Jy blaai in die argief vir 2012 Desember.

Vir Maryna. Was 11/9/2001 ‘n inside job? Wat dink julle?

Desember 29, 2012 in Uncategorized

My oudte seun kom nou die dag na ‘n paar biere saam met sy pelle met die bewering dat 11/9 ‘n inside job was. Die bewerings (met wetenskaplike bewyse), is soos volg:
• Nêrens in die geskiedenis het ‘n gebou ingeval as gevolg van hitte nie. Buitendien, jet fuel se maksimum temperatuur is veels te laag om staal te laat smelt.
• Die bewering is dat geplante dinamiet per verdieping gebruik is om die geboue te laat val. Dus: ‘n controlled demolition. Dinamietplofgeluide is duidelik hoorbaar op youtube videos. Nog geteuienis. Die inploffing van die eerste helfte van die geboue, het teen die spoed van ‘n vryvallende voorwerp aarde toe gekom. Dit is slegs moontlik met beplande dinamietladings per vloer.
• Die vliegtuig wat in die Pentagon vasgevlieg het is ‘n Anerikaanse vegvliegtuig en nie ‘n passasierstraler nie.
• WT7 (die derde korter gebou) is baie duidelik ingeplof nadat die 2 geboue geval het? Hoekom? Die gebou huisves sensitiewe inligting. Niemand het iets daaroor gese nie.
• Nege van die 18 beweerde loodse/lede wat getaak was om die vliegtuie in die geboue te laat vasvlieg, leef nog. Osama Bin Laden leef nog. Hoekom is Bin Laden se “begrawing” in die see nooit verfilm nie?
• Die visiepresident Dick Cheney het opdrag gegee dat sy kantoor in beheer van die lugmag se vloot is en dus kon die vliegtuie wat WTC nader, nie deur lugmagpersoneel afgeskiet word nie.
• Die nuus is versprei voordat die ongeluk gebeur het. New York se burgemeester het gereageer asof 11/9 reeds gebeur het, terwyl die eerste impak nog nie plaasgevind het nie.
• ‘n Week voor die tyd is massiewe hoeveelhede aandele van vliegmaatskappye verkoop, want die volgende dag sou hulle niks werd wees nie. ‘n Klomp fortuinsoekers met inside info wou gou ‘n paar pond maak.
• Baie evidence op die toneel is gou verwyder en vernietig.
President Bush was by ‘n skool en toe hy die nuus kry het hy eers veel later gereageer. Google 11/9 inside job en kyk die videos. Exciting stuff.

Interessant, die kommissie wat aangestel is om 9/11 te ondersoek, kom met beweerde feite wat ‘n eerstejaar ingenieurstudent sal laat lag. Kan die kommissie die wette van die wetenskap herskryf?

Wat dink julle?

Lekker naweek.

Dankbaarheid na Kleinboet se massiewe ongeluk gister.

Desember 15, 2012 in Uncategorized

Ons gesin dank ons Hemelse Vader en besef ons het rede tot intense dankbaarheid.

Kleinboet maak vir sy meisie ‘n pragtige handgemaakte geskenk van hout (’n kas om haar skildertoerusting in te bêre.) Hy ry gister gou hardewarewinkel toe om skarniertjies vir die pronkstuk te gaan koop.

Vyf minute later bel hy my. Hy praat onsamehangend en lig my in dat hy in ‘n massiewe ongeluk betrokke was. Ek jaag dadelik na die toneel en kry moeilik parkeerplek. Talle polisielede en hordes omstanders is reeds op die toneel. Sy pragtige Polo wat hy as geskenk vir sy puik matriekresultate ontvang het, is afgeskryf. ‘n Massiewe motorfiets het teen hom vasgejaag. ‘n Man wat die ongeluk sien gebeur het, beweer dat die motorfiets 150+ km per uur gery het.

Seun het ‘n massiewe knop op sy voorkop, maar het verder nie sigbare beserings nie. Die arme motorfietsryer is baie erg beseer, en die paramedics laai hom op ‘n draagbaar in die ambulans. Hy is tans nog in die intensiewe sorgeenheid.

Omstandighede en genade was aan sy (ons) kant. Die motorfiets het die kar teen die regteragterdeur getref. As dit die voordeur was, sou seun dit waarskynlik nie gemaak het nie. Vroulief daag op en vat hom onmiddellik dokter toe. Na ‘n deeglike ondersoek en ‘n inspuiting slaag seun die ondersoek.

Ons dank die Vader vir sy genade. Ons is trots op ons kind en is bly dat hy leef. Op 4 Desember het hy sy ouma met ‘n roerende huldeblyk in die kerk gegroet.

Ek en my gesin kuier gisteraand. Kleinboet noem toe dat hy dieselfde gevoel ervaar het as tydens ons massiewe ongeluk op 10 Julie 2005. Ek herhaal gou sy Ekspo-bekroonde gedig, wat ek reeds geplak het, om ons dankbaarheid in nuwe konteks te betoon.

Dankbaarheid

10 Julie 2005

‘n Swartdroog
dag breek in
vlymskerp
krummels op

Ons goedjies lê rond:
vergruisde vullis
langs die smal weg
na Potchefstroom

Soos verwarde
kuikens tuimel
ons voortydig
uit die nes

Ons dank U
Heer vir hierdie
wondermooi
geleende dag

Moedervalk se
wye omvouvlerke
breek hom sag
soos nat anysbeskuit

Vir oulaas alleen

Jare saam verdig
tot repies lig
niemand kon
hul geel, hul rooi,
hul flikkers sien

Die waansin-
mallemeulewiel
bly tol en wink
koebaai vir een
of meer van ons

‘n Mosaïek van blou
genadetrane stol
Die droom van sien
jul anderkant ‘n
skugter hartklop ver

Tien Julie flikker
teen ons stortvloed
vreugdetrane, Heer
oor en oor U
helder aangesig

Geheue-opdatering

Desember 14, 2012 in Uncategorized

Soms val nuwe gedagtes (en verbandhoudende ou strewes) mens by wat jou na die resitasielaai laat gryp om ou ware en geleefde verhaaltjies op te dateer.

Van Bondstraat tot Café 41

Ek sien ‘n brug, ‘n beraad
Vorster se ’75 brugberaad
Ek sien ‘n hek, memory
lane se geroeste hek

Grysdonker die kaats
teen Sterland se ruit
Stadig bring repies lig
soet memories terug

Die mooi girl langs Loftus
bond met ‘n naam en ‘n
nommer. Die Apies se brug
skif stunning memories oop

Dertig jaar later tokkel
vlietende vingerpunte die ou
ou wysie op ‘n ou 12-string
kitaar met nuwe snare

Aangrypend mooi verskyn ‘n
jong vrou teen ‘n Café se ruit
Verruklik ontwaak uit drie
dekades se winterslaap

Beste bokjol

Desember 12, 2012 in Uncategorized

Ek sien ons nuwe habitat kort meer resitasies. Toe gaan krap en in die ou laai en ets weer die buitelyne van ‘n mooi ware verhaaltjie

Die kort en lank van dié mooi aand
was dans: Hy die lange sy die korte

Eers die links- en regsomtwostep bemeester
en toe ‘n lafenissie oor die straat gaan soek

Toe sy subtiel die aand uitrek met
tintinkiesippies aan haar Fanta grape

moes iets gewerk het, dalk Brahms se wals
in A-mol met sy volrond rekakkoorde

dalk die metafoor wat knus
die aandlugsoelte soen

Sy trek ‘n traantjie los toe ek die song op
my knieë aan haar opdra en sagter speel

Loeloeraai se hoë stoeptrap vol belofte
aanskou toe net ‘n sagte drukkie, maar ook

“Thanks ouboet. Jy het my aand
verruklik gemaak“

Eenkantkoue

Desember 11, 2012 in Uncategorized

Jou eenkantkoue dwing my terug
op spore waar ons eenmaal was
elke klipomdraai bring nuwe skuld
soos van ouds
net feller
met dongas dieper
as ons eerste fout
Ek sien hoe jy ‘n nuwe landskap
weg van vrees karteer
hoe jou koue my laat my soek
na sin en matafore
maar herwaarts derwaarts skik my
metafore lank reeds
net in enkelspore

Toets

Desember 4, 2012 in Uncategorized

Ek volg die instruksies, maar so lyk ‘n foto wat ek geplak het

Huldeblyk aan Ingrid

Desember 2, 2012 in Uncategorized

Ek lees vanoggend in Rapport: Ingrid Jonker is al byna 50 jaar oorlede, maar steeds leef haar gees voort in werke soos Petrovna Metelerkamp se Beeld van ’n digterslewe en Paula van der Oest se rolprent Black Butterflies, wat verlede jaar verskyn het.

Nou werk die digter se dogter, Simone Jonker, aan haar liefdesprojek, ’n artistieke huldeblyk aan haar ma.
Toe stuur ek die volgende possie:

Beste Riana,

My seun Deklerk Naude het ‘n navorsingstuk oor Ingrid Jonker en “Die Kind” gedoen en is as landswenner in navorsing deur Afrikaans Ekspo aangewys.

Etienne van Heerden het die stuk op Litnet Seminaarkamer laat publiseer. Hier is die URL tp://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=53600

Al die groot kannonne, Antjie Krog, JC Kannemeyer, Abraham de Vries, Joan Hambidge en 50 ander het aan die navorsing deelgeneem. Hierdie stuk is uniek oor Ingrid
Jonker en kan ‘n puik bydrae tot julle publikasie/projek oor Ingrid maak.

Hier is ‘n opsomming:

Besoek die Afrikaans-Ekspo se webwerf: Kielie jou kreatiwiteit!

Ingrid Jonker se gedig “Die kind” wat deur oudpresident Nelson Mandela in die parlement voorgelees is, het plaaslike en internasionale reaksie uitgelok. Alhoewel daar breedvoerig oor die versoeningsgebaar berig is, is geen navorsing van omvang daaroor gedoen nie en dit het tot hierdie Afrikaans-Ekspo-navorsingsprojek aanleiding gegee. ’n Vraelys is aan kundiges gestuur om hul mening oor die versoeningswaarde van die gedig en Madiba se gebaar te bepaal. Die vraelys is deur 56 kundiges, wat die intellektuele room van Afrikaans insluit, voltooi.
Die oorgrote meerderheid kundiges is van mening dat dit ’n briljante skuif was en dat Madiba se gebaar Ingrid Jonker se ikoonstatus herbevestig het.

Met ’n 9-punt-skaal as basis is die versoeningswaarde van die gedig as bo gemiddeld beoordeel met ’n gemiddelde telling van 7,1. Sommige kundiges het die versoeningswaarde laag beoordeel en beskou die gedig selfs as opruierig; vandaar die laer telling in vergelyking met die gedig se literêre waarde.
Die literêre waarde van die gedig is hoër, op ’n gemiddeld van 8,01, beoordeel. Interessant is dat geen deelnemer die literêre waarde van die gedig werklik in twyfel getrek het nie – “Die kind” is volgens kenners inderdaad ’n goeie en pragtige gedig.

Kundiges het ook briljante insigte oor ander versoeningsgedigte met die navorser gedeel. Kenners se redes vir die sukses van die gedig het briljante insigte getoon wat volledig uiteengesit word. Die volgende bydrae vat Madiba se gebaar en die kern van die gedig mooi saam:
Ingrid Jonker kyk vanuit die donkerte en pyn van die tyd na ’n nuwe era en sien toe reeds iets groots vir Suid-Afrika. Madiba, wat die regte man op die regte tyd was, kon gestalte hieraan gee deur die digteres as sowel Afrikaan as Afrikaner te sien. Daardeur verkry die gedig ’n verdere diepere interpretasie en word so die brug van versoening in beginsel geslaan in ’n tyd van skeurvalleie, maar ook van afwagting.” (Prof Alex Antonites, filosoof en akademikus, Universiteit van Pretoria)

Hier oorhandig hy ‘n kopie aan die Nelson Mandela stigting nadat hulle een aangevra het. Hoe plak mens die foto hier?