Profile photo of maraja

by

‘n Besoek aan die Kinderhuis

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

’n Besoek aan die Kinderhuis

Ek is ‘n mens wat daarvan hou om my brood op die water te werp…en vir iemand wat lief van kleinsaf was vir ‘n Marmite broodjie….is dit nogal ‘n groot gebaar…So lees ek die ander dag in ons plaaslike koerantjie van die wesies in ons dorp se Kinderhuis wat jaarliks sonder ‘n geskenkie op hul verjaarsdag moet sien kom klaar….”Hoe aaklig!”…..het ek gedink en net daar en dan besluit om die eerste Vrydagmiddag na skool vir sussie saam te neem om te gaan navraag doen hoe ons kan help…

Vroeg die oggend laat ek instruksies by die huis dat sussie op haar mooiste moet lyk as ek haar na skool kom oplaai…sy het immers albei haar ouers en met ‘n kamer vol speelgoed word sy gereken as baie geseend. En so ry onstwee dorp toe en besluit ek om gou by die groothandelaar te stop vir goedkoop doeke en blikmelk. Soos almal wat al klein was weet, is ‘n groothandelaar ‘n magiese speelplek met berge kos en hemelhoe rakke vol kleure en geure. Terwyl ek toe staan en sommetjies maak by die doekpiramide is sussie besig om die deodorant tannie te help om haar boksies uit te pak. Ek, totaal verlore tussen die een en twee rande, besef eers daar’s fout toe ‘n man en vrou uitroep : “Daar’s ‘n klein dogtertjie binne in een van die rakke!”
Dit het ‘n groot, uitgegroeide man al sy sjarme en rekoefeninge gekos om ‘n klein, vuil, stowwerige dogterjie vanagter die rak te voorskyn te bring…

En so daag ons toe op by die ingang van die Kinderhuis…..ek, verwese…..en sussie….vuil. Ek verduidelik nog die rede vir ons besoek toe sussie die lang gepolleerde gang af hardloop…reguit na die maatjies. “Was sy al hier?” wil die huis moeder weet…terwyl ek self wonder daaroor. Geselsend loop ons verder en aan die einde van die lang gang vind ons ‘n speelkamer so reg uit Disney Land wat my mond laat oophang. Die volgende kamer het rytjies pienk Dora the Explorer beddens…en ek skaam my vir sussie wat van die een bed na die ander hop soos Goue Lokkies…..is sy dan niks gewoond nie? Tussendeur die chaos van klein Tinkerbelle’s en meisietjies in Barbie sweetpakkies staan sussie soos ‘n seer oog uit…..vuil en in haar handmedowns van haar niggie van die stad. Terwyl die vriendelike huis moeder onverpoos aanhou praat….dink ek stilweg by myself….sy lyk so gelukkig hier…miskien moet ek haar maar hier los?

Met badtyd word ons teruggelei na die kantoor waar ons ‘n lys met verjaarsdae en kindername van die wesies in die Kinderhuis kry. Ons groet heel vriendelik en ek besluit om gou by die winkel te stop vir brood en melk. Dis laatmiddag toe sussie haar eerste tantrum op twee in Super Spar gooi….op haar maag….en ek sleep haar aan haar enkel by die voordeur uit….met die hele dorp se vroue as getuies van my tekortkominge as ma….ons albei huil al die pad huis toe…

Saterdagoggend gaan koop ek met my laaste kontant en beste voornemens speelgoed, lekkers en sokkies wat ek in twee pakkies opmaak vir twee wesies in die Kinderhuis….maar dit was nie eens ‘n week later toe my eie kleintjies sokkies benodig dat ek skelm die toegedraaide pakkies oopmaak om van die geskenke vir my eie bloedjies te gee nie….i guess charity begins at home?

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *