Jy blaai in die argief vir 2011 November.

Ouboet is die bliksem in

November 24, 2011 in Sonder kategorie

Swak (of geen) beplanning waarborg ‘n AEF. Dit staan vir Aartsmoeder van Ernstige Foute. (Laaste woord eindig met “kops”)

 

Ek was  besig om te dink hoe lekker ek en my dierbares  vir 10 dae by die see gaan ontspan. Dit was ‘n ware verhaal to so twee/drie uur gelede.

 

‘n Kliënt bel my. Die Direksie soek verslag X eerskomende Woensdag, heelwat vroeër as wat kontraktueel ooreengekom is.

 

Ek meld dat ons moreoggend op vakansie vertrek en eers 5 Desember terug sal wees op kantoor, soos wat ek hulle lank gelede reeds ingelig het.

 

Sorry, jy MOET ons help. Ons sal al jou kotes betaal om ons Maandag en Dinsdag te kom help.

 

Dus, Sondagaand vlieg ek terug en sluit weer Dinsdagaand by my gesin aan, as alles volgens plan verloop en nuwe vars foute nie ontdek word nie.

 

Sulke goed maak my werklik die bliksem in.

 

Nietemin, lekker aand

 

Stoepgroete,

 

ouboet

30 Seconds. Trappe van vergelyking in die courtingsproses. Wat is stap 7?

November 21, 2011 in Sonder kategorie

1                     Geselserig

2                     Bellerig

3                     Kuierrig

4                     Soenerig

5                     Vryerig

6                     Vatterig

7                     …..erig

8                     Trouerig (of nie)

9                     Doperig

10                 Rondkykerig

11                 Jollerig

12                 Moeilikheid

Groete

‘n Bloglekkerte

November 20, 2011 in Sonder kategorie

Ek en Anha het seker 2 jaar laas gefight. Dit is prysenswaardig.  In fact, dit it moerse want ek het nie gedink dit is moontlik nie.

OK Ouboet, wat is jou punt?

Na die beste van my wete is sy seker die mooiste girl wat blog, en beslis  een van die heel skerpstes. So what? Ons kuier op mekaar se blogs sonder om kwaad te raak. Ouboet like dit want mooi en slim girls kuier op die stoep.

Vir die oorgeslaandes: Jammer die “oom” raak meegevoer deur riskante aanvalligheid.  Gelukkig weet julle ek het nog nooit voorgedoen dat ek die kuisste boorling in die voormalige land van melk en heuning is nie.

MAAR julle sal erken, Ouboet het ‘n besonderse insig in en waardering vir die beter geslag.

 

Mooi dag verder.

 

Stoepgroete,

ouboet

Reunie. Nog stukkies opstel

November 19, 2011 in Sonder kategorie

Ons 40ste matriekreunie vind plaas op 11 Februarie 2012 , so 3 maande na die vorige geskeduleerde datum. Ouboet het opdrag gekry om ou en nuwe opstelle saam te vat in ‘n “versamelde werk” wat daai aand uitgedeel sal word. Hier is nog ‘n stukkie

Mnr. Tom Marais wat vir ons Duits gegee het en ook ons klasonderwyser in matriek was, het van al my onderwysers die grootste indruk op my gemaak. Ek vertrou dat lesers uit die onderhawige tydperk my die ietwat gedramatiseerde weergawe van oom Tom se verhaal sal vergewe. Hy was werklik ‘n groot gees.

Ek het eenkeer in my lewe gekrip (crib).Ons moes ‘n moeilike Duitse woordeskattoets skryf en daar was konsensus onder ‘n paar van ons om vier bladsye uit die handboek te skeur en as riglyn tydens die toets te gebruik. Ons sou later die blaaie netjies met sellotape terugplak. Toe ons groep bloot gemiddelde en aspirerende innoveerders beter vaar as ‘n konsekwente toppresteerder, het sy iets vermoed en gaan kla. Oom Tom het ook snuf in die neus gekry. Ons moes kon dink dat ‘n sprong van iets in die vyftig tot volpunte iewers ‘n klokkie sou lui. Die speurwerk het begin en houers van boeke met die teruggeplakte bladsye is na die hoof, Mnr.Grabe, se kantoor begelei.

‘n Paar van die bestes was ons, die hoofseun inkluis, se lot, en sy dreigemente het kort duskant die Minister van Onderwys se kantoor gedraai. Die inboeseming van vrees was een van die vernaamste strategieë van die ou orde. Dit is na die beste van my wete die eerste en enigste keer wat ‘n skoolhoof my met ‘n rottang in sy kantoor geslaan het.  Hierdie nadere kontak met FOF se opvolger was my eerste en seker ook enigste. Indien hy ander kwaliteite gehad het, het hulle my dus grootliks ontglip.

Oom Tom was ‘n belese man. Uit hoofde van sy vakgebied het hy veral baie van die Duitsers se rol in die Tweede Wêreldoorlog geweet. Hy het ons onder andere vertel van die tegnologie wat hulle in staat gestel het om ‘n volledige brief in ‘n punt aan die einde van ‘n sin vas te vang en te ontsyfer. By die geringste poging om sy kennis te tap het hy erg onderhoudend en sinvol aan die praat geraak. Almal het aan sy lippe gehang.

Ons het later beurte gemaak om iets oor die oorlog te gaan oplees en oom Tom aan die begin van ‘n dubbelperiode met ‘n kernvraagstuk of tema met meriete gekonfronteer. Sê net iets aanvegbaars en jy het sy onverdeelde aandag en taktvolle regstellings met die nodige ondersteundende verklaring vir ‘n volle twee periodes. Afhangende van die kwaliteit van die navorsing wat die betrokke lid van die klas gedoen het, het oom Tom vir twee volle periodes aaneen oor die onderwerp uitgebrei, en op hierdie manier het ek besonder baie van Duits begin hou.

Een aand in 1986 in ‘n kroeg in die skilderagtige mooi dorp Ludwigsburg in Duitsland het ek ‘n oppervlakkige dog onderhoudende gesprek met die kroegman in Duits gevoer. Die diensmeisies daar, dis nou dié wat die beddens opmaak, is van ander stoffasie as die waaraan ons in donker Afrika gewoond geraak het. Hulle gebruik parfuum wat jou gedagtes koggel.

Oom Tom se voorlesing uit Die Biene Maja was aangrypend mooi. Met die ontsyfering van Duitse dokumente tydens die genalogiese navorsing het oom Tom se onderrig ook handig te pas gekom. Onderwysers soos dié is die sout van die aarde. Op universiteit het ek oom Tom ‘n keer of wat in die Universiteitsoordkerk raakgeloop en ons het lekker oor die ou dae gesels.

Snaaks genoeg, die onderwyser wat die minste, indien enige, indruk op my gemaak het, was ook by taalonderrig betrokke, vir die standerd sesse. Dalk is dit beter om nie die kalant se naam en van te noem nie. Toe hy eendag die enigste sinvolle opmerking wat ek ooit uit sy mond gehoor het in die in die klas maak, iets soos ‘n grootse prestasie deur iemand iewers vêr, het ek my waardering met ‘n effense sis-fluit deur die tande bekend gemaak, amper soos wanneer jy jou waardering vir ‘n mooi meisie spontaan tot uiting bring.

“Wie het gefluit????  Wie het gefluit, vra ek???? Laat die voël wat gefluit het onmiddellik opstaan en saam met my kom.” Ek het sy waansinnige afwagting sover moontlik uitgerek en my uiteindelik aan die oordeel van die groot orde oorgegee. “Quit the fight my mate. The order wins.” Hy het my buite die klas gaan straf vir die ongemanierde daad met vyf van die beste of so iets. Sy grinnikende orgasme roep ek nog vars in die herinnering.

Oom Tom verdien ‘n pluimpie dat hy my die voorliefde vir die Duitse taal aangeleer het, die wankelrige fondamente ten spyt.

Wat is jou grootste droom?

November 18, 2011 in Sonder kategorie

Ek het 5 kleinkinders, waarvan ten minste 3 kleindogters is

Ek het ‘n Gulfstream G 650 met 2 pilots wat my vat waar ek wil wees

My beter  hefte beleef my so paraat soos op 25

BBBEE het bedaar

Mugabe is vervang

Groete

ouboet

Sal jy??

November 17, 2011 in Sonder kategorie

Sal jy iemand/’n vriend(in) wat in ‘n buite-egtelike verhouding of affair betrokke is, se ander helfte daaroor inlig?

Ek dink mans en vrouens mag dalk hieroor verskil.

Die beste antwoord wat ek op hierdie vraag gekry het, is van ‘n oud kollega wat jare gelede die kat geknyp het.

Sy antwoord was bloot: Hoekom onskuldige mense by ondraaglike pyn betrek?

OK, sommige van julle gaan ouboet seker aanvat. So be it.

Mooi aand

Stoepgroete

ouboet

Die woord boks (nie baklei nie) is in die HAT opgeneem

November 16, 2011 in Sonder kategorie

Petronell se inskrywing met die stukkie: “Tik tik tik – jy’s ‘n bliksem!  Tik tik tik – en jy ‘n sinoniem vir boks!” het my laat dink aan ‘n oud onderwyser.  

Hy was die eerste onderwyser wat die ou orde verbreek het en ‘n modeuse ligpershemp aangetrek het. Gekleurde hemde en bont breë dasse, meestal saam ‘n sellofaanbedekte boks verpak, was daardie tyd hoog in die mode. (Die woord boks is in die HAT opgeneem, blykbaar om verwarring te voorkom, aangesien die eens meer aanvaarbare en suiwerder sinoniem verwys na meer as net kartonhouers).

Groete

ouboet

Sorry, ek wens iemand kan ons help met die fontgrootte

Lysie

November 15, 2011 in Sonder kategorie

Noem 3 dinge waaroor jy mal is op die oomblik:

My vrou

My kinders

Kos

Noem 3 dinge wat jy vir jou 20 jarige self sou wou sê as jy kon terugreis in tyd:

Gaan vir die konserwatiewe girls 

Speel meer klavier

Moeie ‘n geleentheid miskyk nie

 

Wat is die 3 (of meer) dinge wat jy voor jou siel weet jy eintlik behoort aantewerk wat jouself aanbetref:

My humeur, is ook giftig

Ek behoort meer te beplan vir aftrede

Ek moet meer aandag aan my geliefdes gee

 

Waarvoor is jy bang:

Engtes (klausterfobia)

BBBEE

Ongelukke

 

Wat maak jou kinderlik opgewonde:

Reen

Vrede

Oorseegaan

 

Watter 3 films wat jy onlangs gesien het, het ‘n impak op jou gemaak:

Lanklaas gefliek

 

Noem 3 goeie gewoontes:

Werk hard

Skryf baie

Staan vroeg op

 

Noem jou 3 slegste gewoontes:

Raak kwaad vir karwagte wat my uitbeduie 

Vloek taxidrywers wat voor my inswaai 

Hou nie van enige vorm van wag nie

30 seconds

November 15, 2011 in Sonder kategorie

Hier is ‘n maklike enetjie

Tyd

Lees

Geskiedenis

Slim

Mooi dag verder

Stoepgroete,

ouboet

Memory lane

November 14, 2011 in Sonder kategorie

 

Sorry ek het hierdie stukkie geplak toe ek begin blog het, maar toe kon ek nog nie foto’s of songs plak nie

Ek het haar Tinktinkie gedoop, en eenkeer vir haar ‘n geel T-shirt, die kleinste size wat beskikbaar was, gekoop, en haar troetelnaam in swart daarop laat afdruk. Dalk het die spelfout (weglating van die eerste “k”) die fondament van ‘n tragiese einde gelê. Hierdie een kon ek nooit uitpluis nie. Ontrafeling van die moeilikste intriges in ‘n 500 bladsye familiekroniek oor 500 jaar is kinderspeletjies in vergelyking met hierdie knoop. In elk geval, ek het haar in Augustus 1975 op ’n bokjol by Mopanie ontmoet.  Sy het pens en pooitjies op ‘n plastiekstoel met pyppote gesit.  Half uittartend en nonchalant het sy die bewegings voor haar gade geslaan en neusoptrekkerig en subtiel oor die fonds van die aand getuur.

 

Die prentjie van ‘n melkwit sagte vel, ‘n knus glimlag en die verruklikheid van ‘n blommetjies-langrok het my nader gelok. Ek dink my check-crimpelene langbroek en swartgrys hemp met wit kolletjies het haar glimlag effens verdiep. Haar eerste woorde was sag, subtiel, spankelend en meelewend. Ja, Ouboet, die eerste val van haar tong was sag, soos rose op ‘n hemelbed. Die enorme lengteverskil het nie ons danspassies nadelig beïnvloed nie. Inteendeel, Kleintjie se totale prentjie van fyn vroulikheid het my rough edges getemper, en na ‘n dans of drie het ons soos meesters gedans en die two-step links- en regsom bemeester.

 

Ek het haar daardie aand gekaap en net vir myself gevat, straks teen haar sin. By P&L kafee oorkant die straat het ek vir haar ‘n koeldrank gaan koop, waaraan sy die heel aand takties geteug het. By ‘n rekonstruksie van ‘n komplekse verlede sou ek graag wou glo dat sy met hierdie gebaar die aand takties wou uitrek.

 

Later die aand het ek vir haar my gebrekkige en halfvoltooide weergawe van “Waltz in A flat” van Brahms in die sitkamer oorkant die danssaal gaan speel.  Somehow moes ek die girltjie oortuig dat ek nie die stoker was wat uit die single quarters geslip het en tydverdryf bokant my vermoëns kom soek het nie. Iets het daardie aand gewerk. Of dit Brahms, die legteverkil of wat ook al was, “who cares?” Eerste indrukke is blywend, so lui ‘n ou ou sprokie.

 

Ek moet sê, ek kon die openingsoktawe van Waltz in A nogal mooi laat klink. Soos Rachmaninoff kan ek ook ‘n vyfvingerakkoord oor een-en-‘n-half oktaaf druk, uiteraard net meer onbeholpe en ook net hortend-enkelmalig. Ek vang haar dus toe met die eerste stukkie en diedaar, sy sien die foute in die res van die goedbedoelde halfvoltooide voordrag oor.  O ja, ek kon ook die slotgedeelte speel en ek onthou nog hoe ek ten besluite die note op die gepaste plekke so effens gerek om my eie onderliggende emosie te laat gedy.

 

Die laaste noot van die ta-la-la-la-da was bykans onhoorbaar sag. Ja Ouboet, Waltz in A is nooit volledig gespeel nie, in elk geval nie voor die 1976 onluste nie. Cowboys don’t cry.