Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

Profile photo of lisa

by lisa

Langsamerhand het ek gevorder.

Maart 28, 2011 in Sonder kategorie

Liewe Litnet Bloggers (en B(l)oggers),

 

Ek het eintlik ‘n reel wat se ek mag nie ernstige gesprekke na elf in die aand voer nie, want ek is dan meer kwesbaar en minder rasioneel. En ook nie te ernstige besluite neem tussen middernag en son-op nie, om dieselfde rede. Hierdie gesprek met julle is dus ‘n uitsondering. ‘n Belangrike een. Want as die son opkom, gaan ek die besluit uitstel.

 

Ek is besig om belangrike dinge in my lewe af te skeep, weens ‘n gebrek aan tyd (en wilskrag). En vanaand, terwyl almal vir wie ek so lief is om my le en slaap, weet ek weer helder wat regtig belangrik is. Blog is nie onbelangrik nie. Hierdie tyd wat ek geblog het was ‘n belangrike seisoen in my lewe. Baie meer as wat julle ooit sal weet.   En wat ek by julle kon lees en leer het vir my baie baie beteken. Al het ons nooit ontmoet nie, was julle ‘n beduidende deel van my dae en weke, en het ek geheg geraak aan so baie van julle.  As ek julle name so in my kop deurloop het ek iets te se vir elkeen, so vir oulaas.

 

Uit my hart uit dankie dat ek kon deelwees. Dat ek kon saam gesels en terg en lag en sidder!! Ek gaan julle verskriklik mis. (Heel meeste die pittige kommentaar).  Op my bedkassie hoop die leeswerk op. Oudste het al verlede jaar vir my ‘n boek gegee met die versoek “Lees dit ‘seblief Mamma, dat ons daaroor kan gesels.” “Wild at heart” wat ek wil lees twv die manne le al ‘n jaar. My leeskring boeke “google” ek deesdae, en lees net die resensies en opsommings. My stilwordtye raak minder, en my internettyd meer. Ek sukkel om my vriendskapsverhoudinge ordentlik in stand te hou, my werk word by die dag meer veeleisend en in ons persoonlike lewe staan ons voor n uitdaging wat meer as my verdeelde aandag vereis.  

 

Ek weet nie aldag of ek vir die lewe gebou is nie. Ek voel te veel en te intens. Maar ek weet ook ek wil dit nie misloop nie.

 

Wat geloof betref, ek kan God se bestaan nie ontken nie. Hoe woes en wild my gevoelens oor die kerk en mense ookal is. Ek weet dat ek weet dat ek weet dat Hy bestaan. En as ek vir julle dankie se vir tydjie hier op Litnet se ek vir Hom ook dankie, vir hierdie reis.

 

Vir party van julle wil ek se “Pas jou mooi op”, vir party Sterkte met jou reis”, vir party wil ek ‘n drukkie gee en vir ander wil ek net in die oe kyk met ‘n warm handdruk. Vir party wil ek se, ek stem hoegenaamd nie met jou saam nie, maar mag dit met jou goedgaan.

 

Nogmaals dankie vir julle.          

Lisa.

 

NS. Dit voel vrek erg om julle nie een-een te groet nie. Pas julle op!!!!

Profile photo of lisa

by lisa

Gebed

Maart 17, 2011 in Sonder kategorie

droog en veilig en beskut

die water in my mond ‘n herinnering

die krag van die stroom ‘n vae verbysterende droom

die uitkom ‘n raaisel

geanker op aartsonmoontlike wyse

en vas en droog en veilig

en beskut.

Profile photo of lisa

by lisa

Dood in die lewe.

Maart 14, 2011 in Sonder kategorie

Gister in die kerk gesit en dink ek mis LEWE diep in my siel. 

 

Vandag wakkergeword met ‘n borrelende energie, en die feit betreur dat my grootmenslewe nie ruimte laat  vir baldadigheid nie.  

 

Gedink aan die keer op die strand toe ek jou baldadigheid kortgeknip het ter wille van die omstanders.

 

Die keer op die staproete toe ek en jy bedees moes bly sit terwyl ek die branders en die berg wou omhels.

 

By die konsert toe jy laf en onbehoorlik bly fotos neem het en ek nie meer geweet het hoe om te wees nie.

 

Op die lughawe met die groot koebaai – al was dit net vir ‘n kort tydjie – toe ek so bewus was van almal om my dat my kop geduisel het.

 

En tog dink ek jy het dit. Die LEWE. Jy leef dit en jy gee dit en jy vra dit en jy geniet dit. En ek probeer jou keer. Ter wille van die mense. Ek het gister leeg en droog en stemmig gevoel. En so verlang na jou malse onkonvensionele nabyheid.

 

KOM KUIER dat ek vir rukkie weer kan LEEF!

Profile photo of lisa

by lisa

30 Seconds

Maart 11, 2011 in Sonder kategorie

  1. ‘n Eerste
  2. Net twee oe maar vier bene
  3. Gewigloosheid is belangrik
  4. Standbeeld in Moskou later onthul
  5. Sterf weens oorverhitting

Laat waai.

Profile photo of lisa

by lisa

Ouuuuud!

Maart 8, 2011 in Sonder kategorie

Ek het, sommer baie skielik,  van die baba in die kantoor gevorder tot by oud.  Sommer lelik oud.  Die jongste toevoeging tot die personeel is 23jaar jonk, en dit, maak  my amper ‘n leeftyd ouer as sy.

Ewentewel, dit beteken daar is nuwe prioriteite op die agenda.  Ek weet byvoorbeeld nou wie is Jay, en ek weet Bobby van Jaarsveldt gaan pa word.  En daar is Vrydae ‘n vibe daar wat die ligte helderder laat skyn, en Maandae…Maandae praat ons maar liewer nie, eers weer Dinsdae.

‘n Vars nuwe briesie wat die ou regime bietjie lug gee. Niks is te moeilik nie, en niks is ‘n probleem nie.  Mag haar flyt en ywer hou. 

En nou is my fut uit.  Tyd om in te kruip en te slaap, sodat ek more weer kan byhou met al die wonderlike nuwe geite en giere wat papierboerdery inhou.

Wonder wat het Steve Hofmeyer gehad vir aandete…

Viva Twitter en Twenty-Three!!

Profile photo of lisa

by lisa

More! More!

Maart 3, 2011 in Sonder kategorie

Net gou kom kyk wat julle aanvang.

Die kinders se ek is soos my ma.  Enige ander belangrike sake waarvan ek behoort kennis te neem?

Debiete en Krediete vir my vir ontbyt middagete en nagereg.

Moenie verdwyn nie (ek het nog glad nie genoeg by julle geleer en gelees nie!)

L