Jy blaai in die argief vir 2011 Januarie.

Profile photo of lisa

by lisa

Murphy se uitdaging

Januarie 24, 2011 in Sonder kategorie

My avatar:  My gesig met www.yearbookyourself.com se hare   (Gaan kyk bietjie daar  wanneer julle moeg tone getel is.  En maak seker julle kry ‘n foto uit die tagtigs en die veertigs.  Maar eintlik is niks erger as die tagtigs nie).

 

My naam:   My naam.   Ek het twee.

 

My blogtitiel: In ‘n oogwink uitgedink en later eers besef hoe in-die-kol dit was.  Dis min-of-meer om stadig-maar-seker weer momentum op te bou en terug te keer tot  die lewe.    Ek verwerk wanneer ek verwoord.

Profile photo of lisa

by lisa

Twisted Sister

Januarie 13, 2011 in Sonder kategorie

Ek was in st 8 toe ek geleer het hoe dit is aan die anderkant van die heining. Dis nou die kant waar my ma-le my nie wou gehad het nie.   Die bure se dogter was twee jaar ouer as ek, en deel van die krimmies. Krimmies soos in die ‘kriminele’. Nie polisierekord-krimineel nie maar sommer skoolreels-kriminele.  Hoe ons toe bevriend geraak het, sou sekerlik in my dagboek gestaan het, maar die is deur ‘n baie besorgde ma gekonfiskeer, en ek dink amper ek het dit toe uit protes verbrand.

 

Na baie maande waarin ons mekaar vermy het, synde ons werelde wedersyds ‘n verskrikking was, begin daar ‘n vriendskap. Ek sleep haar Sondagaande saam kerk toe, en sy leer my van Twisted Sister en Judas Priest. Ons dans die twee huise se tv-kamer matte stukkend.  Sy rook. Ek preek. Sy vloek. Ek frons. Ons swem oor en weer tot ons soos rosyntjies lyk. Ons bleik my hare met suurlemoensap, en ons sonbaai met gesteelde bier tot ons kastaiing bruin lywe het. Sy skilder en ek skryf gedigte. Ons luister die Top Twintig op Springbok radio, en Van Halen. In die aande slip ons uit die huis om langs die heining milo te drink.  

 

Ek meng nie met haar vriende nie, en sy nie met myne nie. Maar ons kuier ‘n hond uit ‘n bos. Sy word voorgestel in die kerk en sy trek ‘n rok aan. Ek kry my eerste sigaret by haar. Ek bere hom weke lank in ‘n kissie bo-op my gordynreeling. Hy word een oggend dou voor dag aan die brand gesteek, maar my gewete pla my te veel, en hy word ongerook ‘n stompie. My ma ontdek die stompie in my bedkassielaai en my pa se plak hom in jou dagboek en skryf ‘n gediggie oor hom.

 

Die anderkant verloor wedersyds vir ons sy verskrikking.

 

Ek beland in die hoof se kantoor as gevolg van die vriendskap. Ek weet tot vandag toe nog nie waarom nie. Dit kon die pakkie gewees het wat ek in my skooltas vir haar moes hou vir ‘n paar dae. Of dalk was dit omdat hulle gebank het, of gekrip het of iets. Dalk was dit heeltemal iets anders, en het die skoolhoof in sy wysheid besluit ek is clueless. Dalk het dit iets te doen met die feit dat ek my pa skrams sien wegstap het oppad kantoor toe. Ek weet nie.   Daar is name genoem wat ek nog nooit gehoor het nie en na geskorsde kinders verwys wat ek nie geken het nie. Ons is verbied om mekaar te sien. Van beide ouerhuise se kant af. Sy moes swot vir die eindeksamen, en ek moes onthou waarvan ek gehou het voor ek die anderkant leerken het. Die helfte van my klein wereld moes ek weer laat gaan.

 

In daardie tyd was daar baie rusies tussen my en my ma. Ek onthou hoe sy my gedwing het om te verduidelik waarom daar gesing word “heaven is a place on earth”. En hoe heeltemal magteloos moedeloos sy my gehad het. Toe ek gister oppad Oudtshoorn sit en musiek luister speel “Cecilia” oor die radio. My liewe genade, ek het ‘n ding of drie om vir Ouma te se as ek haar weer sien. Sy kan deksels bly wees ek was te stupid om hulle musiek te ontleed toe sy myne so gesit en ontleed het. Want ek wonder hoe sy daardie liedjie in al haar ontsteldheid sou verduidelik. Ek wonder rerig. Dit sou nogal snaaks gewees het. Sy kan bly wees ek het Def Leppard geluister en nie Simon en Garfunkel nie, minstens kon ek nie hoor wat hulle sing nie!

Profile photo of lisa

by lisa

Spoeg en plak: My ma dink dis erg grappig

Januarie 7, 2011 in Sonder kategorie

OUPA EN OUMA SE ANTWOORDMASJIEN
 
Goeie môre .. Ons is tans nie tuis nie, maar laat asseblief ‘n boodskap na die toon. As jy een van ons kinders is, druk die nommer kind wat jy is en druk dan een van die volgende nege opsies, sodat ons by ons terugkoms kan weet wat ons moet doen:
 
1.          As ons die kleinkinders moet kom oppas, druk 2
2.          As julle ons kar wil leen, druk 3
3.          As julle wil hê ons moet julle klere was en stryk, druk 4
4.          As julle wil hê dat die kleinkinders by ons moet kom slaap, druk 5
5.          As julle wil hê dat ons die kinders by die skool moet gaan haal, druk 6
6.          As julle wil hê dat ons vir julle ‘n maaltyd moet voorberei of dit by julle huis aflewer, druk 7
7.          As julle hier wil kom eet, druk 8
8.          As julle geld nodig het, druk 9
9.          As julle ons vir ete gaan nooi, of ons teater toe wil vat, begin praat, ons luister.