You are browsing the archive for 2017 February.

Profile photo of maraja

by maraja

Agter elke Man…

February 21, 2017 in Uncategorized

 

Mens is nooit te oud om te leer nie…

 Agter elke Man….

 Vroeg vanoggend…oppad skool toe…word ek afgetrek buite die dorp deur vier vriendelike polisiemanne in blou (en geel)….”Toemaar mevrou…dis net ‘n roetine ondersoek” verduidelik die een verboureerd toe hy sien my gesig is sopnat gehuil…en terwyl ek lag deur die trane en soeksoek my rybewys vind en dit deur die venster aangee….dink ek aan hoe musiek ‘n mens darem wonderlik kan terugneem na ‘n era (goed of sleg) in jou lewe….en hoe die trane sommerso vanself oor ‘n mens se wange kan rol….

So was ek teen 120km per uur vanoggend besig om na Steve (my man se cd wat ek in die cubbyhole ontdek het) se “Agter elke man” te luister…en al het ek nie gestaan nie….het ek gesit…en die trane het soos Jana s’n gerol….”saggies oor my wang”….want sien…my man was ‘n musiekman….en ek mis sy diep stem wat my en die kleintjies saans aan die slaap gesing het….in Afrikaans….my hart se taal…

Saam het ons tente gepitch in die melkweg….na Jantjie in die Berge gaan soek…’n Sprokie vir ‘n Stadskind vertel…vir die Spookmeisie ‘n lift in die Karoo probeer kry….vir Sarah help visvang by Hentiesbaai…gehelp oppak by Skipskop…vroegoggend op Bloubergstrand geloop….”Goeiemore my sonskyn…Goeiemore my kind…..” ….en vir Heidi en Peter help bokkies aanjaag….

Dit was ‘n wonderlike musikale reis saam met hom…en al het hy geen BMus graad gehad van Pretoria se Musicon nie…het hy al die liedjies van my kleintyd woordvirwoord geken….en het ek nog nooitooit iemand anders ontmoet wat selfs die “Vlaglied van Jong Suid-Afrika” so mooi (en op aandag) uit volle bors kon sing nie… Selfs toe ou Steve sing van ‘n Bloubul wat niks van verloor af ken nie….het ek gehuil…want sien my man was ‘n ernstige Bloubulman…en daar sit “ou Joostie” ook nou in die hiernamaals…

Een van die laaste aande saam het ons by die kleintjies gele….en hy het vir ons gesing van die gezoem van die “Byeboerwa”….Ek het vir hom gevra om ook die tweede vers te sing, maar hy kon nie mooi die woorde onthou van tannie Marike nie.  Gougou het ek dit vir ons geGoogle op my selfoon en gelees van snaakse plekke (vir ‘n Kapenaar…. in elkgeval) soos Pelgrimsrus…Graskop…Baberton…Krokodilpoort- en Lebomboberge….en daar draai hy weg van ons en huil…

Nou mans hou mos nie van trane wys nie…veral nie hy nie….maar ek het hom gepols : “Wat is dan fout my skat?” ….en ek kon die hartseer en verlange in sy stem hoor toe hy later bieg hy mis al daardie plekke van sy kinderjare….

Nou soos die natuur dit wou he…..het sussie pappa se musikale oor en singtalent ge-erf…en al is ek nie haar pa nie…maak ek seker daar is altyd musiek in die huis…

Sy is ook die motivering vir my lui gemoed Sondae oggende om lipstiffie aan te sit vir kerk…want sy wil na die “band” gaan luister…en na die tyd gaan luister ons verder na die oom van Worcester wat met sy kitaar onder die bome sing by die restaurant op die dorp…

Sy sit by sy voete en luister woordvirwoord na sy lirieke….sing selfs in haar eie babataal saam….

Want dis soos dit is liewe Steve….agter elke man….is daar werklik ‘n vrou…of ‘n klein dogtertjie….wat luister

Profile photo of maraja

by maraja

Huis is….waar die Hart is….

February 13, 2017 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Huis is…..waar die Hart is….

Iemand vra my die ander dag hoe dit gevoel het om my man een sonnige, Dinsdag middag…in die Herfs van laasjaar…te verloor….Gevoelloos? Dalk…..maar ook wonderlik terapeuties….om ‘n mens se gevoelswereld so in woorde te kan uitdruk….

“Hy’t net oorboord gebliksem!”…..het ek gelag tussen die trane deur….”en nou sit ek sonder ‘n kaptein…op ‘n klein roeibootjie met een spaan, die twee kleintjies op ‘n klein bankie agter my…en roei verbete…al-al in die rondte!”….want hoe anders beskryf mens die gevoel om jou man, die een wat jy blindelings gevolg het deur dik en dun (die hele Suid-Afrika vol), sommerso….binne sekondes te “verloor” aan ‘n hartaanval?

Ek het lank…..lank….. gestaar oor die kant van ons roeibootjie….na die bloep-bloep van klein borreltjies op die oppervlak….soos hy na die donker dieptes na benede gesink het….en ook gewens ek kon agterna spring….met die twee kleintjies in my arms….no jokes….die einde sou vinnig kom…en ons sou ewig by mekaar wees…. in ons watergraf…

Kan mens iemand so lief he? Ja….mens kan….Hierdie man was my Petrus…..my rots van Gibralter…die veilige hawe vir my eens dobberende roeibootjie met verwese seile van so lank gelede…Ek het soms geskrik vir myself en my totale liefdemetoorgawe vir hom….Ek sou enigiets vir hom doen….Gevaarlik? O ja…..baie…. Sonde? Miskien….Ek besef vandag, na amper nege maande waarin ek weer moes geboorte gee aan my ou self, dat ek myself totaal prysgegee het in die vyf jaar van my huwelik. Wie is ek nouweer? Waarvan hou ek? Wat eet ek? Watter musiek luister ek na? Ensovoorts…ensovoorts…..My geboorte aan myself het met baie groeipyne gekom….

Dit was twee weke gelede my verjaarsdag…en ek wou dit nie vier nie…Hoe kon ek gelukkig wees en aangaan met my lewe….en kersies doodblaas….en ouer word as wat hy was….sonder om skuldig te voel? Ek het die heeldag in my pers kamerjas gebly en in die huis rondgespook met ‘n lang gesig….die arme kleintjies…en toe….sommerso…..vanself….het my roeibootjie losgeruk tussen die rotse…. waar onsdrietjies al die afgelope paar maande gestrand was op ‘n onbekende eiland….die gety het begin inkom (seker oor al die dae en nagte se trane wat ek in die see ingeween het)….en daar gaan ons….so braaf…die oseaan van die lewe in!

Vir die eerste keer in amper ‘n jaar bly onsdrie in ons eie klein plekkie en is ons nie meer aangewese op die goedheid (lekker is mos maar net ‘n vinger lank?) van ander nie….

Ek het selfs my van laat verander en ‘n ou ring laat groter maak vir my ringvinger wat so kaal gevoel het…..Ek is nou “getroud”….nie meer met Rugby nie…..maar met myself….‘n laat verjaarsdag geskenk aan myself….

En al het sussie gevra of pappa vir ons wag in ons nuwe huis….weet ek dat sy foto’s aan die mure hom naby haar hart sal hou…want dis waar die ware Huis is….digby die Hart….

IMG00931-20131101-1036