Vir MaanKind. Eerste skooldag en ander grepies uit die ou orde

Augustus 27, 2010 in Sonder kategorie

Januarie 1960. Voor seker die meeste bloggers se ouers gebore is, het ouboet die 12-jaartydvak van onderrig dienswillig en met ’n oop gemoed betree.  Wat ’n ervaring.

 

By die skoolhek hou Pa die skool se leuse patriargaal aan my voor: Ek wil, ek kan. Snaaks hoedat hierdie voor-die-handliggende leuse van die Valhallase Laerskool my steeds bybly. Yes, berge begrens soms ons verbeelding en soms klim onsle uit, en die leuse “If you can dream it, you can do it” het al ‘n keer of drie gewerk.

 

My sewe jaar op laerskool koester ek as van die aangenaamste herinnerings uit my jeugjare. My graad een-juffrou,  Juffrou Viviers, was inderdaad ‘n goeie mens wat my die eerste ferm greep op die geletterde lewe in ‘n onbaatsugtige en aanvarende leeromgewing gegee het. Sy was baie streng maar regverdig. Ek het eenkeer die k met die r verwar, en sy het my so mooi reggehelp, ek het skoon trane in my oë gekry.

 

Ons het toilette in die klas gehad en sommer so half in die hoek van die klas kamerverlaat. Ek was heelwat later in my lewe, seker so aan die einde van my hoërskoolloopbaan tydens ‘n kermis of iets weer in my graad een-klas. Ek onthou die toilette as verspot klein en peteuterd.

 

Soggens het ons ons boeke uit ons tasse gehaal en in die skoolbank gepak. Eenkeer het dit baie gereën en die hele skool was letterlik onder water. Die oggend na die reen was daar seker nog so een of twee duim vuil modderwater op die vloer. In die uitpak het my leesboek in die water geval en ‘n lelike bruin vlek op die buitekante van al die bladsye gelaat. Ons moes altyd een-een voor by juffrou se tafel gaan lees. Ek was so bang sy sien die merk dat ek my regterarm oor die vlek gehou het sodat juffrou nie nie kon sien nie. Sy het ongemak en seker ook vrees in my houding gesien en my arm wegevat. Ek wou huil.

 

Sy het my kindergemoed so oneindig goed gedoen met: “Toemaar Louis’tjie, dit is mos nie jou skuld nie.”

 

Die volgende stukkie is baie hartseer.

 

Maart 1960. Die aanbou van nuwe klaskamers het min of meer ordelik verloop totdat die soveelste steurende dinamietslag sy tol geëis het. ‘n Dik rubbermat trek deur die lug, ‘n reuse stuk dolomiet tref ‘n handlanger en ruk hom kragdadig uit die eerste lewe uit. Hy word onseremonieel met sy bloedbevlekte blou overall agterop die tipper gelaai, bo-op die reuse dolomietklippe, gesig ondertoe, en weggery. 

 

Die Polisieman in sy blou uniform maan die kontrakteur om tog effens versigtiger te wees. Dit was die eerste keer wat ek ‘n dooie mens gesien het. Later in die jaar het die Sharpville-onluste plaasgevind en ‘n sestigtal mense word deur manne in blou uniforms doodgeskiet. 

 

So het ons die brute krag van die ou orde leer ken.

15 antwoorde op Vir MaanKind. Eerste skooldag en ander grepies uit die ou orde

  1. Ja daardie ou orde kon so brutaal wees soos dit menslik kom wees. Kan nie my eerste skooldag onthou nie, was te bang want ek was in my se klas.

  2. Jammer dat mens nie sekere ongewensde goed uit jou geheue kan delete nie, Ouboet.
    Al daai dinge maak mens wat jy/ons vandag is.

  3. louisna het gesê op Augustus 27, 2010

    Jaa, dis jammer. Ongelukkig het daai insident vasgesteek.

  4. louisna het gesê op Augustus 27, 2010

    Thanks

  5. louisna het gesê op Augustus 27, 2010

    Ja, dit was rof

  6. louisna het gesê op Augustus 27, 2010

    Pragtig. Dalk onthou sy.

  7. Sal nie weet nie sy is al bykans 30 jaar gelede oorlede.

  8. louisna het gesê op Augustus 28, 2010

    Sorry Annemari. Jou stem op die stoep klink nog so sprankelend jonk.

    Ja daai storie van die bloedbevlekte overall sal ek tot op my sterfdag in my gedagtes saamdra

  9. gidivet het gesê op Augustus 28, 2010

    Respek = beskawing

  10. louisna het gesê op Augustus 28, 2010

    Spot on gidi

  11. Twee boksterte met blou linte, ‘n blou en wit gingham rok in die middel van my kuite, blinknuwe swart skoene,’n bokstas wat groter as ek is en ‘n trotse Ouma wat haar oudste kleinkind aflaai vir dag een.

  12. louisna het gesê op Augustus 31, 2010

    Pragtig.

  13. BCobus het gesê op Januarie 31, 2011

    Ouboet, loop nou eers jou blad raak en dit roep toe goeie (meesal) herinneringe op. Ek was self in Valhalla (tot 1964). Onthou die rooikop Mev. Viviers baie goed. Nooit by haar klas gehad nie, my kleinboet wel – 1965. Dink nou sommer ver terug aan van die ander mense wat ‘n ou se lewe op so veel maniere geraak het. Mnr. Van Rensburg wat ‘n voorslag prinsipaal was, Mnre. Basson, Wasserman, Coetzee, Thys Meintjies (wonder of hy nog leef?), Mej. Nel wat Penning geword het, die twee Mevv. Prinsloo. ‘Skuus, ek praat te veel, maar dankie vir die herinnering. C

  14. louisna het gesê op Januarie 31, 2011

    Pragtig ou ou “vriende” raak te loop. Ek was hoofseun in 1966 en het speech gemaak het die 50ste herdenking van die skool in 2006.

    Mooi dag.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.