Profile photo of maraja

by

Die Tweestrepies Skool…

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Die Tweestrepies Skool…

Ek is laat in my lewe getroud. Op 35, om presies te wees. Tot op die “hoe” ouderdom was ek, soos my ma lief is om te se : “So ‘n voorbeeldige kind”, wat altyd hoe punte op skool gekry het en die een beurs na die ander op universiteit losgeslaan het…My intelligensie beker het oorgeloop van geluk….
Omdat ek so ‘n voorbeeldige leerling was (het selfs my eie studiegids geskryf en laat druk in matriek en teen R10 verkoop ) en altyd my maters in die klas wou help om ook die hoogste sport te bereik, besluit ek toe dat die onderwys net die regte tuiste sal wees vir my fonteintjie van ewige kennis….

Met my blymoedige geaardheid, het ek nog altyd gevoel dat jy, met ‘n dik boek onder die arm, jouself kan voorberei vir enige onbekende taak…So het ek na skool gebackpack deur Europa met talle reisgidse in my swaar rugsak…..Ek was so voorbereid op elke avontuur, dat wanneer die trein my by ‘n perron afgegooi het, ek reguit na die naaste Youth Hostel kon loop, myself inboek en dan na al die ander besienswaardighede kon gaan kyk sonder om eers ‘n boek te raadpleeg! Ek het dit klaar gememoriseer, jy sien….

Tot die dag dat ek twee klein, blou strepies op ‘n klein, wit, plastiek stokkie agter ‘n toe badkamerdeur raakgesien het….Alhoewel ek nog nooit juis een vir grafieke was nie, het ek definitief geweet hierdie is goeie nuus…..Het myself selfs ‘n kloppie op die skouer gegee omdat ek, volgens ‘n boek, my siklus haarfyn uitgewerk het… en toe….jackpot!
Sjoe….nou kon ek (en al die tannies van die dorp wat gedurig vra : “So wanneer begin julle met ‘n gesin, my kind? Jy weet, jy is nie meer vandag se kind nie!) ontspan….en ek het ‘n volle nege maande gehad om myself voor te berei op die onbekende!

Die middag na skool ry ek na die dorpsbiblioteek en vra die vriendelike biblioteektannie waar al haar boeke is oor : “Hoe om Baba’s te kry?”. Sy wens my geluk (ek is seker sy konnie wag om al die dorpstannies by die leeskring die goeie nuus mee te deel later die week nie)…en stap na heel agter in die biblioteek waar al die lywige ensiklopidiee in vrede rus….om my trots al die Dr. Jan van Elfen boeke te gaan wys….Wow, wat ‘n slim dokter (dink ek) Het ek nie laas ook met ‘n belangrike mylpaal in my lewe “Wat Meisies (en ook Seuns) Wil Weet” gelees nie?
Ek is so opgewonde en deel haar mee dat dit kompleet voel soos ‘n groot eksamen oor nege maande waarop ek myself moet voorberei (and I’m going to ace this one, by the way)…ek het mos my standaarde…daarvan getuig my erekleure baadjie wat nogsteeds, na 20 jaar, agter in my klerekas hang (evidence, jy sien, as enigiemand ooit my credentials wil bevraagteken)…

So stap ek toe op ‘n sonnige, vroeg desembermiddag by die dorpsbiblioteek uit, reg vir die lang somervakansie wat voorle en my naslaanwerk….

Ek verdiep my spoedig in al die dik boeke en lees gefassineerd van selletjies en ogies en stertjies en groot woorde soos “DNA” en “Genetika”….Ek moet bieg dat Biologie my altyd uitgegross het op skool….maar nou ja, nou gebeur hierdie goed nie meer net in ‘n boek nie, maar ook binne-in my eie lyf…..

Ek was so goed op dreef tot iewers hier tussen Krismis en Nuwejaar toe daardie wrede monster Oggendnaarheid my beetpak….(ek hoor selfs Kate Middleton moes erens in ‘n koninklike hospitaal opgeneem word vir die kondisie….) Skoonsus het vir my klein wit pilletjies by die apteek gaan haal met die belaglike naam “Pegasus” (neem my op vlerke?)….wat nie wou help nie….Die skoonfamilie het alles probeer, maar die blymoedige boervrou wat hulle elke jaar so trakteer was nou ‘n groengesig vreemdeling wat haar dae verwyl het agter ‘n toe kamerdeur…
Geen boek het my hierop voorberei of regtig raad gehad nie….Wat ek toe eindelik self uitvind (sonder ‘n boek) is dat maak nie saak hoe naar jy is nie…..jy eet die naarheid weg…Wow, wat ‘n contradiction of note!

Vroeg in januarie kom soek my dierbare man my een oggend om 3 uur en vind my by die kombuistafel, in trane, want “Dr. Jan se ons gaan ons baba verloor….daar was ‘n druppel bloed op my onderklere sien?”…
”Ag nee, hartjie,” se die boeklose man wat van kleinsaf allergies is vir lees : “Wat weet die dr nou juis van baba’s af? Ek het nog nooit van hom gehoor nie en hy’s dan ‘n man!” Nou wie kan met sulke logika stry? “Net more neem jy al hierdie boeke terug biblioteek toe….ek dink in elkgeval hulle is laat…” se hy voor hy weer terugklim in die kooi….

En so het my reis begin in die Tweestrepies Skool, met geen skoolhoof…maar tog onverwagse wyse onderwysers van tien maande. Ja, dit het ek ook uitgevind op die harde manier….die 40 weke is definitief nie nege maande nie (ek kan tel, thank you very much, en het ook ‘n A vir wiskunde einde matriek gekry).

Ek het al die boeke teruggeneem biblioteek toe, maar ‘n kleintjie skelm gehou van dr. Jan met die titel : “Die verwagtende moeder….” net omdat dit so outyds is en ek my verlekker het in al die belaglikhede van die jare vyftig….

Fonteintjie, moet nooit se ek drink nie weer van jou nie….

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *