Profile photo of lisa

by lisa

Tatta Ma.

Februarie 16, 2012 in Sonder kategorie

Ek het vandag my skoonma gegroet.

 

Sy is weg. Gone.Gaan aftree langs die see op ‘n golflandgoed. Ek ruik haar nog. Iets van haar hang nog rond tussen die agtergeblewe meubels en die kombuis. Die rose op die spieeltafel is vars, en ek sien hoe die ronde sagtheid van haar vingers ‘n knop reg druk druk terwyl sy praat en beduie en beweeg tergelyk. Gemmerkoekies in die oond, beskuit in die panne, twee manne in die tuin wat nog hier en daar iets moet regpluk, iemand op die foon wat kom inloer, stapstewels nog klam van die vroee-oggend klim teen die berg uit.

 

Ek kan jou moerkoffie ruik. En jou parfuum. En die gemmerwortel in jou tee. En jy is reg. Jy is fikser and more alive than ever.

 

 

Ek gun jou dit, Ma. Met my hele hart. Maar ek hoop jy weet ek mis jou – al klaar.

 

Profile photo of lisa

by lisa

Besoek

Februarie 14, 2012 in Sonder kategorie

Ek wil jou van voor af probeer

ongekerker deur die gordyn

van geheime mis en misterie –

geheim soos die sappe in die stamme en die vlees

wat gees en groei en nuwe lewe huisves

en op ‘n dag na buite stoot in blom en wisdom –

wil ek jou op my tong rol en jou proe en jou voel en jou probeer,

losgewoel en uitgeroep uit die donker binnekamer van rots en wand en bloed en vlees en stam.

Woord,

ek wil jou wees.

Profile photo of lisa

by lisa

Woordspeletjie

November 15, 2011 in Sonder kategorie

Bakermat.

Profile photo of lisa

by lisa

Abba – Vader.

November 7, 2011 in Sonder kategorie

Vandag moet U my bewaar, want hierdie kop en hart en lyf wil al in die verkeerde rigting neig.

Abba my vandag.  Peba my.  Knus toegedraai en styf teen U lyf. 

Profile photo of lisa

by lisa

Spore.

Oktober 20, 2011 in Sonder kategorie

Ek sukkel nog om gisteraand om te sit in woorde…

Ek voel of ek  dans, heeltemal alleen in ‘n balsaal met ‘n houtvloer. Ek het wasige klere aan wat sag en beweeglik saam met my draai en swaai, en my oe is toe, want ek ervaar.

En dis op die oomblik die naaste wat ek daaraan kan kom om te prober se dit voel of Lewe en Lig en Sagtheid en Sekerheid en Vryheid gelyk deur my spoel.

Ek wens ek kon die aand met julle deel.  Dit was woorde en dit was lewe en dit was wonderlik.

Profile photo of lisa

by lisa

Maak gou….!

Oktober 19, 2011 in Sonder kategorie

  1. Bestel hoenderboudjies by KFC
  2. Kry neute by Fruit en Veg, en sommer die drop ook
  3. Sit solank die ketel aan vir rooibostee / koffie in die warmfles
  4. Gryp cd houer in die verbygaan
  5. Selfoonlaaier en GPS
  6. Los die gekookte eiers
  7. Bring ‘n warm-ding – is koud hier vandag
  8. Soen die kinders en groet die oumas wat na hulle gaan omsien

Ry dadelik. Hou suid as jy van die noorde kom en oos as jy van die weste kom en wes as jy van die ooste kom, ons is op die grens.  Soek die Langkloof op jou GPS en laat waai. 

Tom Gouws bespreek Ligloop vanaand by ons – hier by mui (dank aan Anha vir die uitspraak).

En ek kannie meer verder werk nie, en ek wil ook nie, ek wil kuier kuier kuier.  Kom julle ook toe! 

Profile photo of lisa

by lisa

Waiting waiting waiting…

September 20, 2011 in Sonder kategorie

Heng,  dit sou lekker wees as ek kon bid: Sit gou-gou skype aan, ek wil U iets vra…

Profile photo of lisa

by lisa

Langsamerhand het ek gevorder.

Maart 28, 2011 in Sonder kategorie

Liewe Litnet Bloggers (en B(l)oggers),

 

Ek het eintlik ‘n reel wat se ek mag nie ernstige gesprekke na elf in die aand voer nie, want ek is dan meer kwesbaar en minder rasioneel. En ook nie te ernstige besluite neem tussen middernag en son-op nie, om dieselfde rede. Hierdie gesprek met julle is dus ‘n uitsondering. ‘n Belangrike een. Want as die son opkom, gaan ek die besluit uitstel.

 

Ek is besig om belangrike dinge in my lewe af te skeep, weens ‘n gebrek aan tyd (en wilskrag). En vanaand, terwyl almal vir wie ek so lief is om my le en slaap, weet ek weer helder wat regtig belangrik is. Blog is nie onbelangrik nie. Hierdie tyd wat ek geblog het was ‘n belangrike seisoen in my lewe. Baie meer as wat julle ooit sal weet.   En wat ek by julle kon lees en leer het vir my baie baie beteken. Al het ons nooit ontmoet nie, was julle ‘n beduidende deel van my dae en weke, en het ek geheg geraak aan so baie van julle.  As ek julle name so in my kop deurloop het ek iets te se vir elkeen, so vir oulaas.

 

Uit my hart uit dankie dat ek kon deelwees. Dat ek kon saam gesels en terg en lag en sidder!! Ek gaan julle verskriklik mis. (Heel meeste die pittige kommentaar).  Op my bedkassie hoop die leeswerk op. Oudste het al verlede jaar vir my ‘n boek gegee met die versoek “Lees dit ‘seblief Mamma, dat ons daaroor kan gesels.” “Wild at heart” wat ek wil lees twv die manne le al ‘n jaar. My leeskring boeke “google” ek deesdae, en lees net die resensies en opsommings. My stilwordtye raak minder, en my internettyd meer. Ek sukkel om my vriendskapsverhoudinge ordentlik in stand te hou, my werk word by die dag meer veeleisend en in ons persoonlike lewe staan ons voor n uitdaging wat meer as my verdeelde aandag vereis.  

 

Ek weet nie aldag of ek vir die lewe gebou is nie. Ek voel te veel en te intens. Maar ek weet ook ek wil dit nie misloop nie.

 

Wat geloof betref, ek kan God se bestaan nie ontken nie. Hoe woes en wild my gevoelens oor die kerk en mense ookal is. Ek weet dat ek weet dat ek weet dat Hy bestaan. En as ek vir julle dankie se vir tydjie hier op Litnet se ek vir Hom ook dankie, vir hierdie reis.

 

Vir party van julle wil ek se “Pas jou mooi op”, vir party Sterkte met jou reis”, vir party wil ek ‘n drukkie gee en vir ander wil ek net in die oe kyk met ‘n warm handdruk. Vir party wil ek se, ek stem hoegenaamd nie met jou saam nie, maar mag dit met jou goedgaan.

 

Nogmaals dankie vir julle.          

Lisa.

 

NS. Dit voel vrek erg om julle nie een-een te groet nie. Pas julle op!!!!

Profile photo of lisa

by lisa

Gebed

Maart 17, 2011 in Sonder kategorie

droog en veilig en beskut

die water in my mond ‘n herinnering

die krag van die stroom ‘n vae verbysterende droom

die uitkom ‘n raaisel

geanker op aartsonmoontlike wyse

en vas en droog en veilig

en beskut.

Profile photo of lisa

by lisa

Dood in die lewe.

Maart 14, 2011 in Sonder kategorie

Gister in die kerk gesit en dink ek mis LEWE diep in my siel. 

 

Vandag wakkergeword met ‘n borrelende energie, en die feit betreur dat my grootmenslewe nie ruimte laat  vir baldadigheid nie.  

 

Gedink aan die keer op die strand toe ek jou baldadigheid kortgeknip het ter wille van die omstanders.

 

Die keer op die staproete toe ek en jy bedees moes bly sit terwyl ek die branders en die berg wou omhels.

 

By die konsert toe jy laf en onbehoorlik bly fotos neem het en ek nie meer geweet het hoe om te wees nie.

 

Op die lughawe met die groot koebaai – al was dit net vir ‘n kort tydjie – toe ek so bewus was van almal om my dat my kop geduisel het.

 

En tog dink ek jy het dit. Die LEWE. Jy leef dit en jy gee dit en jy vra dit en jy geniet dit. En ek probeer jou keer. Ter wille van die mense. Ek het gister leeg en droog en stemmig gevoel. En so verlang na jou malse onkonvensionele nabyheid.

 

KOM KUIER dat ek vir rukkie weer kan LEEF!