Skrikwekkend

September 29, 2014 in Uncategorized

photos_change_world_03

Jammer, hierdie is vir my die heel skokkendste foto van die “30 Most Shocking & Heart Touching Photographs Ever Made” Google eerder self as julle wil kyk, want as ek die URL hier plak word die hele webtuiste ingetrek)

Afloskreet

Hier waar die wreedste kiekie ooit
en my moedertaal se heel mooiste
vers mekaar in ootmoed probeer vind,
bid ons saam vir hierdie sterwende kind

ek moet versigtig woorde kies om
nóg onbeheersde trane te verhoed
want my vriendinne was tog so reg: my
laaste kiekies het vriend en vyand tot
teen die rougevrete been geskok

Die kraaie en die aasvoëls kla
in Opperman se vers as ‘n moeder
na haar seun se beendre soek
Spaar hierdie kind ‘n afloskreet
o Heer want “die afloskrete van
die aasvoëls, van die wildehonde
en die kraai” verdig in hierdie ryper
uur tot pynvertrekte gewetenswonde

(Ek gee graag erkenning aan grootmeester DJ Opperman vir die ruim gebruik van woorde en grepe uit sy meesterstuk: Gebed om die gebeente)

Musiek

Augustus 21, 2013 in Uncategorized

Jammer, hier is hy. Hy wou nie plak nie.

Hoekom verskyn die mooi video nie?

Velhonger

Augustus 12, 2013 in Uncategorized

 

Velhonger

‘n Mooi en konserwatiewe meisie uit die prille ontwaakjare van my skramsgeleefde jeug het die term velhonger gebruik. 

Velhongerte word gestil as jou vel met die vel van ‘n ander mens van die teenoorgestelde geslag (of die keuse wat jou aanstaan natuurlik) kontak maak.

Velhongerte is eintlik ‘n delikate kwessie, want wat in ‘n mens se lyf is nie met vel bedek nie?  Net tande en naels? Die een krap en die ander een byt en dit stil nie hongerte nie.

Goed ek wil nie vir julle ‘n lesing gee oor velhongerstillers nie; ook nie oor velzones wat honger raak of oor die nagevolge daarvan nie.

Dit is net vir my ‘n pragtige woord oor ‘n erg meevoerende onderwerp.

DJ Opperman se raad

Augustus 12, 2013 in Uncategorized

“Een ‘versoeking’ vir die jong kunstenaar word deur Opperman prominent uitgesonder: Die grootste versoeking van die jong kunstenaar is om te bieg, om te bely; om regstreeks van sy vreugde en sy smart te getuig. Jy ontmoedig hierdie slobberige kwyldrade van die bibberende mond. ’n Mens beveel saam met Nijhoff aan: skryf weg van jou self. Moenie jou mond gebruik om te fluit nie — sy skaal is te beperk: jy kan vir ’n nooi ’n wolfgeluid maak, ’n uilgeluid vir kinders en fluit om die skape aan te jaag. Maar as jy ’n instrument, soos bv. ’n klarinet na jou mond bring, dan kom die fyn wisselende vreugdes en verdriete van ’n Mozart.”

Kinders is so kosbaar

Julie 29, 2013 in Uncategorized

Is daar iets mooiers as twee verliefde kinders? Toe kleinboet se nooi nou die dag verjaar, het ek vir haar ietsie  voor in haar geskenk geskryf (Sheila Cussons se versamelde gedigte.) Let wel: hierdie poginkie nie ‘n gedig nie; bloot net ‘n paar gedagtes wat uiters welkom begroet is:

Veels geluk Lizeri

In die vroeë lig
van vele môres saam
met ons lieflingkind
sien ek iets moois
op die horison blink
Jou pragtige glimlag met
die viering van jou
kêrel se geboortedag
laasjaar op 4 Desember
het my trots gemaak
Ek het my speech gerek
om die prinses van Bethal
welkom te heet en te spog
ons oorsprong begin ook in Bethal
Ja, jou kêrel se oupa se oupa
het die dorp gesig
Op ouma se erediens het
jou kêrel so mooi gepraat
maar die familie en
vriende het van julle as die
pragtige couple gepraat
Ouma Marie sê: Pragtige kind
Ma sê: welgedaan boetiekind
Mag vandag se  skugter oggendson
tot ‘n dag vol wasdom en rooi rose ontplooi
en onthou
Iewers in Potch verlang
boetiekind na sy pragtige nooi

Mammy blue

Julie 27, 2013 in Uncategorized

Florescentligte het jou wit bloes
daai aand voller gemaak,
ver verby die metafore
van my moedertaal.
As childhood memories fill my mind,
you never miss the water ’til the well runs dry.

In my matriekjaar ontstaan jy in Frans;
na veertig jaar en tien tale,
spreek jy steeds,
ontstel jy steeds;
trek jy immer trane,
laat jy my voortdurend nog verlang.

Helaas, wig jy leuens
tussen waarhede in,
maar daai aand in Hillbrow
– met sy ex-post-facto
gewetensgewigte –
bliksem, daai aand met sy
skerp florescentligte.

Resitasietjie

Julie 24, 2013 in Uncategorized

 

Kan iemand my help om die spasiering reg te kry asb.

Klanklaan

 

Van sprokie vir ‘n stadskind

van Koos du Plessis

deur memory lane se

gange tot by 

die slawekoor uit

Nabucco van Verdi

het wysies se woorde

my teen die horisonne

van môres vasgedig

met hernontdekte gisters

wat verskiete verlanges

herroep en

in die wandelgange

bly neurie

INGE LOTZ: ‘n HULDEBLYK

Julie 20, 2013 in Uncategorized

 

Geen moord in ons geskiedenis het mens so aangegryp soos Inge Lotz s’n nie. Ek wonder hoeveel blasdye (of deesdae seker gigabytes) is al oor haar geskryf? Sover ek kon vasstel is minstens 3 magisterverhandelings reeds deur haar moord geinspireer en suksesvol voltooi.

Selfs ‘n woordtraag leek en plotgebreidelde boorling soos ek het al die pen opgeneem, kan julle glo, nogal op versoek.

Vriende, bloggers en ander belanghebbendes,

Ek het ’n vreemde dog aangename versoek in November 2007 ontvang: Wil jy nie asseblief iets oor Inge skryf nie? Wie, ek? Ja, jy.  Maar ek het haar nooit geken nie. Ja, maar jy blog mos al lank en daar is nog net 3 dae oor! Waaroor? Geen beperkings nie,  net ‘n vaag-geartikuleerde iets soos ‘n huldeblyk. OK, I rest my case. 

Ontvang hiermee my nederige verskoning indien enige deel van hierdie inskrywing, of as ’n  geheel, dalk enige aanstoot mag gee. Beskou dus alle mededelings as fiktief. 

Opdraggewer,

Dankie dat jy my ‘n oop versoek gegee het, en nie ‘n lys van moets en moenies nie. Struktuur is dalk té beperkend om oor ‘n kleurvolle mens te skryf. Jou oop versoek het my laat dink aan die ou Romeinse tafeltjie, die tabula rasa, die skoon vel wit papier. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal beskryf ‘n tabula rasa soos volg:   

1)         Romeinse tafeltjie van was om op te skryf.

2)         Skoon lei; siel waarop nog geen invloede van buite ingewerk het nie; onbevange gemoed.  (HAT, p1128)

Dus kyk ek vandag met ‘n onbevange gemoed na Inge. Vergun my ‘n paar reëls op hierdie skoon lei, ‘n nederige stukkie wit papier. Vir diegene wat dieper soek is daar dalk ‘n stukkie mistiek, ‘n nuwe kontoer, of ‘n dalk versteekte afdraaipad. Ek het julle voorliefde vir woorde en waardering vir iets mooi’s, diep in gedagte probeer hou. Dalk hoor julle die visarend sag in die agtergrond roep. Nietemin, hoe kan mens so ’n versoek weier? Dit is asof Inge se foto’s jou in die visier hou, en stelselmatig word jy soos ‘n moeder in barensnood wat nie kan rus voordat alles uit is nie. Woordvlotte bloggers, ek voel nederig in julle teenwoordigheid. Wat meer is, by ’n geleentheid soos hierdie moet mens daarteen waak dat jou eie dapperheid jou nie onderkry nie.  Ek willig toe in om ietsie te skryf.  Dankie vir die eer.

 Inge, jy is ’n verruklike mooi meisie. Ek het 5 koerantfotos van jou op ’n PowerPoint-aanbieding geplak en op die big screen gegooi. Jou helder sielvolle oë dwing my tot respek. In die nederigste respek wat in woorde haalbaar is vra ek die lesers se toestemming of dalk vergifnis vir ‘n kort verbeeldingsvlug.  Kom ons spekuleer, soos hier op die blog, wat moontlik sou kon wees.

Inge, ek skryf vir jou ’n storie oor ’n man wat halsoorkop verlief raak op jou. Hy is ’n karaktervolle mens; een wat ’n meisie soos jy verdien. Hy respekteer jou, vertroetel jou en laat jou lag. Hy beskerm jou, koester jou en raak baie gou innig lief vir jou. Hy hou die hele dag jou hand vas en loop saam met jou in Kirstenbosch rond. By die kinkels in die pad tel hy jou op sy skouers en hoor jou lag. Mense reageer verskillend oor die pragtige meisiekind wat die trotse man so bekoorlik vind. Sommige lag; ander smile subtiel. Enkele oorgeslaandes gee hul jaloesie met ‘n pynvertrekte mondhoek te kenne. ‘n Groep wat die gawe het om die heelal perspektief te sien, bewonder julle heimlik. ’n Woordvlotte Burgerverslaggewer skryf die volgende dag ’n berig oor die liefde soos waargeneem in Kirstenbosch: “Die lag, waardering en begrip in julle oë het my laat dink aan iets baie na aan volmaaktheid, iets kosbaars wat vir ewig in ‘n helder kristal vasgevang is. Vir ‘n sekonde of twee het ek ook iets werklik kosbaars van die deurmekaar heelal gesnap.”

Maar die dice het verkeerd geval vir jou.  Nou is jou fotos ‘n knus oor vir ‘n verkreukelde siel.  By ‘n geleentheid soos dié is die drang sterk om te wil twyfel aan diep begrippe, soos regverdigheid, billikheid en sin. Hoe kan ‘n kwartgeleefde pragtige mens so bloedstollend wreed van ons af weggeruk word?   Op 16 Maart 2005 loop jou uurglas leeg.  Ek vleg vir jou kwatryne van ‘n ongesingde lied, maar my sinne roep my tot orde. Hier waar ek ‘n grotesk-makabere deel van ‘n duister legkaart sien laat my moerdetaal my in die steek om my verbystering in woorde vas te vat. ’n Wreedaard skend jou wasbleek lyk en jou helder oë verstar tot ’n bloeddeurdrenkte oorlogsveld. Jou skrander brein verpulp tot dooie protoplasma. Jou ouers, familie en vriende neem waardig en respekvol van jou afskeid. Die emosie wat hierdie laaste offer in mens wakker skeur, laat jou besef dat die dood die mens se heel laaste groet van sy eerste skof is. 

Maar, helaas ken jy die raaisel in die spieël terwyl ons verward na leidrade soek. Ons sien die krake in die spieël wat lig in verskillende rigtings kaats. Jy sien die groot prentjie. Soos die arend  daarbo, hoog in die lug, maak die landskap vir jou sin. Jou raaisel het ‘n antwoord gekry: ‘n volmaakte antwoord. Jy sien, Inge, helaas is ons hier uit genade en ons dae tydelik. Met elke hartklop en tik van die horlosie skuif die tyd aan, en so ontplooi nuwe geslagte wat in die stryd moet voortbeur ter wille van oorlewing en ‘n plekkie iewers in die groot geheue van die heelal. ‘n Bekende historikus het dit treffend gestel: “Met die dood verdig die mens se lewe tot ‘n legger wat in die staatsargiefbewaarplek in rye langs mekaar staan en bewaar word, nie as engele nie, maar in die vorm van gestolde woorde wat van ‘n beëindigde lewe getuig. So was dit deur die eeue en so sal dit steeds bly.”

Tegnies is jy ook in ‘n argief, maar die vele mooi dinge wat jy hier op aarde gedoen het is verhef tot gestolde woorde, wat ons oor en oor kan lees en inspirasie daarin kan vind. Jy is daar en ons is hier.  Ons agtergeblewenes leef, in die hier en nou, in ‘n illusie meisiekind. Dalk was julle drome in die tuin te begrens, te aards, te fyn omlyn om te bereik. Maar, die illusie en bedrieglike mirage van die onontdekte horison het tot wasdom ontplooi. Op jou nuwe tafeltjie gaan jy groot dinge skryf.. Dis net… ai meisiekind, ons tafeltjie hieronder is maar lendelam vandat jy weg is.  

 

Kersgebed vir Inge Lotz

Ek het hierdie stukkie in 2007 op die Inge Lotz-moordblog geskryf:

Inge speel
in God se simfonie
en kyk vergewend af

Haar moord het
soos ’n druppel kwik wat val,
ons met duisend stukkies nagelaat

Elkeen is ’n repie siel wat spoorsny
en op al die plekke waar sy
eenmaal was vertoef

Iewers in U wye skepping, Heer, lê daar

‘n stukkie legkaart rond, dalk weggesteek,

dalk oop en bloot,

dalk agter ‘n skans verberg

waardeur niemand nog kon sien nie.

 

Twintig-vyf -ses en -sewe

na drie feeste wat ons U as ons

Verlosser hier gedenk

is die duister boek steeds toe

die waarheid steeds skreiend stom

en ongeweet, soos op 16 Maart

so amper drie jaar terug

 

Gee, Heer, in hierdie duisternis

wat aanhou brand en aanhou pyn ’n sprankie lig

wat delf en krap en aanhou soek

uiteindelik na die waarheid toe kan rig

 

Gee Heer dat iemand, soos die valk daarbo,

U wye landskap net vir eenmaal mooi kan sien

om dié los klein stukkie gou te vind… en om dit

dan soos ’n timmerman van ouds, sonder

motiewe anders as die waarheid,

op die plekkie waar hy pas, behendig in te wig

 

 

Snaaks

Maart 11, 2013 in Uncategorized

Ek sien nou die dag ‘n goedbedoelde boodskap teen ‘n paal. “Foxterrier gevind. Jong reen”. Toe skryf ek onderaan. Jammer, my teuf het weggeraak.

 

Groete