You are browsing the archive for 2016 August.

Profile photo of maraja

by maraja

Die Mite van Vroue en Dieete…

August 31, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Die mite van vroue en dieete…

Ek was verstom vandag toe drie verskillende vroue my met komplimente gelukwens omdat ek nou so  mooi maer word….In dieselfde asem verneem hulle ook hoe dit dan nou met my gaan vandat my man ‘n maand gelede oorlede is….are you serious?

Dit het my onwillekeurig laat terugdink aan al die kere wat ek gewig opgetel of afgeval het….Kos en emosie gaan mos hand aan hand vir vroue….Selfs ‘n skelpienk boek op my rak basuin ”Fat is a Feminist Issue…” luidkeels uit.   Wat ek van myself in 40 jaar geleer het is :  Ek eet as ek happy is….en hou op eet as ek sad is…..So eenvoudig soos dit.  Sorry prof. Noaks…en al die Guru’s daarbuite….julle gaan geen geld uit my maak nie, eks ‘n hopeless cause….

Ek dink ek is met ‘n melankoliese gemoed gebore….wat natuurlik nie goed afgegaan het met my ma se filosofie dat ‘n versadigde mens ook geluksalig is nie…..Sy’t my gevoer en gevoer totdat sy my in st. 3 by Weigh Less moes gaan inskryf by die NG Kerksaal op ons dorp. Ek eet tot vandag toe net wit yogurt en drink TAB (eks gewoond aan die smaak, sien) Twee jaar later is ek onder haar dak uit en het in ‘n meisieskoshuis in Bloemfontein die Yin en Yan van kos Sodom en Gamorra eersterangs beleef. Daar het Vrystaatse plaasmeisies sondagaande bokse vars kersies gebring met mieliebrood en paptert vir nagereg. Die stadsmeisies het my weer voorgestel aan Peppermintkrisp Tert en gewys hoe jy na ligte uit marsmallows oor ‘n kersvlam smelt, meng met ‘n Flake en dan bedrup met ‘n blikkie kondensmelk…..My ma glo my nounog nie as ek haar vertel ek het my eerste gal aanval in die koshuis gehad nie! Hier teen st. 8 het die Grey seuns na ons begin kyk en moes ons teen wil en dank briek aandraai….Ons het alle kits dieete onder die son beproef…..en jaloers studietye van agter boeke geloer na die enkeles wat suksesvol met hul vingers die meeste en vinnigste gewig verloor het. Dit was donker tye vir tienermeisies sonder enige selfvertoue…..

Vrolik en vet is ek die jaar na matriek na Europa om myself as Au Pair te gaan bekwaam….Wat ‘n totale flop as kinderoppasser…..maar reuse sukses om 30 kg binne vier maande te verloor!
Ek het my bekommerde ma ingelig sy moenie worry nie, eks besig om myself (en ook my heupbene) te vind, want eks mos nou ‘n vegetarier, sien? Dit was nou ‘n politiese saak, so niemand het my keuse of honger uitdrukking bevraagteken nie…..ek was met my rugsak op ‘n pelgrimstog om myself en toekoms te probeer uitfigure….Later het my ma genoeg gehad van my (die drama queen) se rigtingloosheid en my kom haal sodat ek kan “aansterk by die huis”…Dit was die maerste en mees ongelukkigste hoofstuk in my lewe….

Universiteit het my goed behandel en ek was die cool, arty, vegetariese pel. Elke jaar by die Long Table restaurant tydens die Grahamstadse Kunstefees het ek trots my beroemde “Lensie Bobotie” opgedis…selfs vir bekendes soos Koos Kombuis! Ek het die Groot Liefde van my lewe raakgeloop en myself as kunsonderwyseres bekwaam…..’n gesonde, ronde juffrou….
Tot die dag wat my hart gebreek is op 28…..die vetrolletjies het weggesmelt binne ‘n paar maande…en ek moet bieg dat ek soms skuldig gevoel het as kinders of hul ma’s vir die geliefde juffrou kos skooltoe bring…..hierdie keer het ek baie siek geword en moes ‘n lyf en kopdokter gaan sien…..die Kaap was toe nie Hollands of goed vir hierdie “small town girl” nie…..

Dankie tog vir my volgende Groot Liefde….wat ook ‘n uitmuntende kok was….was ek weer vinnig aan die herstel…..Maar na ‘n paar jaar moes ek hoor : ”Jy’t darem nou vet geword jong?” “Ja, maar eks ook happy!”….het ek tevrede gelag…..toe nie…..ek word weereens gelos vir iemand anders…..ai tog….Ek sluit my in ‘n klein dakwoonstelletjie toe….en luister net sad songs en gaan so af en toe skool toe…..

En daar vind ek toe die derde keer op 35 die Groot Liefde van my lewe (for real, dink ek…third time lucky…) Ek trou met my fietse lyfie en kry binne twee jaar twee baba’s……wat kan ek se? History repeats itself? Hierdie keer het ek darem ‘n great verskoning…..”Ag jy weet, ek sukkel na die laaste baba om my “preggybelly” af te skud….”

Begin van die jaar koop ek vir my die rewolusionere Rooi Boek van prof. Noaks….en belowe myself dat hierdie my jaar gaan wees….

ek was toe reg, maar om al die verskillende redes…..

Dit is my jaar…… van rou….en van weer maer wees….

Profile photo of maraja

by maraja

Museums Lewe!

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Museums Lewe!

Ek was 14 toe my ma my ‘n T-hemp gegee het met die logo “Museums Lewe” daarop. Soos enige tiener het ek van T-hemde gehou en dit trots gedra, want geen ander tiener wat ek geken het, het ook so ‘n hemp gehad nie. Daar was prentjies van al die Museums in Suid-Afrika se kosbaarste besittings daarop en dit was lekker om te raai waar elkeen hoort.

Vandag, as grootmens met ‘n ma wat haar lewe opgedra het aan Museums, beteken daardie T-hemp vir my iets heel anders, want sekere Museums lewe….en ander is dood…..selfs grafstil….Nie oor die versameling van gewyde artikels of die paar rustelose siele wat daar rondhang nie, maar die feit dat daar geen liefde van die lewende siele wat daar werk aan die versameling of besoekers geskenk word nie.

As Museumbaba wat grootgemaak is deur ‘n Museum ma en pa….ken ek die meeste Museums in Suid-Afrika. Was selfs vir ‘n kort periode die hoof van ‘n kunsmuseum in die Oos-Kaap waar ek eenmaal na ‘n groot koloniale gebou genooi is om saam met ander geskokte kurators te gaan soek na die museum se koloniale skatte wat oornag verdwyn het. Die renosterhorings van Sir Cecil John Rhodes het glo eerste by die voordeur uitgestap…Al wat oor was van die versameling was die nuwe wit winkelpoppe in die foyer in tradisionele Afrika rokke met die radio in die een hoek wat harde Xhosa musiek speel se antenna wat sommer ook gedien het as draadjie voor die versameling sodat jy jou plek ken en aan niks mag raak nie.…

Almal wou huil….maar ek het gelag, want dit het my laat dink aan my ma se Museum. In my ma se Museum het dit nog altyd gelewe…..Daar was nog altyd tannies wat ure sit en tee drink….baba’s wat rondkruip en aan Do Not Touch papiertjies kou…iemand wat skelm in die toilet rook…..eensame siele wat wil kom drink van my ma se fontein van ewige kennis van kruie….iemand met ‘n stoffer in die hand wat ook sommer dien as tea lady…..’n blinde hondjie wat onder ‘n riempies bank begin kou aan ‘n seuntjie se kakebeenwa (ek het dit regtig gesien in die Cradock Museum…belowe) en natuurlik ‘n hoenderveer of twee…..want dis waar my ma se geliefde hoenderhaan slaap snags….in die groot ou kluis van die ou Standerd Bank gebou…Gedink dis net die Calitzdorpse kerkklok wat mense snags die hoenders in maak?

So moenie verbaas wees as jy dalk op ‘n hoendereier afkom in die Calitzdorpse Museum nie…..en moet ook nie kla nie…..want hierdie Museum Lewe…..bedags en snags…..

Maraja Badenhorst-Burger

Profile photo of maraja

by maraja

Hoe word mens ‘n Museum Baba?

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Hoe word mens ‘n Museum Baba?

My ma, Blackie Badenhorst, is lief om vir mense te vertel hoe sy 40 jaar gelede die Montagu Museum begin het met ‘n baba (ek) op die heup en ‘n lee Purity botteltjie met 2 sent in die hand (eerste donasie). So het ek my eerste paar lewensjare op die glad gepolleerde houtvloere van ‘n museum deurgebring. Daar is steeds baba tekeninge van my in die eerste besoekersboek en foto’s waar ek met nappie aan fluks help om al die koperware blink te poets…maar vandat ek verstand gekry het, hardloop ek weg van museums….

My ma is weer anders…..sy is ‘n museummens in murg en been. Sy maak dit haar missie om almal in die distrik se geskiedenisse persoonlik te onthou en te bewaar vir die nageslag…..maar ek as juffrou, verkies om te werk met daardie nageslag….My ma het al hoeveel keer ‘afgetree’ om net weer nog ‘n museum op die been te bring of om ‘net ‘n rukkie’ uit te help met ‘n sukkelende instansie So beland sy toe ‘n paar jaar gelede hier op Calitzdorp….weer by ‘n museum….sy bly selfs hierdie keer in die museum! Omdat ek op Montagu bly het ek en my gesin slegs vlugtig kom kuier so af en toe….slegs vir ‘n nag of twee….en nooit self die museum gedeelte binne gegaan nie….eks allergies sien.

Toe word ek so ‘n paar maande gelede gedwing om by my ma en haar museumhuis te kom woon. En so word ek stelselmatig weer saggemaak vir die wonderwerled van ‘n museum. Ek staan soms en luister met hoeveel entoesiasme my ma vir besoekers die geskiedenis van Calitzdorp vertel. Hulle kom dalk slegs vinnig na die boeke (wat te koop is) kyk, maar voor hul hul oe kan uitvee, het my ma hul oorrompel met stories van die verlede….en alle gedagtes van boeke koop is eerste by die deur uit…

Ek se altyd dit is so mooi vir my om iemand dop te hou wat werklik hul werk geniet. Dit is my ma. En al het sy my al eenmaal gemaan dat vir iemand wat in ‘n museum grootgeword het, ek heeltemal te min respek het vir oudhede, is dit lekker om weer as haar baba die wonder van haar Museum te beleef…doen jouself ook die guns….en kom luister na Blackie se stories oor Calitzdorp en sy mense…..

Maraja Badenhorst-Burger

Profile photo of maraja

by maraja

‘n Besoek aan die Kinderhuis

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

’n Besoek aan die Kinderhuis

Ek is ‘n mens wat daarvan hou om my brood op die water te werp…en vir iemand wat lief van kleinsaf was vir ‘n Marmite broodjie….is dit nogal ‘n groot gebaar…So lees ek die ander dag in ons plaaslike koerantjie van die wesies in ons dorp se Kinderhuis wat jaarliks sonder ‘n geskenkie op hul verjaarsdag moet sien kom klaar….”Hoe aaklig!”…..het ek gedink en net daar en dan besluit om die eerste Vrydagmiddag na skool vir sussie saam te neem om te gaan navraag doen hoe ons kan help…

Vroeg die oggend laat ek instruksies by die huis dat sussie op haar mooiste moet lyk as ek haar na skool kom oplaai…sy het immers albei haar ouers en met ‘n kamer vol speelgoed word sy gereken as baie geseend. En so ry onstwee dorp toe en besluit ek om gou by die groothandelaar te stop vir goedkoop doeke en blikmelk. Soos almal wat al klein was weet, is ‘n groothandelaar ‘n magiese speelplek met berge kos en hemelhoe rakke vol kleure en geure. Terwyl ek toe staan en sommetjies maak by die doekpiramide is sussie besig om die deodorant tannie te help om haar boksies uit te pak. Ek, totaal verlore tussen die een en twee rande, besef eers daar’s fout toe ‘n man en vrou uitroep : “Daar’s ‘n klein dogtertjie binne in een van die rakke!”
Dit het ‘n groot, uitgegroeide man al sy sjarme en rekoefeninge gekos om ‘n klein, vuil, stowwerige dogterjie vanagter die rak te voorskyn te bring…

En so daag ons toe op by die ingang van die Kinderhuis…..ek, verwese…..en sussie….vuil. Ek verduidelik nog die rede vir ons besoek toe sussie die lang gepolleerde gang af hardloop…reguit na die maatjies. “Was sy al hier?” wil die huis moeder weet…terwyl ek self wonder daaroor. Geselsend loop ons verder en aan die einde van die lang gang vind ons ‘n speelkamer so reg uit Disney Land wat my mond laat oophang. Die volgende kamer het rytjies pienk Dora the Explorer beddens…en ek skaam my vir sussie wat van die een bed na die ander hop soos Goue Lokkies…..is sy dan niks gewoond nie? Tussendeur die chaos van klein Tinkerbelle’s en meisietjies in Barbie sweetpakkies staan sussie soos ‘n seer oog uit…..vuil en in haar handmedowns van haar niggie van die stad. Terwyl die vriendelike huis moeder onverpoos aanhou praat….dink ek stilweg by myself….sy lyk so gelukkig hier…miskien moet ek haar maar hier los?

Met badtyd word ons teruggelei na die kantoor waar ons ‘n lys met verjaarsdae en kindername van die wesies in die Kinderhuis kry. Ons groet heel vriendelik en ek besluit om gou by die winkel te stop vir brood en melk. Dis laatmiddag toe sussie haar eerste tantrum op twee in Super Spar gooi….op haar maag….en ek sleep haar aan haar enkel by die voordeur uit….met die hele dorp se vroue as getuies van my tekortkominge as ma….ons albei huil al die pad huis toe…

Saterdagoggend gaan koop ek met my laaste kontant en beste voornemens speelgoed, lekkers en sokkies wat ek in twee pakkies opmaak vir twee wesies in die Kinderhuis….maar dit was nie eens ‘n week later toe my eie kleintjies sokkies benodig dat ek skelm die toegedraaide pakkies oopmaak om van die geskenke vir my eie bloedjies te gee nie….i guess charity begins at home?

Profile photo of maraja

by maraja

By die Kies van ‘n Naam…

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

By die Kies van ‘n Naam….

Min dinge is so intimiderend soos om ‘n naam te kies vir ‘n ander mens…en dan in te graveer op ‘n dokument…..Swart op Wit…..Vir altyd en ewig….Amen. Moet my nie verkeerd verstaan nie ek dink al van kleinsaf name uit vir geliefde troeteldiere…het selfs met die jare saam baie kreatief geword, maar as dit by mense kom, is dit ‘n perd van ‘n heel ander kleur!

My eie ma was baie kreatief met haar vier spruite se name….So het Rocco en Kurt hul name uit boeke gekry…..Emile (Zola) doen sy naam heel goed gestand. Die dat hy toe self die letterkunde in is. Arme ek, Maraja, my ma se loslappie wat so rondwaai, is genoem na ‘n baie bekende liedjie waar ‘n spul mynwerkers sing dat die wind se naam “Mariah” is……Siestog….

Ek vind name en vanne erg fassinerend. Veral as mense dit in ‘n beroep uitleef….So was ek al by ‘n sielkundige met die van van “Strong”….(het ook baie veilig gevoel in sy “sterk”, stille teenwoordigheid), ‘n “Welman” wat motiveringspraatjies hou, ‘n “Bakker” wat brode bak en ‘n “De Klerk” wat agter ‘n stapel boeke sit…..Ek het altyd in my mou gelag vir die snaaksigheid hiervan (sien net ek dan die ironie raak?) Totdat ‘n klein, hartseer seuntjie eendag vir my vertel hy is ‘n “Niemand”…..Hoe verskriklik?….het ek gedink…en dadelik ekstra moeite gedoen om hom soos ‘n “iemand” in my klas te laat voel.

Tradisionele Afrika name is vir my baie mooi en ek vra altyd vir die swart kinders in my klas om hul name stadig uit te spreek. Dan vir my die betekenis daarvan uit te le….So ontmoet ek eendag ‘n formidabele vroulike skoolhoof in die Oos-Kaap wat haarself aan my voorgestel as “Fundiswa”……”Ah!”….het ek uitgeroep en gelag..”Dit beteken mos : Kom ons lees?”….
Ek weet nie of sy beindruk of geiriteerd was met my nie, maar sy het beleef gegroet.
Dit pla my altyd as ek iemand ontmoet met die naam “Beauty” , “Precious” of “Memory”….. Komaan, nie alle wit mense is so dom dat hulle nie kan leer hoe om ‘n Afrika-naam uit te spreek nie? Ek was so ge-eerd toe ‘n vriendelike swart man my eendag die naam “Sindiswa” gee….hy het gese dit beteken “One who is blessed” (en het net daar my verbeel hoe die Heilige Gees oor my neerdaal)…..Die swart kinders in my klas het dit sommer die volgende dag nog verkort na “Cindy”…..(ironies genoeg ook my eerste pop se naam)….

Tieners voel heel anders oor hul name. So het my ma van ‘n “Marina” na ‘n “Blackie” oorgeskakel in st. 6 en al is sy ‘n Badenhorst is mense lief daarvoor om haar na ‘n “mev. Swart” te herdoop. Selfs skoonma weier om ‘n “Magrieta” te wees en is al van haar jongmeisie dae af ‘n “Maxie”….Dan is daar weer tannie “Claudine” wat volstrek weier om te erken dat daar op haar geboortesetifikaat “Gloudina” staan.
Ek het dit self eersterangs beleef toe ‘n matriekmeisie met die esoteriese naam “Halo Seven Joy” haar naam ‘n week voor die eindeksamen op al haar dokumente laat verander het na “Bridgette”…..Sy het geweet sy gaan eendag haar matrieksertifikaat moet gebruik, jy sien, en al haar ma en pa se grappies op ‘n stokkie, was toe teen 18 jarige ouderdom hol rug gery….

Terug by my eie dilemma van naam kies vir my baba op die hoe ouderdom van 38 jaar. Ek het mos nou al genoeg lewenservaring gehad om te verstaan watse gewigtige saak hierdie is, verstaan?

My man se een aand: “As dit ‘n seuntjie is, kies ek sy naam, en as dit ‘n dogterjie is, kies jy…” Sjoe, ek was openlik verlig….dit gee my toe darem ‘n 50/50 kans van gedeelde verantwoordelikheid…..Kom ons sien hoe val die dice (dink ek by myself)…..maar daardie einste dice val toe in my guns….

Petrus Johannes Dirkse (‘n familienaam)…..word toe Petronella na nege maande se wag. Ek het sleg gevoel vir my man se part en het gevoel die naam klink mooi en outyds genoeg.

Vir die dierbare plaasvrou wat ons bondeltjie vreugde daagliks opgepas het, was hierdie gewigtige boerenaam net een te veel….en herdoop haar sommer een sonnige somersoggend by die kombuis se wasbak na “Peanut”…..Ons het haar maar behaag vir ‘n paar weke lank tot die een maandag oggend vroeg toe ek vanuit die slaapkamer duidelik hoor : “More Piesang….het jy lekker geslaap?”

Profile photo of maraja

by maraja

Die Tweestrepies Skool…

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Die Tweestrepies Skool…

Ek is laat in my lewe getroud. Op 35, om presies te wees. Tot op die “hoe” ouderdom was ek, soos my ma lief is om te se : “So ‘n voorbeeldige kind”, wat altyd hoe punte op skool gekry het en die een beurs na die ander op universiteit losgeslaan het…My intelligensie beker het oorgeloop van geluk….
Omdat ek so ‘n voorbeeldige leerling was (het selfs my eie studiegids geskryf en laat druk in matriek en teen R10 verkoop ) en altyd my maters in die klas wou help om ook die hoogste sport te bereik, besluit ek toe dat die onderwys net die regte tuiste sal wees vir my fonteintjie van ewige kennis….

Met my blymoedige geaardheid, het ek nog altyd gevoel dat jy, met ‘n dik boek onder die arm, jouself kan voorberei vir enige onbekende taak…So het ek na skool gebackpack deur Europa met talle reisgidse in my swaar rugsak…..Ek was so voorbereid op elke avontuur, dat wanneer die trein my by ‘n perron afgegooi het, ek reguit na die naaste Youth Hostel kon loop, myself inboek en dan na al die ander besienswaardighede kon gaan kyk sonder om eers ‘n boek te raadpleeg! Ek het dit klaar gememoriseer, jy sien….

Tot die dag dat ek twee klein, blou strepies op ‘n klein, wit, plastiek stokkie agter ‘n toe badkamerdeur raakgesien het….Alhoewel ek nog nooit juis een vir grafieke was nie, het ek definitief geweet hierdie is goeie nuus…..Het myself selfs ‘n kloppie op die skouer gegee omdat ek, volgens ‘n boek, my siklus haarfyn uitgewerk het… en toe….jackpot!
Sjoe….nou kon ek (en al die tannies van die dorp wat gedurig vra : “So wanneer begin julle met ‘n gesin, my kind? Jy weet, jy is nie meer vandag se kind nie!) ontspan….en ek het ‘n volle nege maande gehad om myself voor te berei op die onbekende!

Die middag na skool ry ek na die dorpsbiblioteek en vra die vriendelike biblioteektannie waar al haar boeke is oor : “Hoe om Baba’s te kry?”. Sy wens my geluk (ek is seker sy konnie wag om al die dorpstannies by die leeskring die goeie nuus mee te deel later die week nie)…en stap na heel agter in die biblioteek waar al die lywige ensiklopidiee in vrede rus….om my trots al die Dr. Jan van Elfen boeke te gaan wys….Wow, wat ‘n slim dokter (dink ek) Het ek nie laas ook met ‘n belangrike mylpaal in my lewe “Wat Meisies (en ook Seuns) Wil Weet” gelees nie?
Ek is so opgewonde en deel haar mee dat dit kompleet voel soos ‘n groot eksamen oor nege maande waarop ek myself moet voorberei (and I’m going to ace this one, by the way)…ek het mos my standaarde…daarvan getuig my erekleure baadjie wat nogsteeds, na 20 jaar, agter in my klerekas hang (evidence, jy sien, as enigiemand ooit my credentials wil bevraagteken)…

So stap ek toe op ‘n sonnige, vroeg desembermiddag by die dorpsbiblioteek uit, reg vir die lang somervakansie wat voorle en my naslaanwerk….

Ek verdiep my spoedig in al die dik boeke en lees gefassineerd van selletjies en ogies en stertjies en groot woorde soos “DNA” en “Genetika”….Ek moet bieg dat Biologie my altyd uitgegross het op skool….maar nou ja, nou gebeur hierdie goed nie meer net in ‘n boek nie, maar ook binne-in my eie lyf…..

Ek was so goed op dreef tot iewers hier tussen Krismis en Nuwejaar toe daardie wrede monster Oggendnaarheid my beetpak….(ek hoor selfs Kate Middleton moes erens in ‘n koninklike hospitaal opgeneem word vir die kondisie….) Skoonsus het vir my klein wit pilletjies by die apteek gaan haal met die belaglike naam “Pegasus” (neem my op vlerke?)….wat nie wou help nie….Die skoonfamilie het alles probeer, maar die blymoedige boervrou wat hulle elke jaar so trakteer was nou ‘n groengesig vreemdeling wat haar dae verwyl het agter ‘n toe kamerdeur…
Geen boek het my hierop voorberei of regtig raad gehad nie….Wat ek toe eindelik self uitvind (sonder ‘n boek) is dat maak nie saak hoe naar jy is nie…..jy eet die naarheid weg…Wow, wat ‘n contradiction of note!

Vroeg in januarie kom soek my dierbare man my een oggend om 3 uur en vind my by die kombuistafel, in trane, want “Dr. Jan se ons gaan ons baba verloor….daar was ‘n druppel bloed op my onderklere sien?”…
”Ag nee, hartjie,” se die boeklose man wat van kleinsaf allergies is vir lees : “Wat weet die dr nou juis van baba’s af? Ek het nog nooit van hom gehoor nie en hy’s dan ‘n man!” Nou wie kan met sulke logika stry? “Net more neem jy al hierdie boeke terug biblioteek toe….ek dink in elkgeval hulle is laat…” se hy voor hy weer terugklim in die kooi….

En so het my reis begin in die Tweestrepies Skool, met geen skoolhoof…maar tog onverwagse wyse onderwysers van tien maande. Ja, dit het ek ook uitgevind op die harde manier….die 40 weke is definitief nie nege maande nie (ek kan tel, thank you very much, en het ook ‘n A vir wiskunde einde matriek gekry).

Ek het al die boeke teruggeneem biblioteek toe, maar ‘n kleintjie skelm gehou van dr. Jan met die titel : “Die verwagtende moeder….” net omdat dit so outyds is en ek my verlekker het in al die belaglikhede van die jare vyftig….

Fonteintjie, moet nooit se ek drink nie weer van jou nie….

Profile photo of maraja

by maraja

Die ding van ‘n Naelstring

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Die ding van ‘n Naelstring….

Staan ek vanoggend in die stort en probeer al my bekommernisse van my afwas en dink aan my dierbare man wat ek nou na 2 maande ook aan my lyf begin mis…Hy was so trots op sy seunsagtige lyf van 43 jaar. Homself goed versorg….altyd lekker geruik…..en nou, dink ek hartseer, wag daardie mooi lyf vir my op ‘n stowwerige rak, in ‘n klein boksie, om te gaan haal by mnr. Die Begrafnisondernemer…ashes to ashes…

Twee jaar gelede bespreek ons die onderwerp van sterilisasie, want kyk, 2 baba’s in twee jaar vat aan enigiemand se lyf….Vra ek hom of hy nie wil gaan nie, die kliniek se dis so maklik vir mans…lokale verdowing en voor jy kan se mes…is alles verby! Grootoog sien ek hoe swaar hy sluk….en wil toe weet wat van as hulle dalk iets wat belangrik is afsny? Mans se bedrading is baie delikaat sien? Ek het lekker vir hom gelag…ook toe die dokter vir hom vra of hy die baba se naelstring wil afsny…Ek dog die arme man word flou hier langs my agter die groen gordyntjie….Ek was toe die brawe een wat vir die dokter beduie het hy moet sommer al die draadtjies afknip as hy die baba uithaal….(thank you very much….got the T-shirt…)

Dit het my toe onwillekeurig laat dink aan die ding van ‘n naelstring…so nodig…maar dikwels ook so vernietigend…Saam met my eie gesonde, vet, pienk baba’s is daar miniatuur baba’s gebore wat verslaaf is aan alkohol…As onderwyseres moes ek ‘n hele paar vergaderings bywoon waar ons touwys gemaak is hoe om met ‘n FAS (Foetal Alcohol Syndrome) kind in jou klas reg te kom. Hier in die Kaapse Wynland is dit ‘n onontbeerlik deel van die alledaagse bestaan. Ek het self op ‘n plaas gewoon waar jy ironies genoeg vrouens langs die pad sien loop met hul FAS T-hemde aan….hoogswanger….met ‘n doppie in die hand. Ek oordeel nooit ‘n ander se lewe of keuses nie, want ek het geen benul hoe dit voel om in sy/haar skoene te loop nie….dis net jammer van die ou kleintjies. Dankvader oggendnaarheid het my so beetgepak dat ek van alle kafeien en nikotien afgesweer was…

Maar dis nie net baba’s wat ingedoen word deur naelstringe nie…daar is ook die groot naelstringe…Daardie groot luislange wat hulself met soveel gemak om jou lyf en selfs nek kan draai….My ma hou nogsteeds my lang vlegsel wat ek vir haar op die hoe ouderdom van 20 gegee het….”Hiers jou naelstring”…. het ek uitdagend verklaar en myself probeer loswoel uit haar versmorende arms vol liefde. Dis moeilik om die baba van die familie te wees..en dan nog enigste meisiekind. Vandag noem hulle dit “Helicopter Parenting”…en wanneer iemand my daarop attend wil maak dat een van my kleintjies nou iets stupids gaan aanvang, antwoord ek braaf : “Lyk ek miskien vir jou soos ‘n helikopter?”. Ek glo kleintjies mag maar huil en tantrums gooi. Ek laat hulle begaan….jy’s tog net eenmaal 2….kry dit uit jou gestel….Liewer dan nou as op 14….hemel help my? Ek het eenmaal ‘n groot vrou (gefrustreerde juffrou) haar cool sien verloor voor ‘n groot klas van 15 jariges….Nie ‘n mooi gesig nie en sy moes net daarna die skool verlaat. Tieners vergewe jou selde as jy soos hulle optree…

Dan is daar ook die naelstring van die liefde. Liefdesverklarings soos: “Ek kan nie sonder jou nie”…klink miskien aan die begin baie romanties…maar kan baie gou ook in ‘n versmorende doodloopstraat eindig. Sekere verhoudings is weer gebasseer op net-net genoeg liefde deur ‘n milkshake strooitjie….sodat die een darem nie sterf nie, maar dan ook net genoeg om aan die lewe te bly…Wat ‘n uitgehongerde besigheid is dit nie….

Ek lees noudie dag dat daar selfs vrouens (skarlakenwit……. met veels te veel geld…… in een of ander eerste wereld deel) hul baba’s se naelstringe laat vriesdroog, in fyn poeiertjies laat maal en in klein kapsuletjies berg om een vir een elke oggend met ‘n groot glas minerale water af te sluk….Siesa! Nee dankie, ‘n koppie sterk swart koffie op die nugter maag is al wat ek nodig het om die dag met ‘n glimlag te begin.
Ek het ook as kind gesien hoe eet ons katte hul eie kleintjies se naelstringe….(dont need that T-shirt …..thank you very much!)

So, dink ek toe oplaas in die stoomstort, hoekom pla die ding van ‘n naelstring my so?….Noudat ek self deur die proses van kindergeboortes en my eie groot naelstring is…. voel ek eintlik ‘n bietjie verlore sien….en vat ingedagte aan my 2de laaste vinger ….. want ek mis die klein, silwer naelstringetjie wat vir 5 jaar daar vasgedraai was….

Profile photo of maraja

by maraja

Begrafnisreelings vir Dummies

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Begrafnisreelings vir Dummies

Vandat ek ‘n klein dogtertjie was, het ek onomwonde geweet : ek wat Maraja is, gaan nooit ooit in ‘n wit rok voor die kansel eendag staan nie! Dis net te deksels aandag trekkerig met ooms en tannies wat uitrafel hoe later hoe kwater….Ek het selfs eenmaal ‘n bruid sien flouval in die studentekerk in Bloemfontein! Al die tannies het ge “ShameSiestog” maar ek het gedink : ”Kry sy nie genoeg aandag nie?”

My eie troue op 35 was nes ek dit wou he….Gewone rokkie by Binnelandse Sake in Worcester….”Till death do us part.” Ek het natuurlik net geluister na die “…in sickness and in health” gedeelte en breed gesmile (I’ve got this)….en boy, was I wrong!
So bevind ek my toe waaragtig drie weke gelede voor die bleddie kansel, in swart, alleen met ooms en tannies wat voor die tyd uitgerafel het….

My man het toe nie siek geword nie…..Hy is net dood…Morsdood neergeval een sonnige middag van sy hart….en so leer ek toe, teen wil en dank, die volgende (op die harde manier) dat begrafnisreelings definitief nie vir sissies is nie….

Heel eerstens moet ‘n beskikbare dominee gevind word wat nie te kwaad vir jou is omdat jy so lanklaas in sy kerk was nie….Op die telefoon vra hy jou: “Watse dag van die week mevrou?”…Hel, ek trap so verbete water dat ek self nie eens weet watter dag van die week vandag is nie!
Ons besluit op ‘n mooi middel van die week woensdag (die skoonfamilie moet van ver kom, sien)
Dan moet ‘n beskikbare kerk gevind word wat nie alreeds gebruik word nie (gaan die mense dan deesdae soos vliee dood…..wonder ek)
Dan die orrelis (sy moet ten minste ‘n paar dae gegun word om al die droewige liedjies op die orrel te oefen)
Die blommetannie vra bekommerd : “Waar gaan ons mooi blomme vandaan kry, jy weet dis winter, my kind?” (Seker die berge tannie….waar die Bybel belowe ook hulp vandaan sal kom?….dink ek)
Moenie die koster of sy sleutel weggooi nie (die sluit deesdae nie meer die kerkdeur oop sonder betaling nie…..(What, are you serious?)
My ma vra my waar gaan die verversings aangebied word….(Wat van die hemel…hoop ek stilweg by myself….wie het nou inelkgeval ‘n eetlus?)
Eks so moeg…maar daars nie tyd vir rus op my louere nie (my ma maan juis gedurig : “Rus is in die dood my kind”…)
Goed….dan die nuus breek aan die wereld….Begrafniskennisgewing in Die Burger (wat ‘n verregaande pond se vleisprys eis) en ook die plaaslike koerantjie….

”Jou ou control freak!” se ‘n klein stemmetjie agter in my benewelde brein terwyl ek self die berig en kennisgewing op my laptop uittik….(“Shut up!”, dink ek….. I’ve got this)

‘n Wenende skoonma arriveer uit die ou Transvaal. Ek moet nou sterk wees vir ons albei (die eerste en laaste vrou wat hierdie man geken en liefgehad het)….Ons huil en lag saam….Dan gaan besoek ons haar kind by mnr die Begrafnisondernemer in sy koelkamer…Daar le hy in diepe slaap en sy ma en ek neem vir oulaas afskeid van hom…
Ons soen hom op die voorkop en vryf ons vingers deur sy pragtige krulhare…
”Forever Young” soos James Dean…..

Volgende is ek gereed om die fensieste kispak vir my man te gaan koop (going out in style) maar word ingelig dat ek eerder my geld by die Spur kan gaan verkwis, want : “Die doodskleed het nie sakke nie, mevrou…en jou man word veras”……”O….ok”…..
Al wanneer ek en skoonma koppe stamp is toe sy besef ek laat een van my skilderye op die Begrafnisbrief druk….Dis ‘n hond sien, en sy hou nie van diere nie, wat verlangend oor die vlaktes tuur…

En daar gebeur dit (Time waits for no one, dear)… Woensdagmiddag 3 uur….Kleedrepitisie klaar…..(let the show begin!)
Ek was betyds by die kerk….My man het altyd gese ek gaan nog laat wees vir my eie begrafnis …….(ek was nie, so we, maar dan, dit was nie my eie begrafnis nie, ne?)

Die 2 dogtertjies wat altyd handmedowns van hul niggies dra is uitgevat in splinternuwe rokkies wat oral krap…
Ek kon nie op foto’s besluit vir die dominee se powerpoint nie (daar is letterlik duisende) so het hom toe maar ‘n 3min selfoonvideo gegee waar die dogtertjies saam met hul pa op die strand loop….Toe hulle dit natuurlik in die kerk sien roep een uit : “Pappa!” (what a show)

Ek het my huldeblyk soos ‘n ware hoofmeisie by die podium gelees….Daar was vriende en familie van heinde en ver….
Van my drie broers was darem een daar (die sterk een, thank god) wat Breytenbach voorgelees het en Koos (du Plessis) het vir ons sy Gebed gesing….

Toe die kis later die middag, stadig by die kerk uitgedra word deur ses sterk broers en neefs (met Proteas van die Montagu berge daarop), kon ek nie help om deur die trane te smile toe ‘n klein stemmetjie in my oor fluister : “Skaam jou…..nou het jy darem vreeslik aandag getrek” nie…..

Profile photo of maraja

by maraja

Dinge wat jy nie ‘n nuwe Weduwee moet se of vra nie…

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Dinge wat jy nie ‘n nuwe weduwee moet se of vra nie….

“Jammer om van jou man te hoor, maar ek wil net vir jou se jy beter spoedig begin werk soek sus….onderwysposte is nou skaars, so jy sal seker eers teen Januarie kan regkom…”
Dit is einde Mei…..nog nie eers 24 uur vandat my jong, gesonde boer van ‘n man aan sy hart beswyk het nie, en my liewe oudste broer (ek het drie) ontferm hom alreeds oor my…..Wat ‘n verskrikking op dit wat nog kom!

Ek beweeg stadig deur my ma se groot, ou, donker huis in ‘n waas van skok en ongeloof….en om elke hoek en draai word ek telkemale gekonfronteer deur ‘n nuwe bestaan wat ekself nie gekies het nie. Liewe Madeleine (mede huisbewoner) waarsku my in die donker gang teen mense se weird reaksies op tyding van die dood….Kan dit regtig so erg wees? Dit is erger….

My ma bel vriende en familie en hulle haas hulle na my……”Hoe is hy dood?”…..Ek staar hulle uitdrukkingloos aan en dink…hoe de hel moet ek weet, ek kom nou maar self hier?
(Polisie en Dr deel ons die volgende dag mee dit was ‘n massiewe hartaanval by die werk)

“Wat gaan jy die kinders se?” vra iemand……Shit, goeie vraag…hulle kan dan nog nie eens praat nie? Die tweetjies draai-draai om my en ek probeer my smart vir hulle wegsteek (die een is 3 en die ander maar 2) Hoe lank gaan dit hulle neem voordat hulle besef iets skort? Ek smile deur die trane, gooi ekstra suiker in hul bottels rooibostee (vir die skok wat hulle nie eens van bewus is nie, sien) en speel vir hulle die DVD van The Lion King (die een waar Simba se pa doodgaan….)

‘n Bejaarde tannie vra my ‘n paar dae later….. “Wat het hy makeer, my kind?”…. Die Here alleen weet tannie….dink ek tranerig….hy het gekla van ‘n brand in sy bors, maar ek het mos vir hom hoesmedisyne gaan koop…. Wil tannie my nou wraggies ook op ‘n guilt trip sit?

Oornag het almal op ons dorp ewe skielik dokters geword en vertel my presies die oorsaak van sy dood (asof ek hulle gevra het?) Hy het definitief te veel gerook en jy weet hoe lief hy vir sy stukkie vetterige braaivleis was…… My ma stop my selfs een oggend donkervroeg Readers Digest se ensiklopedie EAT WELL in die hand en se sy weet nou presies hoekom die kleintjies se pa dood is….hy het geen vrugte geeet nie. As ek, of my kinders nie dieselfde pad wil loop nie, beter ek ons dieet verander….Wat? Geen rooibostee of Marie Biscuits meer nie??

Talle maan dat ek nou moet sterk wees…..en verkrummel dan op my skouer….

“Hy is nou op ‘n beter plek….” maak selfs my liewe, saggeaarde ma opstandig : “Hoe weet hulle dit?” vra sy een aand laat deur die trane……Want die Bybel se so ma….dink ek droogweg….

Oppad na die begrafnis lui my man se selfoon…. Dis Capitec wat vra of hulle met hom kan praat oor sy agterstallige lening….Ek ly nog so aan skok dat ek belowe om hom te se om hulle terug te bel…en eks seker waar hy homself ookal bevind….het hy lekker vir my gelag!

Dit bring ons by die kwessie van geld…”Het hy darem ‘n goeie lewenspolis gehad?” vra iemand my noudie dag. Ek het hulle net ‘n vriendelike “none of your beeswax” smile gegee en die enkele groen noot in sy beursie voor my geestesoog gesien….Ons motto was juis vir 5 jaar “Arm van Vlees…..Ryk aan Gees”….maar dit help my nie veel vandag om nappies en melk te gaan koop nie ne?

Na ‘n week se begrafnishou (met ‘n geween en ‘n gekners van tande) is ek so moeg van almal se meedoenlose vrae wat onbeantwoord in die lug bly hang, dat ek myself toesluit in my ma se groot, donker huis…..’n welkome oase vir ‘n afgematte siel….

Ek rou nou in my eie privaatheid en loop trots met my nuwe pers Pepstores kamerjas die wereld vol…..en wag …….uitdagend…… dat iemand my net iets verkeerds vra…..

Profile photo of maraja

by maraja

Hoe word mens ‘n Weduwee?

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

 Hoe word mens ‘n weduwee?

Dit is 3 weke sedert ek ‘n weduwee geword het…Oops….wat sien jy ewe skielik voor jou geestesoog? Ja, ek weet….’n swart geklede moeder opperste wat met ‘n nuwe lig in haar oog deur jou siel kan kyk en al die misdade raaksien wat jy al gepleeg het en nog gaan pleeg….

Toe nie….Wat ek wel weet van my nuwe status as “weduwee” is dat ek mense om my ongemaklik maak met my vreeslose, blymoedige optimisme….selfs die dominee!

Wat ek dan wel in hul gedagtes kan lees is :  Siestog, miskien ly sy nog aan skok? Of dalk is sy in denial? Watter pille het die dokter haar gegee?…Seker daai sterk soort sodat sy kan cope…Jy weet, sy het immers 2 klein kindertjies….O, shit…ek hoop nie die goed maak haar bossies dat sy die kleintjies in die bad versuip nie? Dit het mos al in die verlede gebeur? Of dalk is sy een van daai swaksinnige mense wat idioties glo :  “Hy sal weer kom, Hy sal weer kom op die wolke….”…Weet sy hy kom nie terug nie???

Dan maak ek vir hulle en vir my ‘n beker sterk koffie, steek ‘n lang, sterk sigaret op en se: “Ek hoop nie jy gee om nie ( I actually couldn’t care less), maar ek leef deesdae van kaffeien en nikotien….” Ons lag…en dan ontspan hulle in my teenwoordigheid…..Sommer net so….Vra miskien self vir ‘n sigaret en ontboesem….. Dan gesels ons oor hulle probleme en hulle vrese.  Miskien het my oe dalk nou net oopgegaan vir al die pyn en lyding om my (I was blind…but now I see?)

Vroeer die jaar sit ek en my man met nog iemand by die kombuistafel en bespreek een aand die dood….Ons is immers nie meer kinders nie en het al pa’s en ma’s afgestaan aan die dood….Se ek nogal, soos ‘n klein dogtertjie, vir die twee mans dat ek nog nooit iemand dood gesien het nie en wonder hoe dit is?  (Well, thank you dear husband for helping me to tick that off my bucket list…)

En daar staan ek toe by die Worcester Hospitaal (die agterkant) drie weke gelede….nie om alweer ‘n baba te kom haal soos die afgelope 5 jaar (by die voorkant) nie, maar om die dood face to face….te gaan face! Al die ou tannies van die dorp (die dominee ook….al sal hy seker nie graag in dieselfde asem as die gemeente tannies genoem wil word nie) het my met strak gesigte (sulke terrible begrafnis gesigte) probeer voorberei op wat ek gaan sien…..”Sterk wees my kind…”

Jislaaik, maar het ek myself opgesaaik vir die oomblik van waarheid (lang, groot dominee agter my, seker reg met die vlugsout in sy broeksak) en toe….

Daar le hy in diepe slaap…agter dik glas…amper soos ‘n wasbeeld in Madame Tussauds wat ek jare gelede besoek het….Sy doodsertifikaat se “Massiewe hartaanval”…..en tog…..oe half oop met ‘n glimlag op sy gesig….kan die dood dan so erg wees? Wat ek gesien het, het my herinner aan al die Lamentation beelde wat ek al in boeke en katedrale van Europa gesien het…Christus wat liefdevol slaap in die dood….so mooi!  Ek het diep in my gedagtes gedink: “Shit, jou bliksem…dit lyk lekker hoor?  No worries,no stress, geen vuil nappies en potty training vir jou nie!”

Dit was seker maar die skok, want toe ons later die middag daar wegry, vra die liewe, stil dominee of ek iets nodig het en ek antwoord sonder om tweekeer te dink : “’n Happy Meal by McDonalds ‘seblief…..”