Profile photo of maraja

by

The Agony and the Ecstacy….

March 3, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

The Agony and the Ecstacy….

“Is aardse geluk ons dan nie beskore nie Ma?”….het ek gehuil-vra by my arme ma in die diep donker nag van my man se dood….My dierbare ma wat altyd met ‘n wyse woord of ‘n kwinkslag of twee gewapen is….was daardie nag egter ontwapen van woorde…. en ook stil-stom van skok…

My hart is al jare besig om ryp te word…maar het letterlik oop…. gebreek…. verlede jaar soos ‘n ryp granaat…en soos enigiemand wat Biologie op skool gehad het weet…kom groei in die natuur saam met geweldige meegaande pyn…Is die simboliese blom en woord bloei-sel dan nie ‘n pragtige voorbeeld daarvan nie?

Van skooldae af was ek aangetrokke tot Van Gogh se lewensverhaal, kwashale en kleurgebruik…en het die jaar na matriek al my jeugkunswerke verkoop om genoeg geld vir ‘n vliegtuigkaartjie na Amsterdam bymekaar te skraap sodat ek sy werk in lewende lywe kon sien….En daar staan ek toe…minder as ‘n meter van hierdie man wat ‘n eeu voor my geboorte geleef het…en wat ek gesien het…het my totaal verstom…

“Hoe kon iemand…wat so swaar gely het in sy lewe…die wereld om hom so mooi en kleurvol verbeeld?”…het ek by myself gewonder…

Vandat ek ‘n klein dogtertjie was wou ek met Jesus “trou”….Wou selfs op ‘n keer ‘n Bybel vir my verjaarsdag he…en toe ek die klavier begin bemeester het…was ‘n gesangenpsalm boek my volgende versoek….Soos Van Gogh was Jesus ook vir my ‘n voorbeeld van “ a Man of Sorrows”…’n alleenloper wat deur ‘n ander bril na die wereld om hom gekyk het…en die meeste van die tyd nie verstaan is deur sy tydgenote nie…en hulle heeltemal te lief gehad het vir sy eie beswil….Ek het heel braaf vir my familie vertel ek gaan ‘n non word…maar nadat ek gesien het dat nonne eintlik klein, verrumpelde, vaal ou engelse tannies met blou of grys rokkies aan was…het ek stilweg gehoop almal het vergeet van my kinder droom…

Ek het lekker vir myself gelag toe ek laasweek  vir die dominee (30 jaar later) my nuwe ring aan my trouvinger wys en verklaar…ek is nou met God getroud…hy moenie oor my worry nie…(hy worry seker nou eers…en dink seker eks nou heeltemaal van my trollie af…)

My melancholiese middelboetie vra my ook noudiedag vies :  “Hoekom moet jy altyd so deksels happy wees?  Jy het oorgenoeg om oor sad te wees?”  “Ek het soveel om voor dankbaar te wees”…het ek hom geantwoord….

Hy noem my nou deesdae “Jesus se sonstraaltjie”…en ek weet nie of dit sarkasties is of nie….but who cares?  Ek kan nie anders as om blymoedig te bly nie…en sien die snaaks…die mooi…en die ironie…. oral om my rond…

maar tog…ook netsoveel die pyn….die lyding…en die hartseer…(en ek blameer stilweg die ryp granaatpitte hiervoor… want le hulle nie nou my hele wereld vol nie?)

Dis vir my baie baie moeilik om deur die vensters van die mense om my se oe te kyk…want ek sien die pyn en hartseer vlak daaragter le…en wat moet ek met hierdie nuwe skill van my doen?  Dit het my baie gepla…maar na hierdie week by die skool waar ek by die gedenkdiens van een van ons leerlinge moes praat…het ek eindelik verstaan wat my ma jare lede vir my gese het toe ek haar tydens een of ander eksistensiele krisis gevra het hoekom ons op aarde is…

”Om goed te wees vir ander… my kind….”

Ek kon nie toe my vinger daarop plaas nie…maar vanoggend…oppad skool toe…het die trane oor my wange gerol toe ek eindelik na meer as 20 jaar besef wat Van Gogh vir my deur sy kuns soveel jare gelede gewys het…die klimaks en kontras van die lewe….die agony en die ecstacy daarvan….en ook die ironie…

want ek het nie meer gehuil omdat ek so hartseer was nie, maar omdat ek so gelukkig was…hier….op aarde….

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *