Profile photo of maraja

by

It’s my Party…….

October 3, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

It’s my Party….

“A nee a…..mev…..gedra jouself…..” beveel ‘n kort, nors teatersuster my noudie dag toe ek in trane uitbars…… in afwagting dat sussie se mangels uitgehaal gaan word….Dit was die oomblik van waarheid….die dag waarop ek en haar pa vir drie jaar gewag en gebid het, maar nou was hy nie hier om my hand vas te hou nie….en ek was bang, sien?

Ek het tussen die snot en trane verduidelik dat my man nounet oorlede is en ek vrees sussie gaan dit ook nie maak nie….siestog…..Mev. Verpleegster (duidelik ‘n gebore raakvatter) het onmiddelik die situasie geassesseer en besluit dat al is my mangels jare gelede al verwyder….ek definitief ‘n groter prioriteit as sussie is…..en daar wag dokter en narkotiseur geduldig vir my om scrubs te gaan aantrek…want ek was mos nou centre stage van al die attention na my tranedal…..in die spierwit, kliniese teatersaal….met spotlights….

Ek het die afgelope jaar uitgevind (op die harde manier) dat daar sekere plekke is waar jy mag huil….en ander plekke weer nie…. Om oop en bloot te huil…maak mense vreeslik ongemaklik en laat hul rondskuif in hul speldekussingstoele….So byvoorbeeld is dit beter om te huil om 3 uur in die oggend as almal in droomland baljaar….verkieslik buite…onder ‘n sterretjies dak soos Liewe Heksie s’n…….of soggens in die stort as almal om die kombuistafel fokus op Kellogg’s Cornflakes….of die motor as ek gou broodenmelk moet gaan haal….harde musiek op die cd speler flous almal (vir ‘n rukkie…in elkgeval…)…”Tell me why I don’t like Mondays….”

Tot onlangs het ek (soos dit ‘n jong weduwee betaam) gehuil in die privaatheid van my ma se huis en kop omhoog geloop in die strate….”Wees sterk, my kind” tannies was trots op hoe goed ek myself gedra in die publieke oog en ek is seker as ek nog op skool was sou ek ‘n skitterende goue ster teen die voorkop gekry het…..”Pragtig…..wel gedaan…” vir goeie gedrag.

Maar sederdien het ek my gouester status verloor…..want ek huil oral….elke dag…oop en bloot…sommer in my Wimpy melkskommel….. as jy nie pasop nie…..
So sit ek die ander dag op ‘n groot trekker tyre by die bandediens en wag dat ‘n ene Johannes die motor se wiele balanseer (ek voel bietjie van balans af, sien)….en daar bars ek in trane uit….en verduidelik vir die arme man hoe mooi my man na hierdie einste motor gekyk het….. “Toemaar mev…..alles gaan ok wees hoor?” het hy my verbouereerd verseker terwyl hy oorhaastig die laaste bout vasskroef….

My skoonsuster vind my noudie oggend, al wenende, in die yl vroegoggend sonnetjie in haar gemanikuurde tuin….Sy’t my (’n totaal emosionele gemors, nogsteeds in my nagklere om 11 uur in die oggend) summier tot my sinne reggeruk deur te verklaar : “Kom ons gaan doen Retail Therapy…” …Wat anders kon sy doen? Ons het die dorp ingevaar met haar splinternuwe 4 x 4 soos twee cowgirls van ouds en hopeloos te veel geld spandeer op fantastic plastic speelgoed vir die kleintjies…..maar wat sy nie besef het nie….was dat ek steeds gehuil het….binnetoe…
Kleintjies huil so maklik….en ek is soms jaloers, want hulle mag. Maar ek is groot…en ek mag nie. ‘n Soentjie op die kop of ‘n pleister op ‘n nerfaf knie laat droog die trane in ‘n japtrap op…

Was daar maar dieselfde medisyne vir my gebroke siel…..want dis wat dit is….dis my hart wat lek sien…..daar waar ‘n wond sit wat niemand kan of mag sien nie….loop die vog uit….maar dit is my wonde om te lek….op ‘n private plek….amper soos om skelm te piepie….(lekker en stout)

Vriendin Fransien vertel my noudie dag sy was op ‘n kol ‘n professionele roubeklaagster by elke begrafnis op haar dorp….die rede? Sy was in Engeland toe haar dierbare pa oorlede is en het sy begrafnis misgeloop…..
”Ek het ‘n plek gesoek waar ek mag huil…..Maraja….waar mense my nie veroordeel het nie” …..en dit het my laat wonder…..is dit hoekom my ma nooit ‘n begrafnis misloop nie? Ek het haar nog nooit by die huis sien huil nie…..nie eers toe my eie pa oorlede is nie…..

En daar vind ek toe my sterk, altydinbeheer- ma…al huilende….. so twee weke terug op sussie se vierde verjaarsdagpartytjie….(die een wat sy al maande na uitsien, want sy was so seker pappa sal dit nie misloop nie)…..en vervies ek my toe daar op die kerksaal se stoep…. tussen al die dorpsmense wat opgedaag het om vir sussie se part vrolik te kom wees…..

Hier waar ouma wraggies staan en huil waar sy nie mag nie…… se ek hard en duidelik : “Moedertjie……this is not your party….and you cannot cry if you want to…….

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *