Profile photo of maraja

by

Agter elke Man…

February 21, 2017 in Uncategorized

 

Mens is nooit te oud om te leer nie…

 Agter elke Man….

 Vroeg vanoggend…oppad skool toe…word ek afgetrek buite die dorp deur vier vriendelike polisiemanne in blou (en geel)….”Toemaar mevrou…dis net ‘n roetine ondersoek” verduidelik die een verboureerd toe hy sien my gesig is sopnat gehuil…en terwyl ek lag deur die trane en soeksoek my rybewys vind en dit deur die venster aangee….dink ek aan hoe musiek ‘n mens darem wonderlik kan terugneem na ‘n era (goed of sleg) in jou lewe….en hoe die trane sommerso vanself oor ‘n mens se wange kan rol….

So was ek teen 120km per uur vanoggend besig om na Steve (my man se cd wat ek in die cubbyhole ontdek het) se “Agter elke man” te luister…en al het ek nie gestaan nie….het ek gesit…en die trane het soos Jana s’n gerol….”saggies oor my wang”….want sien…my man was ‘n musiekman….en ek mis sy diep stem wat my en die kleintjies saans aan die slaap gesing het….in Afrikaans….my hart se taal…

Saam het ons tente gepitch in die melkweg….na Jantjie in die Berge gaan soek…’n Sprokie vir ‘n Stadskind vertel…vir die Spookmeisie ‘n lift in die Karoo probeer kry….vir Sarah help visvang by Hentiesbaai…gehelp oppak by Skipskop…vroegoggend op Bloubergstrand geloop….”Goeiemore my sonskyn…Goeiemore my kind…..” ….en vir Heidi en Peter help bokkies aanjaag….

Dit was ‘n wonderlike musikale reis saam met hom…en al het hy geen BMus graad gehad van Pretoria se Musicon nie…het hy al die liedjies van my kleintyd woordvirwoord geken….en het ek nog nooitooit iemand anders ontmoet wat selfs die “Vlaglied van Jong Suid-Afrika” so mooi (en op aandag) uit volle bors kon sing nie… Selfs toe ou Steve sing van ‘n Bloubul wat niks van verloor af ken nie….het ek gehuil…want sien my man was ‘n ernstige Bloubulman…en daar sit “ou Joostie” ook nou in die hiernamaals…

Een van die laaste aande saam het ons by die kleintjies gele….en hy het vir ons gesing van die gezoem van die “Byeboerwa”….Ek het vir hom gevra om ook die tweede vers te sing, maar hy kon nie mooi die woorde onthou van tannie Marike nie.  Gougou het ek dit vir ons geGoogle op my selfoon en gelees van snaakse plekke (vir ‘n Kapenaar…. in elkgeval) soos Pelgrimsrus…Graskop…Baberton…Krokodilpoort en die Lebomboberge….en daar draai hy weg van ons en huil…

Nou mans hou mos nie van trane wys nie…veral nie hy nie….maar ek het hom gepols : “Wat is dan fout my skat?” ….en ek kon die hartseer en verlange in sy stem hoor toe hy later bieg hy mis al daardie plekke van sy kinderjare….

Nou soos die natuur dit wou he…..het sussie pappa se musikale oor en singtalent ge-erf…en al is ek nie haar pa nie…maak ek seker daar is altyd musiek in die huis…

Sy is ook die motivering vir my lui gemoed Sondae oggende om lipstiffie aan te sit vir kerk…want sy wil na die band gaan luister…en na die tyd gaan luister ons verder na die oom van Worcester wat met sy kitaar onder die bome by die restaurant op die dorp sing…

Sy sit dan by sy voete….. en luister….. woordvirwoord na sy songs….sing selfs in haar eie babataal saam….

Want dis soos dit is liewe Steve….agter elke man….is daar werklik ‘n vrou…of ‘n klein dogtertjie….wat luister…

 

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *