemde woorde (in ‘n lang donker gang) aan my gefluister….”Remember Maraja…Death is for the Living…”  Maar alles het so vinnig-stadig en in slow-mo gebeur op daardie moment….dat ek sy wyse woorde eers maande later sou onthou…

Want wat gebeur as die kis in die graf ingesak het en die laaste treurige gesang weggesterf het op die wind…. nou eintlik met die jong weduwee en haar twee dogtertjies?  Die werklikheid is eenvoudig en kil…hulle word alleen agter gelaat in die kerkhof van die lewe…

Vriende of kennisse sien jou dalk op straat…en met ek-weet-nie-eintlik-wat-om-te-se-nie gesiguitdrukkings skraap hulle die moed bymekaar om innigemeegvoel te betoon…of skarrel in ‘n ander rigting…”een-twee-drie-blok-myself” sou ons geroep het toe ons klein was…veilig en verlig…maar nouja….ons is nie meer klein nie ne?

Oor die algemeen is ek sterk en blymoedig en probeer ‘n sonstraaltjie vir Jesus en die twee kleintjies wees….maar almal kry ook tog sekere bewolkte dae…..Ek het ‘n moeilike week agter die rug….in mediese kringe staan dit seker bekend as ‘n “insinking”…Hoekom?  My komeet het begin uitbrand…om blymoedig te bly is harde werk hoor?  Ek wou so graag weer aanvaar word in die samelewing…ten spyte van my melaatsheid…want dis hoe die skrywer CS Lewis dit beskryf in sy boek “A Grief Observed” nadat sy vrou oorlede is…Net soos hy…kan ek ook aanvoel dat mense my nou anders behandel…ek het nou ook ‘n kiem wat dalk aansteeklik kan wees…die kiem van mortaliteit…selfs my getroude vriendinne beheen my met agterdog as hul mans my net te jammer kry….Are you serious mev?  Kry ‘n lewe asb….

Dis seker my eksentrieke ma se skuld dat ek begraafplase nog altyd as mooi parke gesien het….Toe ek klein was het ons soms gaan piekniek hou met ‘n mandjie in ou begraafplase…Ons het foto’s geneem van antieke marmer engele en stories opgemaak van mense se lief en leed wat ‘n eeu gelede geleef het…en vir vyf jaar as tiener, het ek een keer per jaar (op ‘n koue wintersoggend as die yl sonnetjie oor die Vrystaatste vlakte opkom) buite Bloemfontein gaan kranse le op Emily Hobhouse se graf om dankie te se vir wat sy vir al die vrouens en kinders gedoen het in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boere oorlog…

Tydens my pelgrimstog deur Europa was ek verstom oor die begraafplaas-parke met die mooiste blomme en tuinier op sy pos…want hier in my eie land is begraafplase ‘n baie hartseer storie….ons is so allergies vir die dooies wat daar rus….dat ons die arme siele daar plant onder ‘n ses duim marmer praalgraf sodat hulle tog netnie by ons kom spook nie…

En so kom ons by my eie dilemma van ‘n klein tien sentimeter houtboksie wat ek liefderik orals met my saamneem op vakansies (skelm)…Vir kersfees het ek my man se naam en geboorte en sterfdag daarop uitgekerf met my houtsnee messies…want sien, netnou maak ek ‘n ongeluk en dan weet niemand wie is daar binne-in nie?

Verlede sondagaand (toe ek nie eens kerk toe was nie omdat ek so moeg was vir al die gejubel en trompetgeskal) het ek grafskending gepleeg om sy kissie met een van sy eie tools oop te skroef en gefassineerd na sy fyn gebeendere te staar…ashes to ashes….

Om argeoloog te wees is toe gladnie so romanties as wat ek as kind gedink het nie…sorry oom Tuthenkamen…

Toe ek dit vandag vir Ant Raaitjie (die cleaner) by die skool vertel wat ook soms haar man se graf besoek…het sy my vertel sy dink dis tyd dat ek ‘n gaatjie by daai muur van die witmense se kerk gaan koop….

Ek het gelag en vir haar gevra : “Soos ‘n posbus Ant Raaitjie?”  Ja my kind….nes ‘n posbus…

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *