Jy blaai in die argief vir 2011 Desember.

Mooi wense vir al my blogvriende

Desember 31, 2011 in Sonder kategorie

 Ja, die nuwejaar is ‘n paar uur weg.  

Bloggers wens mekaar sterkte en voorspoed  toe. Ek dink dit is pragtig en tekenend van kwaliteit menswees.   

 

Frannie (sorry, die woorde tannie en oom bestaan nie meer in my woordeskat nie) sê dit is lekker om te blog en sy gee 5 buitengewoon goeie redes.  

 

Ek stem saam en wil graag een byvoeg: Blogvriende.  Ek het julle nog nie met ‘n oog gesien nie, maar ons kuier soos pelle wat mekaar reeds jare reeds goed ken.

 

Mag julle jaar buitengewoon, besonder erg lekker wees. 

 

Ryk buurman het ons oorgenooi  plaas toe vir ‘n reuse makietie tot Maandag toe.

2012-stoepgroete

ouboet

DIE PEN IS MAGTIGER AS DIE SWAARD

Desember 31, 2011 in Sonder kategorie

 

I have a dream that one day on the red hills of Georgia the sons of former slaves and the sons of former slave owners will be able to sit down together at the table of brotherhood. I have a dream today.”  

 

Voorsitter, dames en here, in 1963 het Dr Martin Luther King een van die bekendste en beste toesprake van alle tye gelewer aldus Gadney in sy boek JF Kennedy. Met die media ten volle agter hom het hy met hierdie profetiese woorde veel meer vermag as die meeste oorlogmakers voor én na hom, en dit sluit die kryglustige Adolf Hitler in.  Volgens die boek the Olympic dream het hierdie kwaadaardige rassis geweier om Jesse Owens, ‘n swart Amerikaner, se blad te skud nadat hy vier goue medaljes tydens die 1936 Olimpiese spele in Berlyn verower het. Die nuus was in al wat nuusmedium is uitgebasuin en het selfs die naderende Tweede Wêreldoorlog oorskadu. Wat is dus my argument? Bloot die vraag: Is die pen inderdaad magtiger as die swaard?  Of beter gestel, is die hedendaagse nuusmedia werklik so magtig en invloedryk as wat beweer word?  Die antwoord is ‘n onomwonde ja.  Kennis en inligting is mag, en die media is een van die heel kragtigste draers daarvan.

 

Volgens die webtuiste inventors.com het die skrywer Edward Lytton die pen en swaard vergelyking in 1839 gemunt.  Dit was lank voordat koerante daagliks by huise afgelewer is, en meer as sestig jaar voor die uitvinding van die radio. Televisie, selfone en gevorderde sataliet-toerusting wat nuus kommunikeer terwyl dit gebeur was in niemand se wildste drome nie. Min het Lytton besef dat sy stelling gou kleintjies sou kry en ‘n totale gedaanteverwisseling sou ondergaan. Die pen het tentakels bygekry wat alle fasette van die media vandag geweldig magtig en invloedryk maak.  

 

Die media het deel van ons dink en doen geword en het die wêreld letterlik kleiner gemaak.  Televisie het die Desember 2004 Tsunami in ons woonkamers ingebring, danksy, Sky News, Reuters, CNN en ander instansies wat miljoene uit nuus maak. Die vlek op Monica Lewinski se rok was skaars droog toe volg sommige oorgeslaandes al die sappige verhaaltjie in technicolour op die Internet.

 

In Julie 2003 was ek bevoorreg om in New York langs ‘n plat stuk grond genaamd ground zero te staan. Vyf jaar vroeër was ek op dieselfde plek waar ek een van die tegnologiese wonders van die twintigste eeu, die pragtige toringblokke van die World Trade Centre, bewonder het.  Maar die verhaaltjie tussenin het my die krag van die media ten volle laat snap. Dit was op 11 September 2001. Die onbeskryflikste oomblik van my hele lewe speel in technicolour voor my oë af.  Miljoene tonne staal, beton en glas stort na benede soos ‘n sandkasteel wat omgeskop word. Drieduisend mense sterf. Die Manhattan eiland word deur ‘n enorme stof- en rookwolk verdwerg, alles op die TV skerm. 

 

Die pen kan soms ‘n vlymskerp beeld word, en die swaard kan die gruwelikste vorm van lafhartigheid anneem. Hierdie spook wat teen die spoed van lig beweeg skep beslis ‘n paar nuwe drogbeelde van penne en swaarde. Maar die media het sy mooi en opbouende kant. Die media maak ons nippy en slim. Mense verwerf grade sonder om ooit op ‘n universiteitskampus te kom en kinders voltooi hul skoolloopbaan voor ‘n rekenaar, danksy die kragtigste medium van ons tyd, die Internet.

 

Nuusdekking terwyl dit gebeur het ‘n totaal nuwe dimensie aan menswees verskaf.  In die outyd moes mense jare en selfs dekades wag om inligting te kry. Die boek 1000 great events deur Brenda Lewis beeld treffend uit hoedat ontdekkings rondom spoed die mens se lewe ingrypend verander het, en die media speel hier ‘n groot rol. Nie baie lank gelede nie het nuus teen die spoed van ‘n ruiter te perd beweeg. ‘n Koerant of enige ander vorm van nuus het dae, selfs maande en jare geneem om verafgeleë plekke te bereik. Vandag is nuus online en beweeg teen die spoed van lig.  

 

Maar die media het ook ligter oomblikke. Volgens die boek, Naudé-familiekroniek het my oupagrootjie se laaste jare as wewenaar uit twee daaglikse hoogtepunte bestaan: Sy koerant en en sy opelyf.  Menige oggend het die media en die lyflikheid saamgeval in die aartsmoeder van hoogtepunte. Ai Oupa, in julle tyd kon julle verskonings uitdink lank voordat die nuus die buurplaas bereik, of julle kon die ding betyds reglieg soos die voortydige broodjie in die oond wat julle versag het met ‘n vroëe geboorte.  Maar die ding van online Oupa, dis ‘n ander ding .. dis ‘n vinnige ding…… dis nie ‘n longdrop nie Oupa…..Hy val waar hy wil.

 

Ek Dank u.

Die emosie van Afrikaans

Desember 30, 2011 in Sonder kategorie

 

“Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig

sonder fênsie leestekens

sonder woorde wat rym

sonder bywoorde

net sommer

‘n kaalvoet gedig”

 

Voorsitter, dames en here,

 

Wie van u het nie ‘n warm gevoel ervaar by die aanhoor van hierdie soet openingswoorde van Antjie Krog se groot meesterstuk nie? Ek dink Ma is een van die heel mooiste gedigte in die heel mooiste taal wat ek ooit gehoor het. Kan enige ander taal emosies so raak verwoord soos Afrikaans? Ek glo nie, maar Afrikaans was nie altyd so mooi nie. In die gesaghebbende boek Afrikaans, sy aard en ontwikkeling bespreek Professor H van der Merwe ‘n aantal persepsies oor vroeë Afrikaans, onder andere:

 

  • Afrikaans is ‘n verbasterde vorm van Hollands
  • Afrikaans is die taal van half- en ongeleerdes, van mense van die mindere stand

 

Afrikaans (die kombuistaal) is met Hollands (die taal van geleerdes) vergelyk. Bid u aan: Afrikaans is as ‘n kombuistaal beskou!  Maar, hierdie kombuistaal het veredel, en wie stel dit mooier as grootmeester DJ Opperman in sy gedig Digter?

 

“en in die geel gloed van die kers

snags deur die smal poort

van die wonder elke woord

laat skik tot klein stellasies vers”

 

Kan enige ander taal gevoel beter beskryf as Afrikaans? Eietydse Nedelands is deurspek met Engelse woorde. Afrikaans doen dit baie meer subtiel ………………………..en cool. Die fynste emosie van Afrikaans, met ‘n tikkie humor, word meesterlik vasgevang deur Peter Snyders in sy gedig: Ek is oek important.

 

As al djulle geldgatte

Djulle geld gespendit

En djulle bananaskille

In die slooitjie gegooi het

En djulle bustikits

Soos confetti gestrooi het

 

Dan kom ek

En maakie wêreld weer skoon

Soe

Ek is oek important

 

Emosies is ook sensasies. Opperman se gediggie sproeireën vertel ‘n sensasionele verhaal vol emosie:

 

My nooi is in ‘n nartjie,

my ouma in kaneel

daar’s iemand …iemand in anys

daar’s ‘n vrou in elke geur

 

Afrikaans het tot wasdom ontplooi. Afrikaans is jare reeds ligjare verwyderd van Hollands. Sprekers van die twee tale verstaan mekaar nie meer nie. Suid-Afrika het sy eie kultuurtaal geskep, veel mooier as Hollands, waaruit hy aanvanklik ontstaan het. Die kombuistaal is vandag die taal wat ‘n mosaïek van emosies in sy eiesoortige en soet idioom weergee.

 

Voorsitter, vergun my die kragtigste en objektiefste argument denkbaar om my punt te bewys. Veertien jaar gelede het ‘n internasionaal-bekende ikoon, ons eie Madiba, vir Ingrid Jonker in die annale van die geskiedenis verewig met die voorlees van haar gedig Die kind in die parlement. Die slotstrofe van hierdie aangrypende gedig het geen verdere verduideliking nodig nie:

 

“die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals

die kind wat ‘n man geword het trek deur die ganse Afrika

die kind wat ‘n reus geword het reis deur die hele wêreld

 

Sonder ‘n pas”

 

Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig ma

‘n kind en Ma het in my binneste gestol ma……..

……tranerig en…..

………erg emosioneel ma…….

in die taal wat ma my geleer het……

…….in my mooiste moedertaal……

 …….in Afrikaans ma…….

Né ma

Tyd

Desember 29, 2011 in Sonder kategorie

Het julle ook help speech skryf vir die kinders?

 

Vrou, jy’s alweer laat. Skiet skiet mik later jy’t net drie sekondes .. die bok gaan wegkom. Klink die sentrale tema vir u bekend?

 

Voorsitter, dames en here,

 

Ek hou aan u voor ‘n grootsheid genaamd tyd.  Tyd kan of jou vriend of jou vyand wees. Die keuse is eenvoudig: Bestuur jou tyd goed en hy’s jou vriend. Bestuur jou tyd swak en hy’s jou vyand. Tyd is my vriend want tyd is kosbaar, soos wat ware vriende altyd kosbaar is. Tyd is meer werd as goud, en onthou tyd kan nooit teruggedraai, gesystap of gestop word nie. Ons kan tyd net bestuur of nalaat om dit te doen. Soos wat die horlosie tik en tik gaan kosbare sekondes verby. Op dertien het die sekondewyser al meer as 410 miljoen keer vir my getik: kosbare sekondes wat of weggegooi of as ‘n belegging bestuur kan word.

 

Dertien jaar het my mooi sekondes gegee, én die voorreg om hulle te belê. Tussen hierdie twee bakore is ‘n hardeskyf vol kosbare herinnerings, en wie moet ek bedank? My groot vriend, Vader tyd. Die vriendelike sekondes moet ek net bestuur.

 

Dan is daar natuurlik die ander siening. Volgens Beeld van 6 Junie 1986 het ‘n fotograaf ‘n vooraanstaande lid van die Britse koningshuis afgeneem waar hy vir meer as twee uur absoluut uitdrukkingloos met oop oë na ‘n verspotte klippie gestaar het. Tyd moet sy vyand wees, want wie gooi 7 200 sekondes net so weg?  Sommige mense slaap tot twaalfuur bedags terwyl die voëls buite sing. Eisj ! 


Die Boek van alle tye bevat die boodskap van alle tye in Spreuke 6 vers 10. Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande vou om uit te rus. Sommige mense rus hulself tot die dood toe moeg. Niksdoen smeek om ‘n vyand van tyd te maak. Die bestuur van tyd laat my aan ‘n stukkie Langenhoven-wysheid dink: Hy wat die besigste is, het gewoonlik die meeste tyd, maar vir sommige mense het laatkom ‘n voltydse beroep geword.

 

Maar, tyd het ook ‘n ander dimensie. Tyd is relatief. In sy boek A brief history of time beskryf die briljante Stephen Hawking die absolute grootsheid van tyd. Alles vind binne ‘n raamwerk van tyd plaas, wat natuurlik relatief is. Sommige sterre skyn nog, relatief gesproke, maar bestaan lankal nie meer nie.  Sonder my groot vriend, Vader tyd, kan ek ook nie dink nie en nie eens probeer om Black Holes te verstaan nie. Terloops, ek wou die term Black Hole in Afrikaans vertaal, maar dit het nie lekker gewerk nie. 

 

Die vertaling van die pragtige opmerking op die boek se voorblad het ook nie gewerk nie. “This book marries a child’s wonder to a genius’s intellect.” Tyd is dié dimensie, dié wondergom wat die lewe aanmekaarhou. Bestuur hom goed en jy’t ‘n vriend. Doen dit nie en die vyand suig jou in soos ‘n Back Hole. Ek vermoed dit is maar winderig en donker daar.

 

Dames en here, besef u dat ek reeds drie minute lank praat. In hierdie tydjie is daar wêreldwyd 330 mense dood, 70 hektaar kosbare reënwoud verwoes en 30 mense met die MIV/VIGS virus besmet, aldus toekomsghuru Clem Sunter in sy boek The New Century.

Tyd kan ‘n vyand wees, veral as jy hom net los. Maar, in hierdie einste kosbare 3 minute is 126 huwelikke voltrek en 735 pragtige kindertjies gebore, nie noodwendig in dieselfde volgorde nie. Tyd, my groot vriend, dankie vir die voorreg om jou te kan bestuur. 

 

Dames en here, tyd word nie net in minute en sekondes gemeet nie. Afrikaans kan ook in die grootsheid van tyd uitgedruk word. ‘n Stukkie tydlose Afrikaans word treffend deur oom Kallie Marie, of eerder Casper de Vries verewig. Al slaan jou ma my drie maal op die kop, dan staan ek op, en dan kom ek weer. Sjee my net ‘n bietjie meer tyd. Nou het my vriend tyd my ingehaal, maar dit was lekker………… eisj 

Vir Inshitnia. Moenie swak diens aanvaar nie

Desember 29, 2011 in Sonder kategorie

My beleid is dat as mens vir iets betaal is jy geregtig op goeie diens. Diens is swak want ons aanvaar dit te maklik. Maak golwe en geniet die resultaat. Hier is ‘n voorbeeld.

 

As gevolg van die 2004 Tsunami neem toerisme na die rampgeteisterde gebiede in die Ooste beduidend af. In ‘n poging om die situasie te normaliseer word goedkoop toerpakette na Phuket toe aangebied en ons ons besluit om te gaan.

 

‘n Nuwe lugredery bied ‘n baie goeie pakket aan wat ‘n gratis nag in Abu Dhabi insluit.  Sestien Suid-Afrikaners is deel van die groep. Ons word groot pelle daar. Die nag in die pragtige woestynstad word toe grootliks op die  lughawe deurgebring as gevolg van swak beplanning. Ons kry swak kos en niemand neem ons klagtes ernstig op nie. Eers teen drieuur die volgende oggend is ons na die hotel geneem. Almal is kwaad en voel ingedoen.

 

Terug by die huis neem ouboet die aangeleentheid “op die hoogste vlak” op, dreig die lugredery met litigasie en haal selfs uit die Grondwet aan om die vernederende ervaring in perspektief te stel.

 

Hy dreig hulle met enorme siviele eise en haal aan uit die gedragskode van die internationale beheerliggaam (IATA) en derglike instellings. „Quote a clause“ en selfs grootbase skrik. Die resultaat van die geveg: Die lugredery bied al 16 Suid-Afrikaners ‘n gratis vlug na enige oorsese bestemming wat hulle bedien aan. Ouboet se taktiese woorde en stylvolle vasbyt maak van hom ‘n held. Die sestien pelle hou kontak per epos en deel hulle ervarings van die gratis  aanbieding.

ouboet verjaar vandag

Desember 28, 2011 in Sonder kategorie

Dit is ‘n ware verhaal.  Ma het gedruk vir Kersfees. Toe werk dit nie. Toe knyp sy vir nuwejaar. Toe werk dit ook nie.

Ewenwel, geniet julle dag.

Stoepgroete,

ouboet

Suid Afrika groet ‘n reus

Desember 27, 2011 in Sonder kategorie

Prof JC Kannemeyer wat as die wandelende biblioteek van die Afrikaanse letterkunde  bekendgestaan het, is Kersdag in Stellenbosch aan ‘n beroerte oorlede. Ons verloor ‘n reus en eer sy besonderse nalatenskap.


Prof Kannemeyer het my jongste by 3 geleenthede onbaatsugtig en meesterlik gehelp met sy Afrikaans-Ekspo-projekte, deur of vralyste in te vul of opinies per epos te gee. Al wat hy wou gehad het is ‘n gebinde kopie vir sy boekrak, wat Kleinboet dan met groete en dank Stellenbosch toe gestuur het.

 

Die feit dat ‘n grootmeester sy werk opsy skuif om ‘n skoolkind te help, is werklik prysenswaardig.


In 2010 was sy onderwerp: “D.J. Opperman as skeppende reus, held en rolmodel van Afrikaans: ’n Perspektief geïnspireer deur die wandelende biblioteek van die Afrikaanse letterkunde“ Weer eens het Prof Kannemeyer ‘n reuse bydrae gelewer. Ek haal Kleinboet aan uit sy nasionaal bekroonde werk:

 

Hy skryf:

 

Ek ag myself buitengewoon bevoorreg om ’n baie spesiale stuk deur prof Kannemeyer aan te haal wat in geen van sy publikasies voorkom nie, aangesien hy dit spesiaal vir my geskryf het.  Ek beskou myself geroepe om kommentaar in kursief by te voeg.

 

“Reeds tydens my jare op hoër skool het ek kennis gemaak met die poësie van D.J. Opperman en alle bundels van hom wat toe gepubliseer was, vir myself aangekoop. Ek het onder die indruk gekom van sy besondere beeldende vermoë, die kriptiese wyse waarop hy verbande tussen ver uiteenliggende sake kon lê en die hegte konstruksie van sy verse. As ek poësie kon of wou skryf, sou ek graag wou hê dat my poësie soos dié van Opperman moes wees. Maar afgesien van  ’n gebrek aan talent was juis dít waarskynlik die rede waarom ek nie verder op dié pad ontwikkel het nie. Toe ek Opperman in 1960 as een van sy studente in die honneurs die eerste keer persoonlik ontmoet het, was sy sterk historiese bewussyn, sy besef van ’n literêre tradisie en sy afkeer van epigonisme vir my dadelik opvallend. En ek wou nie epigoon van Opperman wees nie!

 

Prof, geen mens kan in al die letterkundige genres ewe goed wees en op u vlak merk maak nie. Die “gebrek?” aan digtalent het u kans gebied om inderdaad die wandelende biblioteek van die Afrikaanse letterkunde oor al die genres te word. Ek vermoed laasgenoemde verg heelwat meer talent. Aangesien ek nog woordskepper nog kritikus is, interpreteer ek bloot u brief.

 

Duidelik het Opperman reeds op skoolvlak ‘n beduidende invloed op Kannemeyer gehad. Hy het sy werk reeds as kind waardeer. “….ek wou nie epigoon van Opperman wees nie!” dui op objektiwiteit deur Kannemeyer en nie bloot die van emosie Opperman se poësie nie. Persoonlike kennismaking met die digter op nagraadse vlak het Kannemeyer, wat toe reeds ‘n Afrikaanskenner van statuur was, in staat gestel om Opperman verder objektief te leer ken en waardeer.

 

“Hoewel Opperman dus nie ’n dosent van my in my voorgraadse jare was nie, het ek in 1960 besluit om die geleentheid te gebruik en ook alle voorgraadse kursusse van hom as besoekende student by te woon. Dit was vir my ’n verrykende ervaring en bepalend vir my verdere ontwikkeling. ”

 

Om op nagraadse vlak voorgraadse klasse vrywillig by te woon wil nogal gedoen wees. ‘n Skrander Honneursstudent erken dat voorgraadse  lesings deur ‘n meester tot sy eie verdere ontwikkeling bydra.

 

“Wat my telkens in sy voorlesings getref het, was die uiters logiese en geordende verdeling en aanbieding van die werk, die wyse waarop hy die jong student aan die belangrikste bronne kon bekendstel en sy vermoë om die hoofpunte van ’n saak kernagtig, sistematies en begryplik saam te vat. Dikwels kon hy die kern van ’n hele digterskap, ’n betreklik omvangryke gedig of ’n bepaalde aspek van ’n oeuvre aandui en terselfdertyd riglyne vir verdere ondersoek aan die hand doen wat die student dan self kon opvolg.”

 

Die struktuur van Opperman se gedigte kan heel moontlik direk na sy logiese werkswyse as dosent herlei word. Ons het dus met veel meer as ‘n skeppende woordkunstenaar te doen. Dit wat mens in sy gedigte raaklees word sistematies aan sy studente oorgedra sonder dat hulle hom slaafs navolg. Opperman leer studente interpreteer en gee riglyne eerder as “resepte.” Kreatiwiteit met woorde word sodoende gestimuleer. Kernagtigheid dui ook op Opperman se gawe om baie in min woorde te sê. Die essensie van iets groots vind beslag in min woorde.

 

“Hy was geensins ’n dogmatiese dosent nie, maar iemand wat probleemstellend te werk gegaan het en op dié wyse die student verder aan die dink gesit het. Ek onthou sy enorme belesenheid, die wyse waarop hy die student aan ’n skat van inligting kon bekendstel, maar veral hoe hy vanuit dié kennis ’n verrassende aspek van ’n gedig kon belig en op dié wyse ’n hele wêreld vir ’n mens kon laat oopgaan.”

 

Ten minste die volgende gawes van Opperman val op:

 

  • Goeie probleemstellings is die voorvereistes vir sinvolle oplossings. Hierdie gawe is uiters belangrik uit ‘n skeppende sowel as kennisoordragingsperspektief.
  • Mens kan bloot nie briljante gedigte skryf sonder om baie gedigte te lees nie. Goeie oordrag van kennis is ook nie moontlik sonder belesenheid nie.
  • Opperman se skat van inligting kon inderdaad “ ’n hele wêreld vir ’n mens kon laat oopgaan.”

 

“Hy  het nie, soos mindere geeste, in teorieë verstar nie. Sy voorlesings was ’n pragtige balans van oorsig en insig, ’n sintetiese en analitiese benadering van die letterkunde, ’n verbinding van teorie en literatuurgeskiedenis aan die een kant en die praktyk van die letterkunde aan die ander kant.

 

Die verwysing na mindere geeste herbevestig dat Opperman inderdaad geen mindere gees was nie.

 

As ek vandag aan Opperman terugdink, onthou ek sy onopgesmuktheid. Daar was geen vertoonsug by dié man nie, in teenstelling tot so baie mense wat van allerlei klein kunsies gebruik moet maak om hul belangrikheid te illustreer. As hy indruk gemaak het – en dit het hy altyd gemaak op mense naby aan hom –  was dit deur sy hele wese as mens, nie deur een of ander stuk aanplaksel nie. Daarby is daar sy ontsettende eerlikheid en integriteit. Daar was geen bedrog in hom aanwesig nie.

 

Die reus se nederigheid, onopgesmuktheid, eerlikheid en integriteit verleen verdere statuur aan ‘n meester wat ek deur sy gedigte leer ken het.

 

“In die jare 1975-1981 was ek sy kollega op Stellenbosch en het ons toegeneentheid tot mekaar en ons vriendskap verder ontwikkel. Ek het min mense in my lewe geken met wie ek so eerlik, hartlik en direk kon gesels. Hy het dikwels, tot ergernis van baie van sy studente, dikwels in halwe sinne gepraat, maar vir my was dié halwe sinne dikwels sleutels tot ’n volkome begrip. Ek het nie grammatikale volledigheid nodig gehad nie.

 

Is halwe sinne nie deel van Opperman se gawe om veel meer te sê as min woorde nie? Grootmeester het ‘n unieke gawe aan sy “leerling” oorgedra. Dit is dan ook geen wonder dat Prof Kannemeyer as die grootste kenner van Opperman se werk beskou word nie. Hy dink ten minste op die vlak van sy leermeester. Tydens verlede jaar se projek het ek lank geswoeg om “Gebed om die Gebeente mooi te verstaan”. Toe verwys   Prof Kannemeyer my na sy opstelle, en toe eers gaan die lig aan.   

 

“Ek is gelukkig dat Opperman en my paaie in ’n betreklik vroeë stadium van my lewe met mekaar gekruis het. ’n Mens is dankbaar daarvoor. So ’n mens vergeet jy nooit nie.

 

Veral nie met ‘n olifantgeheue nie.

 

“J.C. Kannemeyer

“Kleinste” Kersfees ooit, maar tog baie lekker

Desember 26, 2011 in Sonder kategorie

Weens ‘n warboel van redes kon die meeste familielede nie gister se kersete (wat gereeld roteer) bywoon nie. Toe eindig ons met net 7 mense by swaer John se huis.

Toe was die ete en die hele fees lekkerder as gewoonlik, want ons kon meer sinvol gesels. Die sewe mense het my voltallige gesin van 4 ingesluit.

Eintlik is dit harde werk as meer as 20 mense opdaag. Dit is seker amper soos skoolhou. Hoe minder kinders in die klas is, hoe meer is die persoonlike aandag.

Ek en swaer tel toe. Ons het reeds 31 Kersfeesetes saam geniet.


Groete,

ouboet

Vrede en voorspoed vir almal

Desember 24, 2011 in Sonder kategorie

Mag julle Kersfees hartroerend gelukkig wees.

Mag almal iets lekkers te ete kry en vrede vind.

Vanoggend toe ek voorraad gaan aanvul, het die  hulpbehoewendes wat my pad gekruis het, my beduidend hartseer gemaak.

Toe tip ek die karwagte en stop die bedelaar by die robot (‘n afgeleefde vrou met beduidende hartseer in haar oë) iets in die hand.

Terloops, bestaan daar ‘n mooier lied in die heelal as Stille Nag?

Vanaand gryp ouboet jnr die kitaar en kleinboet skuif agter die klavier in.

Hulle weergawe van Stille Nag met pragtige kabbelende fyn nootjies en verruklike invalshoeke is meesterlik. Die 12 string Yamaha en 112 jaar-oue Julius Feurich waarop pa Koos Lapaloma so mooi gespeel het, betower mens nogal. Seuns se musiektalent kom van oupa Koos en hulle ma af. (Ai dit is so lekker as ‘n leek met talent omring word)

Dit het tradisie geword dat my twee seuns die gesin Oukersaand met musiek vermaak. Hulle is nie net broers nie, maar ook die grootste pelle denkbaar.

Gisteraand het hulle heildronke op mekaar ingestel. Jongste het sy eerstejaar  in chemiese ingenieurswese “redelik goed” gepass en oudste is “op grond van kreatiwiteit en harde werk” bevorder. 

 

Stoepgroete,

ouboet

Sterkte Lou

Desember 16, 2011 in Sonder kategorie

Lou,

Hiermee wens ek vir jou/julle namens blogland sterkte toe met jou ma se begrafnis.

Die kere wat jy oor jou ma geblog het, was  jy vol waardering en lofprysing. Welgedaan.

Sterkte met die begrafnis. Ek dink die hele blogland gaan aan julle dink en in gedagte saam met julle wees.

Ai, so kort voor Kersfees?

Om ‘n ouer te verloor is erg. Op 24 het ek my pa in die stampvol kerk gegroet.

Sterkte en berusting

ouboet.