Jy blaai in die argief vir 2010 April.

Ietsie ligs vir Kaalvoetsiel

April 30, 2010 in Sonder kategorie

Om die een of ander rede kan ek nie teks plak op jou blog nie en ook  nie vir jou ‘n boodskap stuur nie. My kop is te lig om die probleempie op te los. Anyway, ek het jou ‘n Potch-storietjie belowe, en hier volg hy. Sorry Ekke, DsP en ander wat hom voorheen gelees het. Geniet ‘n koppie tee en skip hom.


Op 5 Januarie 1972 het ek, Jan Henning en Jannie Smit pas uit matriek met groot selfvertroue op ons gesigte, as nietige troepe op Pretoriastasie aangemeld vir die epiese reis Potchefstroom toe. Met matriek agter my naam en ‘n rybewys in my sak het ek soos iemand wat iets in die lewe bereik het, gevoel. Hierdie gevoel is gou uitgewis in een van die felste aarde-toe-kom-belewenisse in my ganse lewe. Ek het pa en ma gevra om my by die kar te groet om my soedoende van die “….en onthou om jou onderbroeke en sokkies te was en om gou te bel…” te spaar. Die reis was minder aangenaam. In enkele sekondes is die pas gemartikuleerde tot ‘n nommer gereduseer:

 

69265437 J

Kannonier Paal

Kaserne UG 410

I Medium Battery

4 Veldregiment

Militêre Basis

Potchefstroom

Transvaal.

 

Net dit, niks meer nie. In die treffende beeldspraak van Chris Louw se Boetman is die bliksim in onthou ek die woorde soos gister: “Hou jou bek troep. Jy’t fokol te sê.” By ons aankoms in Potch was die roofride die Bedford ‘n welkome blaaskans na die emosionele foltering en vernedering op die trein.(Uitspraak: roofraaid, of te wel die spesiale stamperige rit vir rowe. Roof en troep is altererende sinonieme.) By die basis het ‘n hoop uitgedroogde toebroodjies en ‘n kan suurmelk ons ingewag. Uit protes het die punte van die droë brood skurwe hakskene vir die rens botter gewys en soos gekrulde mielieblare opgetrek. Kort na die middagmaal is ons ge-issue met overalls en ‘n trommel. Vir die res van my basiese opleiding het ons nooit in die kamp geloop nie. ‘n Troep moes altyd op die drafstap (looppas) wees. Jou daaglikse opelyf en verdwaalde posstukkie was enkele hoogtepunte op die eensaam reis. ‘n Verdwaalde skoolkys het een keer die durf gehad om ‘n uiters welkom brief aan die Jongeheer Paal te rig. Fout nommer twee: ek het die Bombardier (Bommedeer), ‘n puisiegesig wat erg aan die kleinmannetjiesindroom ly tydens posparade as Korporaal aangespreek. Fout nommer drie: Ek het gesmile oor sy opmerking: “Al waarin julle troepe mos belangstel is pos, pas en p… ” Die ekstra push-ups was OK, maar ek sluk nou nog aan die vernedering omdat ek hom nie kon donner soos wat ek wou nie, want dan was ek verseker DB toe gestuur. O ja, ek dink aan nog ‘n hoogtepunt. Die hele Potchefstroom het nie ‘n stepoutbaadjie gehad wat my pas nie, en ek is met die trein Pretoria toe gestuur om by die sentrale stoor (5 BKD) een te kry. Vir twee dae was ek nie ‘n onnosele troep nie.

 

Terug in Potch was dit net leopard crawl, mile-and-a-half met staaldak webbing en geweer, obstacle course, op-die-looppas, kaartlees, skiet, oefen, en derglike aksies soos kanonloopskoonmaak met ‘n spesiale instrument genaamd die osp..s. Ek het nooit gedink dat ek hierdie omgekeerde dog felle waarheid ooit so brutaal eerlik op skrif sou stel nie, maar nou ja, hoe kan mens lieg oor geleefde werklikhede. Einste 5.5 kanon het eenkeer op Jan Henning se toon geval, en drie weke se light duty was sy beloning. Ek en Jannie Smit het maar gesukkel met die mile-and-a-half, maar gelukkig ongekwes by die eindpaal aangekom.

 

Snaaks dat mens later gekondisioneer raak en effens van die army en sy dinge begin hou, veral as jy oumanstatus bereik. Soms was daar enkele werklike helder oomblikke. Baie vroeg soggens het ons soms deur verkykers na die dameskoshuise gestaar, en gekyk hoe die ligte aangaan en die soepel lywe ontwaak. Nog nooit in my ganse lewe het ek die sagtheid van die vroulike liggaam meer begeer as toe nie, en deur die helder lens van ‘n verkyker kon ek iets kosbaars van die komplekse heelal snap. So naby, maar tog so vêr. Die krag van die vlees domkrag Paal om en hy staar vir die sterre. Dit was voorwaar ligpunte in ‘n andersins neurdrukkende en uitmergelende omgewing.

Raaisels

April 30, 2010 in Sonder kategorie

As jy soms so in raaisels praat

dan wonder ek oor hier en daar

 

Hoe sou ons sonder gisters hier kon

hoop en sonder spore môres vleg?

Hoe sou ons kon karteer in hierdie

stil uur wat sal leegloop sonder jou?

Hoe sou ons die stil middelpunt tussen

wieg en kluitklap op die kis so raak

kon knoop soos die hier en nou?

 

As daar, wat nóg ek nóg jy behoorlik snap,

helaas gekom het – sal ons al die plekke

waar ek jou plek plek verloor het se points

of impact saam vir oulaas soen en weet

die raaisel in die spieël is helaas opgelos

Kleurspel van die lewe

April 30, 2010 in Sonder kategorie

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal beskryf ‘n tabula rasa soos volg:   

 

1)         Romeinse tafeltjie van was om op te skryf.

2)         Skoon lei; siel waarop nog geen invloede van buite ingewerk het nie; onbevange gemoed.  (HAT, p1128)

 

Kleurspel van die lewe


Ek skryf onbevange vandag

– dalk onbeïnvloedbaar en

rig van buite woorde in gelid

aan hierdie vriendebinnekring

– en wonder of die beste politoer

die tafeltjie weer wit kan poets

 

Wie van ons is wit; wit soos die

wit Romeinse tafeltjie van was?

Wie van ons is wit; wit soos die

skone bruidskleed sonder draaie

voor die immergroot belofte?

 

Die sewende Gebod se smalste

weg is soms tog so onbereikbaar

ver van die dun spil van die swart

op wit belofte – en lus so wrikbaar

voor die fynwit spel van die gewete

Droom

April 29, 2010 in Sonder kategorie

 

Hier waar die dolos

in die nanag val

skik repies lig tot vers

en reël op reël word opgestapel

tot ‘n rots wat skitter én vermink

Memory lane se hek

staan wawyd oop

Die suiwer munt van

gisters is so raak,

toeganklik deur ons

drome van vertwyfeling,

wees en saamwees

soms so immersoet

maar as môres bot

in hierdie tuin

kaats die son hul lote

dikker teen die rots

Die labirint van nou

April 29, 2010 in Sonder kategorie

 

 In hierdie oefenloop na vastigheid en repies lig

bars nou die oervulkaan se gisters oor ons uit

Die najaar is vanjaar die yl wingerdstok van

grimmigheid met die voorjaar ongemunt as

spatsels hoop teen die horison bly dobber

 

Maar as die tweede asemteug sy tog hervat

en snare teen die riet ‘n nuwe wysie gooi, dan

skik ’n vaste landskap van oorwining en van

veugde ongeken tot die hier en nou, wat hoop

die labirint se gange bly altyd oop soos nou

Die labirint van nou

April 29, 2010 in Sonder kategorie

 

 In hierdie oefenloop na vastigheid en repies lig

bars nou die oervulkaan se gisters oor ons uit

Die najaar is vanjaar die yl wingerdstok van

grimmigheid met die voorjaar ongemunt as

spatsels hoop teen die horison bly dobber

 

Maar as die tweede asemteug sy tog hervat

en snare teen die riet ‘n nuwe wysie gooi, dan

skik ’n vaste landskap van oorwining en van

veugde ongeken tot die hier en nou, wat hoop

die labirint se gange bly altyd oop soos nou

Kuis drome in die Nabodswingerd

April 29, 2010 in Sonder kategorie

Oupa het my as kind geleer om nooit

in sy wingerd te korrel nie en

hierdie les is soms gestand gedoen,

soms nie

 

Jou Poison kaats ’n ongesingde lied

teen horisonne ongedroom

Jou troupand en karaat of meer

sê jy’t reeds ‘n kaart

en dalk ‘n kind of meer

 

Hoekom laat jou landskap

my dan so sing,

karteer en droom;

en altoos aan Oupa

se lesse dink?

Die oorbodige arm en patente

April 26, 2010 in Sonder kategorie

Op ‘n ander blog skryf iemand: Ek sien in Engeland is n nuwe matras ontwerp perfek vir vryers, dit los die probleem op van die arm wat altyd oorbodig is tussen die twee geliefdes en doodgelê word.

To reageer ek: Die matras fassineer my. Die mens se kreatiwiteit en magnetiese behoefte aan mekaar het geen einde nie. After all; die matras is tog ‘n onontbeerlike ontmoetplek vir mense met ‘n sinnigheid in mekaar. Die ding is seker gepatenteer. Ek sien nou die dag op die US patent & trade mark office (USPTO) se website daar is duisende onderlyf- en bolyfgedrewe patente. Om te dink patente slaan die vaarwater van die vlees oor is ‘n ongeleefde illusie.


Die arm wat lam word is seer sekerlik ‘n bekommernis, maar hierdie toestand tree mos eers heelwat later op die matrasvertoef in. OK lepelle kan problematies word. Ag nou ja, die lewe bly lekker.

Ietsie ligs op ‘n Maandagoggend

April 26, 2010 in Sonder kategorie

Mike vra Kallie se raad omdat sy meisie kwaad is vir hom. Vat haar uit vir ‘n pizza, gee Kallie raad. Nee wat sê Mike. Ek pizza sommer by die huis.

Gesie

April 24, 2010 in Sonder kategorie

 

Hierdie stuk kom uit ‘n ander blog. Ek is uitgedaag om ’n hygopstel te skryf, en toe toets ek eers die res van die audience.

 

Oor Gesie, ja my honger vingers jeuk vir iets radikaals, maar mens moet versigtig wees. Metaforiese raakvat volg nie noodwendig die logiese raakvat van ‘n seepgladde middelvinger nie. Die gehoor toon ook tekens van wisselvallige verbondenheid. Sodra jy ‘n bepaalde meisie se kompliment halsreikend beantwoord kies sy die hasepad en gaan skuil agter die pompstasie.


Eintlik ‘n baie kompleks girl dink ek. Maar dat sy skerp en in alle waarskynlikheid ‘n lus vir die oog is ly geen twyfel nie. Dit herinner aan die outyd. Maak jou gereed vir ‘n deadcert en jy kry ‘n snotklap. Kyk Gesie van die KJV lig en jy mis ‘n geleentheid Jy dink Poppie gaan poeier haar spesiaal vir jou dan gaan haal sy die sambok.


Verrassings in die oeroue katelgedrewe werklikheid is legendaries.