You are browsing the archive for 2016 September.

Profile photo of maraja

by maraja

Dis heerlike Lente…..

September 19, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Dis heerlike Lente….

Die soet reuk van Jasmyn hang alweer in die lug…..en ek assosieer dit van kleintyd met die liedjie….”Dis heerlike lente….die winter’s verby…..weer nodig die somer……vir jou en vir my!”

Ons het ‘n motorhek gehad (kleintyd) wat met die begin van die lente nie meer kon toemaak agv die swaar trosse Jasmynblomme wat daaraan gehang het nie…..amper so swaar soos die dik, soet reuk van die Jasmynblomme self…..soos ‘n bruid het die hek ook ‘n groot wit sluier gehad… wat dramaties op die grond gesleep het elke keer as ons dit oop of toe gemaak het…

Almal in ons huis se neuse was toegeswel van lentesinus….maar myne het die soet reuk van nuwe lewe en nuwe hoop ingedrink….

My heel eerste lentedag by die skool het bestaan uit ‘n secret admirer se whispers of sweet nothings….en ook ‘n klein bossie Jasmyn….sorgvuldig toegedraai in ‘n nat tissue en foelie (sekerlik deur sy ma) sodat dit heeldag kon lewe…..

My universiteitsdae op Grahamstad was dieselfde….lente het gekom met die reuk van soet Jasmyn en liefde…..in die lug…. Winter in die Oos-Kaap was ‘n deksels koue besigheid….met dik kouse, stewels, wol jasse en musse…..maar Jasmyn het ‘n hedonistiese, sorgvrye tydperk ingelei….jaarliks

Dis alweer lente…..my ma druk my die ander dag ‘n handvol Jasmyn in die hand…en verklaar ek moet ontslae raak van die aaklige sinus blomme wat iemand haar gebring het….ek kon nie….Jasmyn bring tog hoop? Ek het dit stilletjies in my kamer gaan wegsteek…..waar ek so af en toe ‘n skeut in die neus kry as ek verbyloop….dis onweerstaanbaar lekker…

Tot vanoggend…..

Terwyl ek besig is om in te pak….na hierdie lang en koue winter waarin ek my man aan die dood moes afstaan….kom ek af op ‘n spierwit sak met die klere wat hy die laaste oggend van sy lewe aangetrek het….Versigtig (amper heilig en gewy….soos mens maak as jy ‘n geliefde se graf gaan besoek….) het ek die pakkie klere oopgevou….en my neus daarin gedruk….om te onthou hoe hy geruik het…..maar wat ek tussen die voue van sy jean en hemp geruik het was nie hy nie……dit was die soet reuk van Jasmyn…..maar hierdie keer het dit nie nuwe lewe of hoop gesimboliseer nie……

dit was die soet reuk van die dood….

Profile photo of maraja

by maraja

Hoogmoed kom ook tot ‘n val….

September 14, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Hoogmoed kom ook tot ‘n val….

My ma is alweer by ‘n kruispad….. met haar rustelose siel….wil sy alweer inpak…. en trek.
As kind was dit vreeslik opwindend as die groot treklorrie voor ons huis gestop het. “Waarheen gaan ons mamma?” sou ek opgewonde vra.  My ma het dan net vrolik gelag (wetend dat sy al haar sorge gaan agterlaat) en geheimsinnig geknipoog…..” ’n Wonderlike plek my skat!”

En ek moet erken….my jeug was vreeslik opwindend….met nuwe name, tale en plekke en maatjies om te maak so elke plusminus vyf jaar….
Maar ek is nogsteeds spyt dat ek my heel eerste boesemvriendin in st. 2 gegroet het na ‘n middag van lekker lang speel met die afskeidswoorde : “Sien jou…nooit weer nie!” Ek het haar toe nooit weer gesien nie….baie sad….en het geleer om vriende met die jare met meer respek te groet…you never know….jy weet?

As museummens is my ma erg sentimenteel….elke voorwerp in haar huis vertel ‘n storie….al is sy oor af of al het hy ‘n groot kraak in die middel….word dit erens met liefde gebere in ‘n donker kas. Ek sweer, as sy kon, sou sy alles genommer en opgeskryf het in ‘n groot, swaar boek…..as bewysstukke van ‘n lewe geleef en deurleef.

So met die inpak wys sy my noudie dag my oupa Japie van Barrydale se gedroogde helm velletjie….en vertel my trots dat hy volgende jaar 100 jaar oud sou wees….(siesa). Sy hou nog al die klein siggaretboksies waarop my pa sommetjies gemaak het…toe hy sy kop begin verloor het….(sy verdiende loon na ‘n leeftyd van inhalig wees), ouma se korset toe haar rugwerwels begin ingee het….(sy wou mos nooit haar kalkpille drink nie) en my voosgekoude tandering van 40 jaar gelede…..wat ek verlede kersfees (in blink papier toegedraai) seremonieel ontvang het. Dis amper so erg soos ‘n groot, swaar goue sleutel op 21 wat absoluut niks kan oopsluit nie…. Noudat ekself twee baba’s het…..simboliseer ‘n tandering vir my baie pyn, slapelose nagte en groen Panado stroop….(iets wat ek nooit ooit wil onthou nie)

So lig my ma my ‘n paar jaar gelede terwyl ek haar help beplan aan haar 50 jaar skoolreunie in dat sy iets vreesliks uitgevind het van haar maats….    Ek dog sy gaan my meedeel dat omtrent die helfte van haar klasmaats al die huidige met die ewige verwissel het, maar nee…..grootoog fluister sy  een aand by haar kombuistafel aan my : “Omtrent almal bly in aftreeoorde!” Ek wou uitbars van die lag, maar kon sien dat hierdie brokkie inligting swaar op my ma se hart rus. Ek wou ook nie ongeskik klink en se dat ek eintlik dink dat sy haar moet gaan byvoeg by hierdie kommerwekkende statistiek nie. My ma was nog altyd eksentriek sien, so ek dink nie enige aftreeoord is gereed vir haar nie…..

Sy het toe nie vir die hele reunie naweek in Bloemfontein gebly nie en was binne ‘n dag terug. Die rede? Sy was moeg vir al die wit koppe en hul oumens stories…..

Toe skoonma laasjaar na ‘n aftreeoord moes gaan het sy geweier….haar rede? “Ek bly nie in ‘n huis met ‘n plat dak nie!” ……en wie kan dan nou met sulke logika stry?

“Die uitdaging is…..om met grasie oud te word…” het ‘n vriendin eendag aan my (al peinsend in die verte) laat hoor. Ek wou weet wat sy daarmee bedoel het en sy het verduidelik : “Om nie almal om jou se lewe hel te maak omdat jy nie die naderende ouderdom kan handle nie…”

Ek weet my ma vrees dogters soos ek…..want sien sy het al ‘n hele paar ou vriendinne verloor toe hul “ongeskikte” dogters beheer van hul lewens geneem het op die ryp ouderdom van 80…maar sy vergeet heel gerieflik die feit dat haar eie ma haar laaste jare in Huis Uitvlucht deurgebring het….So gepraat van ouetehuise…..watter sadis besluit op hierdie name? Huis Silwerjare, Huis Avondrus, Huis Laaste Rus of Huis Laaste Kans boesem gereeld vrees by menigte bejaarde in….hoekom dan nie vroliker name soos The Mickey Mouse Club House nie?

“Kinders bly in die huis van more…..” was my ma lief om van kleinsaf vir my uit haar gunsteling boekie aan te haal….
’n Ene wyse oom met die naam van Kahlil Gibran het dit eendag, lank lank gelede kwyt geraak….maar soos alles in die lewe is dit moeilik om jou eie goeie raad te volg…practice what you preach I suppose?

Profile photo of maraja

by maraja

Mynskag

September 10, 2016 in Uncategorized

20160911_000608

Mynskag

bedags

sirkel ek
die groot gat
wat jy
agtergelaat het…

en staar hipnoties
af
in niks…

met tyd
verdwyn al meer
herrinneringe
die duisternis in…

ondergrondse gange val in
en sinkgate verskyn
op die oppervlak…

en hoe meer ek myself
weg probeer skeur
hoe meer
vind ek die donker dieptes
onweerstaanbaar mooi…

ek staan op die afgrond van verlange…

Profile photo of maraja

by maraja

Ons wag op die Kaptein….

September 10, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Ons wag op die Kaptein….

“Belowe jy los my nie by my ma nie…..” was my afskeidswoorde aan my man toe hy my en die kleintjies vroeer die jaar by my ma se kleinhekkie groet….oppad na ‘n nuwe werk en huissoek na ons omswerwe van die afgelope jaar. Hy het vir my ‘n pragtige wit, gerusstellende glimlag gewys en plegtig belowe….ek wou dit uit sy mond uitdruklik hoor…Ek en my ma het issues jy sien….nog altyd gehad.

Dit was die laaste keer wat ek hom gesien het….hy het toe nie sy belofte nagekom nie….en vir ‘n paar nagte het ek verwytend deur die trane opgehuil hemel toe…”Onthou…beloftes maak skuld ne?”

So sit ek nogsteeds by my ma…..gestrand op die eiland van verlange….en nes Tom Hanks jare gelede het ek al ‘n paar keer probeer om van die eiland af te kom…..maar elke keer was die wind nie reg nie, of die seestrome was verkeerd en ‘n storm het gebroei op die horison. Ek bly op ‘n vreemde dorp tussen eksentrieke karakters wat sommige dae wraggies voel soos ‘n episode van Lost….daardie episode wat uitgesny is uit die reeks omdat dit net te ongeloofwaardig is….

So is daar ‘n man hier op die dorp met ‘n lang wit baard en ‘n wit Amerikaanse hond wat snags graffiti op die dorp se mure skryf…”Judas was ‘n Held…sonder hom sou die Kruisiging nie moontlik gewees het nie…” Hy maak almal die hoenders in met sy True-isms….maar hy laat my dink….Ek het ook onlangs ‘n skildery van ‘n groot slang by ‘n kunstenaar gekoop met die woorde : ”Ek le Hinderlaag…..ek le laag en ek hinder niemand nie…”  Dit laat my lag….glo my, ek het dit nodig….

Een nag het ek wakker geskrik van ‘n meisie wat by my venster ingeklim en met my hare (terwyl ek slaap) begin speel het…..sy het lanklaas haar pille gedrink en wou aan my hare voel….Dit het my groot laat skrik….en ek sluit deesdae my vensters dig….
Die outjie by die hoekkafee het by my ma kom bieg dat hy wens sy wil sy skoonma wees….Dit het ek gladnie snaaks gevind nie…..ek kon sy ma gewees het….en sy butch sussie wil graag portretstudies van my doen…(in the nude)

Vanoggend was ons by ‘n Lente Tee op die kerk se wintersgrasperk. Die dominee was DJ en hy en sussie het gelangarm op maat van ‘n Bles-song….’n paar uur later is daar in dieselfde kerk geskiedenis gemaak toe die eerste gay man uit die NG Kerk begrawe is……

Dan is daar die straatkinders wat hul name ingraveer op jou kar as jy hul nie betaal nie….(Killjoy was here)…..en nou drank verkoop aan die verlore seun wie se ouers nie Groot Fees gaan hou as hy huis toe kom nie (hulle het hulself doodgesuip)…Hy probeer nou daagliks sy eie lewe neem…sonder enige sukses….en selfs die dominee en gemeente tannies het hom afgeskryf……. Ek hoor hy het laasweek van die dorpsbrug afgespring….en albei sy bene gebreek…..

Ek vermoed ons is almal verlore siele…..gestrand op ‘n eiland….met ‘n slang hier en daar….in die middel van die Karoo…..wagtend op die Kaptein…om ons te kom haal….

Profile photo of maraja

by maraja

Die Angel van ‘n Mangel…

September 9, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Die Angel van ‘n Mangel….

“Hoekom het ons nie maar weer net ‘n klein hondjie gekry nie?” wou ek al huilend weet…. terwyl my geduldige man met my en ‘n koorsige baba een sondagoggend douvoordag na die Robertson Hospitaal toe jaag…Daar gekom is ons deur verveelde verpleegsters (that have seen everything under the sun) meegedeel dat ons volgende keer maar net die baba kan dompel in ‘n yskoue bad….”What? Are you serious?” wou ek hees skree na ‘n nag van geen slaap en vele gemoedskommelinge…..My koorsige, natgeswete, opgooiende bondeltjie liefde is definitief nie ‘n teesakkie nie mev. Verpleegster!

En so het my grootmensreis met mangels 3 jaar gelede begin….al skoppende, skreeuende en opgooiende…My ma was toe reg. Sy het as kind my al gewaarsku dat kinders jou van alle fiemies genees. Sommige oggende as ek iets verduidelik in die klaskamer sien ek dalk ‘n dwalende oog op my skouer….en weet onmiddellik dat dit dalk nog ‘n kolletjie braaksel is….ek vee dit sommer ingedagte af terwyl ek op die bord agter my aanhou iets verduidelik….min gepla.

Fantasties hoe ek al ‘n deskundige op die gebied van mangels is….my eie is in st. 3 uitgehaal (in die winter) en ek onthou hoe my ma my ‘n week lank ertjiesop en toast gevoer het….geen jellie en roomys hier nie. Dit was 1986 en ek en my pa het ou Dracula films op die TV sit en kyk….ek het my so ingeleef….en kan die reuk van ou bloed in die katakombes en my eie neus so duidelik soos daglig onthou….So kan jy enige grootmens vra wat hulle gedurende hierdie fase in hul lewe geeet het…hulle kan dit in detail onthou…. Dis amper soos oorlogswonde wat hulle trots onder mekaar afshow….die een se storie gewoonlik meer bloederig as die volgende een….

“Dis die ergste ding wat ek nog ooit oorgekom het!” verklaar ‘n groot man van in die vyftig nou die dag aan my….”ek was 20 jaar oud en het die heeldag bloed opgebring!” Ek het lekker in my mou vir hom gelag, want dis net na hy my heel braaf vertel het hy was ook in die army….wat ‘n brawe soldaat! Miskien is my ma reg……mans sal almal sterf by kindergeboorte….
‘n Groot oorgewig vrou het my ook eendag vertel hoe haar ma haar ‘n hele groot boks vol sjokolade gevoer het toe haar mangels uitgehaal is….dit het duidelik sy nagevolge gehad…

Dan is daar ook die vele vervelige stories van jellie en vla….roomys en toast….en bla bla bla….

My ma vertel graag hoe my een boetie haar nounog nie vergewe het omdat sy hom op vier jarige ouderdom alleen agtergelaat het om op sy eie hierdie groot mylpaal te bereik nie….Hy is hierdie jaar 52 en het nog steeds abandoning issues….

Ekself het nie hierdie probleem nie….ek besit vandag nog my groot Pepstores Teddiebeer wat ek met my operasie in die hospitaal gekry het. Haar naam is “Adenoide” want dis wat hulle glo ook saam met my mangels van agter my keel opgediep het. Soos alle groot heldinne uit die Klassieke verhale het sy ‘n pragtige, eksotiese naam gehad….. wat ook ‘n bloedspoor agter gelaat het….Sy is meer as net haar stuffing….sy is my eie mangel storie….(my stripes earned….)

Dan is daar ook die ander kategorie…..The Un Brave…..daardie handjievol grootmense wat verkies om sieklik deur die lewe te gaan. Ek moedig hulle gereeld aan om braaf te wees en hul siek kele te laat uitsort…..maar nes sout snuif vir sinusholtes…sien hulle gladnie kans daarvoor nie…”Dis net te seer…” verduidelik hulle gewoonlik saggies en grootoog….

En so staan ek oplaas….. na ‘n reis van 3 jaar in vele hospitale van Witbank tot Worcester….laasweek …..in Pepstores (enigste boetiek hier op ons dorp) en koop vir sussie splinternuwe Doc McStuffins pajama’s (nes my eie ma 30 jaar gelede vir my) en ‘n splinternuwe teddiebeer, want hierdie week word haar mangels uitgehaal….en van nou af sal sy ook haar eie mangel storie he om trots met ander te deel….

Profile photo of maraja

by maraja

Wondherstel

September 4, 2016 in Uncategorized

20160904_212540

Wondherstel

Snags
by die plek
waar jou hart geskeur het
draai ek dit
in gaasdoek toe….

Versigtig
probeer ek die letsel
minder maak….

My stom vingers vleg dom.
Weef die beseerde weefsel
al digter toe….

Maar
dis ‘n onbegonne
liefdesgebaar

‘n futiele
tyd
verdryf….

Profile photo of maraja

by maraja

Op die Peron van die Liefde….

September 1, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Op die Peron van die Liefde….

“Always have your Bags Packed…” is die titel van ‘n skildery wat ek jare gelede geskilder het toe ‘n geliefde my maan dat ek nie verbaas moet wees as ek eendag by die huis kom en my besittings, gepak in tasse, op die voorstoep vind nie…..In plaas van huil was ek so geinspireer toe ek voor my geestesoog daardie groot, ou leertasse met adresse op kartonpapiertjies met tou aan die handvatsels sien staan het….

‘n Ander keer wou ek by ‘n ander geliefde weet hoekom die verhouding dan nou nie kan werk nie en moes toe hoor : “There’s too much History between us…” ……Wat ‘n mooi skildery het ek nie produseer nie! ‘n Dik, groenbruin, warm Mahala rivier wat luislang lui verby kronkel…met die bladsye van ons geskiedenis boek saam…uitgeskeur….wat afdryf na die see van verlange….

Ek was nog altyd ‘n reisiger van die lewe…dis seker maar my ma se skuld….Sy het ‘n rustelose siel, sien….van kleinsaf het ek saam met haar getrek…..weg van probleme (wat gewoonlik hand aan hand regstreeks met ‘n man verbind was) of oppad na ‘n nuwe een. Ek het hope stories van reis per trein, per boot, met ‘n geleende kar of ‘n gestrande een langs die pad…..oppad na erens….maar ook nerens…..huis is tog waar die hart is, dan nie?

Ekself het dit ook al beproef toe ek per vliegtuig vroeg een sondagoggend so 6 jaar gelede vanaf Kaapstad se Internasionale Lughawe gevlieg het om ‘n man wat ek op die Internet leer ken het…..vir die eerste keer te ontmoet….van aangesig tot aangesig. Wat ‘n verskriklike opwindende maar tog ook sielsdodende ervaring….he loves me….he loves me not?

Ek het myself oortuig dat dit is hoe “mail-order-brides” ook moet voel, en met ‘n biologiese klok wat op die hoe ouderdom van 35 geen battery nodig gehad het nie…..was die vrees om op te eindig soos my oujong tannie Sussie (wat alleen in ‘n groot ou huis op Colesberg woon) veel groter as die gedagte om ‘n vreemde man op ‘n vreemde lughawe te ontmoet…you only live once….reg?
En daar staan die liewe man toe en wag vir my…tussen massas vreemde mense wat kom….en gaan…..en hy….klein en fyn, bewend soos ‘n riet….my groot, groen, swaar tas vol verwagtings tussen ons….. amper groter as hyself….

Die 5 jaar van getroude lewe was vreeslik opwindend….. amper soos ons eerste ontmoeting….en ek was verbaas as vrouens (jonges, oues en tannies wat mans vir hul dogters soek) my vra hoe ek dit reggekry het? Boereseuns met mooi maniere is skaars op die platteland sien…..en nie almal van ons is braaf genoeg om ons name so weg te gooi soos op “Boer soek ‘n Vrou” nie…..
“Dis baie maklik”….antwoord ek dan gewoonlik, dik van die lag en selfvertroue….”Het jy al ooit gehoor van die Landbouweekblad se Opsitkers?”

Maar dis nie altyd so maklik nie……Ek het ‘n jaar gelede my huis opgepak om saam met hierdie einste man agter werk aan te trek Transvaal toe. Nie so erg nie, het ek myself getroos, ‘n mens doen dit vir die liefde…..en het my voormoeders dit nie ook gedoen agter op ‘n ossewa nie? Ek het niks om oor te kla nie…..

Maar dis nou presies ‘n jaar later….my aardse besittings in bokse verspreid tussen vriende en familie oor die hele Suid-Afrika….en my man is intussen dood….

My skoonsuster het op die begrafnis my gelaat met hierdie wyse woorde….”Mens trou net die eerste keer vir liefde, Maraja…..” Wyse woorde van ‘n vrou wat al 20 jaar getroud is met haar skoolliefde….het ek stilweg gedink…… en net die volgende dag my kaartjie gaan bespreek by die naaste internet kafee…..

Nou staan ek en wag….met my groot, groen, swaar tas vol verwagtings…..weereens op die peron van die liefde….