Ten spyte van die man op die maan.
Februarie 22, 2011 in Sonder kategorie
Met die intrapslag by die kantoor vanmore het ek die gevoel gekry dat die papiere asemteue tevore alles in die lug was en net-net hulle le gekry het met my aankoms. Ek is seker die lug het nog getril van die beweging. Met die verbyloop sien ek ‘n paar rubberhandskoene le op die wasbak in die klein aptekie. Iets het gebeur.
‘n Week tevore het ‘n man kaalbolyf by die kantoor ingestorm om te kom wegkruip, sy vrou se eksman kort op sy hakke met ‘n oop oukapie in sy hand. Gisteraand het een van die drywers ‘n ryding omgegooi. Vanmore le daar rubberhandskoene op die wasbak. Benouderig hoop en bid ek dat niemand se ledemate erens in ‘n masjien beland het nie.
“Het Mevrou nie die ambulance van voor af gekry nie?”
“Nee, wat het gebeur?”
“Is MB, haar man het hom skoeneveters losgemaak.”
“Hoe bedoel jy?”
“Sodat sy maklik kan kraam. Hulle maak so. Die man moet hom veters losmaak, anders kom die baba swaar uit.”
“Is haar baba klaar gebore?”
“Nee, dit sal seker nou enige tyd wees. Maar haar water het nog nie gebreek nie, maar dit is haar tyd.”
“Nou wat is dit van die skoenveters?”
“Ek het haar man op die radio laat roep van bo af, hy werk mos bo, maar toe het hy klaar gehoor en laat weet hy het hom veters losgemaak, om haar mos nou te help met die geboorte.”
“O” se ek “Is dit hoe dit werk?”
“Ja, ons glo so, en dat jy nie deur drade moet klim as jy swanger is nie want dan draai die nael om die kind se nek. Jy moet omloop. Maar ek het deurgeklim as my ma anderpad kyk, en dit het nooit oor my gekom nie. Maar as dit baie swaar gaan moet hulle iets vir jou bring van die pa af.”
“Watse iets?”
“Enige iets. Soos hom sakdoek of hom hemp of iets dat jy net die ruik kry, dan help dit. Maar hy het mos nou hom skoene losgemaak, sy gaan nie sukkel nie.”
‘n Uur of wat later kom die oproep. Dis ‘n seunbaba. Ons moet die pa laat weet.
Die meisie in die personeelkantoor vertel teetyd vir my dit was amper amper amper ‘n kantoorbaba. Daai man het sy veters so klein bietjie vroeg laat los.
Onlangse kommentare