You are browsing the archive for 2016 October.

Profile photo of maraja

by maraja

The Hand that Rocks the Cradle…..

October 29, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

The Hand that rocks the Cradle…

“’n Mens kry nie probleem-kinders nie….jy kry net probleem-ouers…”……was die wyse woorde van ‘n skoolhoof in Knysna waar ek as 22 jarige juffrou my eerste pos beklee het …Ek het toe nie so mooi verstaan wat hy bedoel het nie, maar met die verloop van tyd en die jare en kinders wat aangestap het in my klaskamer…het sy wyse woorde al hoe meer gestalte voor my oe begin neem….

Kinders is eintlik baie maklik om te verstaan…en le soos oop boeke voor ‘n mens…..dis net jammer dat hulle soos biblioteekboeke deur verskillende lesers onder hande geneem word….soms laat teruggebring word….ander kere bekrap en verniel word (ekself het eenmaal ‘n prentjie uit ‘n boek geknip omdat ek gevoel het ek moet dit skilder…ek het toe nie…en voel tot vandag toe skuldig daaroor)…..en soms selfs gesteel word…..dis maar die lewe….

So het daar laasnaweek ‘n tiener in ons huis kom bly. want haar ma was weer op een of ander avontuur saam met ‘n vreemde man….Siestog….dis tog nie erg om ‘n tiener te babysit nie? Dis net jammer dat sy al ‘n reputasie het van lang vingers en is op 15 jarige leeftyd eintlik nie meer welkom by die meeste mense nie……Ek hou nie van skinderstories nie…en ons het heerlik saam gekuier en pizza ge eet…..tot Sondagmiddag….toe my ma my onthou om miskien net (vinnig…..vir gemoedsrus sien?) haar backpack te scan voor sy vertrek……en daar vind ek dit….klein nonsens-goedjies van sussie wat sy gesteel het….Absoluut sinneloos….hoekom doen sy dit? Ek dog toe by myself….hierdie arme kind is siek….en ek het net die regte medisyne vir haar….en steel toe haar blink nuwe selfoon-tablet en sit hom op die laaste plek waar ‘n tiener sal loer….binne-in die wasmasjien! Groot was haar skok toe sy besef daar is van haar gesteel…..en toe sy met groot bruin-bokkie-oe vol trane voor my staan…..met ‘n baie kwaai ma wat skel in die agtergrond…..het dit my soos ‘n weerligstraal getref…..haar probleem is eintlik haar ma….Ek het haar selfoon aan haar terugbesorg en buite hoorafstand van haar ma vertel dat ek baie bekommerd oor haar is…..Haar ook van my skoolvriendin Susanna vertel vir wie ek jare gelede in Polsmoor moes gaan kuier met ‘n pakkie koekies onder die arm…..omdat die steel-ding van skooltyd af…later…. handuit geruk het…..

Maar soos kinders in ‘n Weeshuis nooit….ooit…. iets slegs van hul ouers wil weet of hoor nie….is dit moeilik om vir hulle te verduidelik dat die lewe eintlik oor keuses gaan….kies jy die Breede of die Smalle Weg?
Kyk, vir iemand wat Suid-Afrika se paaie al goed kruis-en-dwars verken het….kan ek jou verseker dat ‘n bree, nuut geteerde pad darem deksels lekker ry…..maar op hierdie paaie (veral) is daar altyd ‘n buffel of twee wat jou in die geelstreep wil indwing omdat hulle motors net soveel duurder en blinker as joune is….en die plek waarheen hulle gaan net soveel belangriker as joune is…..Daarom dat ek altyd die agterpaadjies verkies…..Daardie smal, ou, vergete teerpaadjies wat soms ‘n bietjie langer neem….maar wat soveel interessanter en mooier is, want jy moet stadiger ry (agv ‘n groot gat of twee) en daarom sien jy ook soveel meer raak….
Dis amper soos die lewe self…..haastige hond verbrand sy mond…dan nie?

Dit verbyster my hoe ek daagliks deur ander ouers (ongevraagd) vertel word hoe ek my kinders moet grootmaak….”Jou kleintjies kyk te veel TV….hulle drink te veel bottel….hulle suig te veel dummy….hulle eet te veel Marmite broodjies….hulle bla-bla-bla….”
Ek vind hierdie vervelige aanwysings uiters vermoeiend om na te luister….want eks mos ordentlik en hou gewoonlik my pose…..terwyl ek dink aan al die probleme wat hierdie mense met hul eie kinders ondervind….was dit dalk omdat hul kinders te veel Marmite broodjies geniet het?

Ek was vandag by ‘n speelparkie op ons dorp waar my twee kleintjies te lekker gespeel het…totdat daar ‘n paar pappa’s opgedaag het en my twee bloedjies al om hulle begin draai het….want hulle mis hul pappa sien? Ek het sommer ‘n knop in die keel gekry…want ek het besef dat dit ‘n gaatjie is wat ek, hul ma, nie kan volstop nie….

Ons bly maar almal in huise van glas….en ons kinders kom broos hierdie wereld in…..en ons gaan almal baie broos hierdie wereld uit…..al wat ons kan doen is om mekaar te ondersteun…so goed ons kan…..al moet ons selfs soms agter iemand se rug hul kinders touwys maak….of tugtig….

‘n Baie wyse, swart ou man het eendag vir ‘n groepie wit ouers by my skool hulle gemaan dat hulle versigtig moet wees wat hulle se en doen by die huis…..”Onthou….julle is almal onderwysers van die lewe….en julle kinders kyk op na julle….en boots julle optrede na….”

I suppose…..the hand that rocks the cradle…..is the hand that rules the world?

Profile photo of maraja

by maraja

As die Skoen pas…

October 26, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

As die skoen pas…

Ek het eenmaal op die stretch tussen Uniondale en Willowmore ‘n U-draai met my wit Tazz in die pad gemaak, teruggery sowat 200 meter om ‘n eensame skoen wat in die middel van die warm teerpad gele het, op te tel…. Crazy?…….miskien…. maar ook gefassineerd deur die skoen se storie….Enigeen wat al hierdie mistroostige en ellelange eensame teerpad deur die Karoo gery het, sal weet……behalwe vir die spookmeisie…..is daar nie veel siele nie…..

En so het my collection van gevalle, eensame skoene begin….soms het ek op vervelige sondae middae ook in die townships gaan loer, want hier is ‘n goudmyn van eensame enkel lopendes….”Waarom is almal so haastig?”….het ek meer as eenmaal gewonder….”dat jy wraggies uit jou skoene (wel…een…inelkgeval) kan hardloop?” Swart kinders het my dopgehou en later kom vra of hulle ook kan saam soek vir skoene langs die pad….en soos mens kan dink het my projek van Die Enkele Skoen gou uit sy nate gebars met so plusminus sewe swartsakke vol skoene. Daar was grotes….kleintjies….oues….blinkes….vales….die met hakke en die daarsonder…..soms met ‘n nuwe reuk en soms met ‘n baie ou vrotvoetreuk …..en net soms was daar die wat ek maar liewer nie die storie van wou weet nie…(piepie sekere mense dan ook in hul skoene?) Ek het hulle begin skilder en stories opgemaak van al die verskillende skoendraers….en dit het my ure, dae en maande besig gehou…..

Skoene het toe vir my simboliese waarde begin kry….met menslike karaktertrekke….en my aan die dink gesit….Soos tyres aan ons voete….kies sommige mense die blinkste nuwe “brands” teen die mees belaglikste pryse…terwyl ek en jy maar by Pep of Mr Price ‘n gewone ou tekkie of pantoffel koop….nie vir hul boblinkonderstink kwaliteite nie, maar eerder vir hul gemak en alledaagsheid….plain ou Janes….nie high maintenance nie…

So sit ek noudie dag en vra uit pure verveeldheid vir ‘n man of ek sy leerstewels kan polish….great pickupline…dink jy nie? Maar dit laat my tog ook terugverlang na die dae van swartskoenpolitoer op jou skoolskoene…toe alles net soveel eenvoudiger was….Ek kon sien hy hou my fyn dop (seker omdat hyself in die army was en ordentlik ‘n boot kan polish) maar hy het tog heel geamuseerd gekyk na my ritueel van wax-on-wax-off….en aandagtig geluister na my opgewondenheid en vertellinge oor my eie paar cowgirl boots wat ek liefderyk al vir die afgelope15 jaar lank politoer….

Maar wat ek hom nie vertel het nie…is dat hierdie einste paar skoensole van my….ook as getuies dien van belangrike mylpale in my lewe…..So was hulle die dag aan my sy (oftewel voete…) toe ek getrou het…..en die dag toe ek my man begrawe het….
Twee jaar lank was hul aan my seer opgeswelde voete en enkels toe ek my baba’s verwag het….en ek het darem ook al lekker met hulle makietie gehou op ‘n dansvloer of twee!

So het die kinders by die skool ook geweet…as juffrou haar leerstewels vandag aanhet….beter jy jou huiswerk gedoen het….dis juffrou se vattiekakkie skoene sien?

Van kleinsaf hou ek al mense se voete en skoene dop…..my ma het saans seervoet uit haar hoehakskoene geklim….en my pa se DavidKramerRooiVellies het altyd vol stof huistoe gekom en getuig van ‘n harde dag by die werk…..

Ek het kleintyd al besef dat soos Cinderella jare gelede….jy jou persoonlikheid met gemak in jou eie skoene moet kan inpas…..’n duur les wat haar nare stiefsusters dalk nooit verstaan het nie? Met my pa se ge erfde plat nommer 8 voete het ek geweet dat fyn polfytjies my nie beskore was nie….en het gou besef dat plat sandale, vellies of ‘n lekker paar cowgirl boots al is wat ek in hierdie lewe sal nodig kry…..Ek was heimlik (as my ma se enigste meisiekind) jaloers op haar fyn nommer 5 voetjies wat altyd in hoe hakkies toegewikkel was en geluister hoe sy kliek-klak op die houtvloere verby trippel…..te pragtig vir woorde…soos reendruppels op ‘n sinkdak….wat ‘n lady!

My groot renons in hoehakskoene het in matriek gekom toe ek gedwing was om vir ‘n jaar aan ‘n prestige meisieskool ‘n uniform met sykouse en ‘n hofskoentjie te dra….Dis nie vir my nie….gee my maar eerder die hofnar se werk…..Siestog….altyd laat vir klas, met ‘n groot, tas vol boeke en verf….. het ek om elke hoek en draai neergeslaan dat jy net kousnate sien spat…..en daar…al sittende….op my jis…in ‘n lang gepolleerde gang…op ‘n warm Vrystaatse middag….het ek ‘n gelofte (en ‘n gelofte neem jy gladnie ligtelik op nie) afgele van…….”Ek belowe plegtig…ek sal vir die res van my lewe…plat op die aarde loop….”

En hier….sowat 20 jaar later….word ek geseen met twee dogtertjies….Die oudste het my ma se voete…..en die kleintjie my pa s’n…..maar op 2 jarige ouderdom verstaan die kleine Cinderella nog nie van lankenslank en kleinenrond nie…..en as dit by skoenaanpas kom….sien ek hoe sy gefrustreerd telkens moed opgee as die fynste klein hoehakskoentjie weier om oor haar voetjie te pas….
In haar hart is sy ‘n lady sien…..maar die liewe Vader het vir ousus (wat bytheway ‘n tomboy is en altyd kaalvoet rondhardloop) geseen met prinses Diana voetjies….en al wat vir kleinsus pas op hierdie stadium van haar lewe is lelike, ongeskikte Crocs……

So staan ek noudiedag en smile toe ek vir die tweetjies wag by die Spur om klaar te speel….
Ek, doeksak oor die skouer, dummy en bottel in die hand…..met my cowgirlboots aan……en hulle, laggend en gillend…..oppad na my….
Eers verskyn ousus aan die onderpunt van die multicolour glywurm….sonder skoene…..en toe verskyn kleinsus….’n rukkie later…..met splinternuwe gumboots vol fyn pienk rosies!
Ek was eers geskok….toe trots….en oplaas verwonder oor haar vernuf en Cinderella instink……
Sy’t haar lelike Crocs erens in die Junglegym uitgetrek sien….en verruil vir ‘n mooier paar skoentjies van ‘n vreemde maatjie….

As die skoen dan pas…hoekom nie?

Profile photo of maraja

by maraja

It’s my Party…….

October 3, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

It’s my Party….

“A nee a…..mev…..gedra jouself…..” beveel ‘n kort, nors teatersuster my noudie dag toe ek in trane uitbars…… in afwagting dat sussie se mangels uitgehaal gaan word….Dit was die oomblik van waarheid….die dag waarop ek en haar pa vir drie jaar gewag en gebid het, maar nou was hy nie hier om my hand vas te hou nie….en ek was bang, sien?

Ek het tussen die snot en trane verduidelik dat my man nounet oorlede is en ek vrees sussie gaan dit ook nie maak nie….siestog…..Mev. Verpleegster (duidelik ‘n gebore raakvatter) het onmiddelik die situasie geassesseer en besluit dat al is my mangels jare gelede al verwyder….ek definitief ‘n groter prioriteit as sussie is…..en daar wag dokter en narkotiseur geduldig vir my om scrubs te gaan aantrek…want ek was mos nou centre stage van al die attention na my tranedal…..in die spierwit, kliniese teatersaal….met spotlights

Ek het die afgelope jaar uitgevind (op die harde manier) dat daar sekere plekke is waar jy mag huil….en ander plekke weer nie…. Om oop en bloot te huil…maak mense vreeslik ongemaklik en laat hul rondskuif in hul speldekussingstoele….So byvoorbeeld is dit beter om te huil om 3 uur in die oggend as almal in droomland baljaar….verkieslik buite…onder ‘n sterretjies dak soos Liewe Heksie s’n…….of soggens in die stort as almal om die kombuistafel fokus op Kellogg’s Cornflakes….of die motor as ek gou broodenmelk moet gaan haal….harde musiek op die cd speler flous almal (vir ‘n rukkie…in elkgeval…)…”Tell me why I don’t like Mondays….”

Tot onlangs het ek (soos dit ‘n jong weduwee betaam) gehuil in die privaatheid van my ma se huis en kop omhoog geloop in die strate….”Wees sterk, my kind” tannies was trots op hoe goed ek myself gedra in die publieke oog en ek is seker as ek nog op skool was sou ek ‘n skitterende goue ster teen die voorkop gekry het…..”Pragtig…..wel gedaan…” vir goeie gedrag.

Maar sederdien het ek my gouester status verloor…..want ek huil oral….elke dag…oop en bloot…sommer in my Wimpy melkskommel….. as jy nie pasop nie…..
So sit ek die ander dag op ‘n groot trekker tyre by die bandediens en wag dat ‘n ene Johannes die motor se wiele balanseer (ek voel bietjie van balans af, sien)….en daar bars ek in trane uit….en verduidelik vir die arme man hoe mooi my man na hierdie einste motor gekyk het….. “Toemaar mev…..alles gaan ok wees hoor?” het hy my verbouereerd verseker terwyl hy oorhaastig die laaste bout vasskroef….

My skoonsuster vind my noudie oggend, al wenende, in die yl vroegoggend sonnetjie in haar gemanikuurde tuin….Sy’t my (’n totaal emosionele gemors, nogsteeds in my nagklere om 11 uur in die oggend) summier tot my sinne reggeruk deur te verklaar : “Kom ons gaan doen Retail Therapy…” …Wat anders kon sy doen? Ons het die dorp ingevaar met haar splinternuwe 4 x 4 soos twee cowgirls van ouds en hopeloos te veel geld spandeer op fantastic plastic speelgoed vir die kleintjies…..maar wat sy nie besef het nie….was dat ek steeds gehuil het….binnetoe…
Kleintjies huil so maklik….en ek is soms jaloers, want hulle mag. Maar ek is groot…en ek mag nie. ‘n Soentjie op die kop of ‘n pleister op ‘n nerfaf knie laat droog die trane in ‘n japtrap op…

Was daar maar dieselfde medisyne vir my gebroke siel…..want dis wat dit is….dis my hart wat lek sien…..daar waar ‘n wond sit wat niemand kan of mag sien nie….loop die vog uit….maar dit is my wonde om te lek….op ‘n private plek….amper soos om skelm te piepie….(lekker en stout)

Vriendin Fransien vertel my noudie dag sy was op ‘n kol ‘n professionele roubeklaagster by elke begrafnis op haar dorp….die rede? Sy was in Engeland toe haar dierbare pa oorlede is en het sy begrafnis misgeloop…..
”Ek het ‘n plek gesoek waar ek mag huil…..Maraja….waar mense my nie veroordeel het nie” …..en dit het my laat wonder…..is dit hoekom my ma nooit ‘n begrafnis misloop nie? Ek het haar nog nooit by die huis sien huil nie…..nie eers toe my eie pa oorlede is nie…..

En daar vind ek toe my sterk, altydinbeheer- ma…al huilende….. so twee weke terug op sussie se vierde verjaarsdagpartytjie….(die een wat sy al maande na uitsien, want sy was so seker pappa sal dit nie misloop nie)…..en vervies ek my toe daar op die kerksaal se stoep…. tussen al die dorpsmense wat opgedaag het om vir sussie se part vrolik te kom wees…..

Hier waar ouma wraggies staan en huil waar sy nie mag nie…… se ek hard en duidelik : “Moedertjie……this is not your party….and you cannot cry if you want to…….