Profile photo of maraja

by

Op die Peron van die Liefde….

September 1, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Op die Peron van die Liefde….

“Always have your Bags Packed…” is die titel van ‘n skildery wat ek jare gelede geskilder het toe ‘n geliefde my maan dat ek nie verbaas moet wees as ek eendag by die huis kom en my besittings, gepak in tasse, op die voorstoep vind nie…..In plaas van huil was ek so geinspireer toe ek voor my geestesoog daardie groot, ou leertasse met adresse op kartonpapiertjies met tou aan die handvatsels sien staan het….

‘n Ander keer wou ek by ‘n ander geliefde weet hoekom die verhouding dan nou nie kan werk nie en moes toe hoor : “There’s too much History between us…” ……Wat ‘n mooi skildery het ek nie produseer nie! ‘n Dik, groenbruin, warm Mahala rivier wat luislang lui verby kronkel…met die bladsye van ons geskiedenis boek saam…uitgeskeur….wat afdryf na die see van verlange….

Ek was nog altyd ‘n reisiger van die lewe…dis seker maar my ma se skuld….Sy het ‘n rustelose siel, sien….van kleinsaf het ek saam met haar getrek…..weg van probleme (wat gewoonlik hand aan hand regstreeks met ‘n man verbind was) of oppad na ‘n nuwe een. Ek het hope stories van reis per trein, per boot, met ‘n geleende kar of ‘n gestrande een langs die pad…..oppad na erens….maar ook nerens…..huis is tog waar die hart is, dan nie?

Ekself het dit ook al beproef toe ek per vliegtuig vroeg een sondagoggend so 6 jaar gelede vanaf Kaapstad se Internasionale Lughawe gevlieg het om ‘n man wat ek op die Internet leer ken het…..vir die eerste keer te ontmoet….van aangesig tot aangesig. Wat ‘n verskriklike opwindende maar tog ook sielsdodende ervaring….he loves me….he loves me not?

Ek het myself oortuig dat dit is hoe “mail-order-brides” ook moet voel, en met ‘n biologiese klok wat op die hoe ouderdom van 35 geen battery nodig gehad het nie…..was die vrees om op te eindig soos my oujong tannie Sussie (wat alleen in ‘n groot ou huis op Colesberg woon) veel groter as die gedagte om ‘n vreemde man op ‘n vreemde lughawe te ontmoet…you only live once….reg?
En daar staan die liewe man toe en wag vir my…tussen massas vreemde mense wat kom….en gaan…..en hy….klein en fyn, bewend soos ‘n riet….my groot, groen, swaar tas vol verwagtings tussen ons….. amper groter as hyself….

Die 5 jaar van getroude lewe was vreeslik opwindend….. amper soos ons eerste ontmoeting….en ek was verbaas as vrouens (jonges, oues en tannies wat mans vir hul dogters soek) my vra hoe ek dit reggekry het? Boereseuns met mooi maniere is skaars op die platteland sien…..en nie almal van ons is braaf genoeg om ons name so weg te gooi soos op “Boer soek ‘n Vrou” nie…..
“Dis baie maklik”….antwoord ek dan gewoonlik, dik van die lag en selfvertroue….”Het jy al ooit gehoor van die Landbouweekblad se Opsitkers?”

Maar dis nie altyd so maklik nie……Ek het ‘n jaar gelede my huis opgepak om saam met hierdie einste man agter werk aan te trek Transvaal toe. Nie so erg nie, het ek myself getroos, ‘n mens doen dit vir die liefde…..en het my voormoeders dit nie ook gedoen agter op ‘n ossewa nie? Ek het niks om oor te kla nie…..

Maar dis nou presies ‘n jaar later….my aardse besittings in bokse verspreid tussen vriende en familie oor die hele Suid-Afrika….en my man is intussen dood….

My skoonsuster het op die begrafnis my gelaat met hierdie wyse woorde….”Mens trou net die eerste keer vir liefde, Maraja…..” Wyse woorde van ‘n vrou wat al 20 jaar getroud is met haar skoolliefde….het ek stilweg gedink…… en net die volgende dag my kaartjie gaan bespreek by die naaste internet kafee…..

Nou staan ek en wag….met my groot, groen, swaar tas vol verwagtings…..weereens op die peron van die liefde….

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *