Jy blaai in die argief vir 2010 November.

Profile photo of lisa

by lisa

Cool

November 28, 2010 in Sonder kategorie

Is die woord wat ek  daar vanuit die middelbank (waarheen ek om veiligheidsredes verban is)  aanhoor terwyl ek druiwegeur kougom  kou en konsentreer om gesellig  en gerus voor te kom.

Links voor sit die pa.  Regs, agter die stuurwiel,  die 12jarige.

“Goed, sit hom nou in rat. Altyd saggies werk.”

“So?”
“Ja.”

“Ok, cool”

“Lig jou voet stadig”

“So?”

“Ja”

“Ok, cool”

“Hou links”

“Diekant?”

“Ja”

“Ok, cool”

Vanuit die agterbank kom lopende kommentaar.  (Meestal opmerkings wat soos water van die bestuurder se rug afrol).  Oudste, wat agter die bestuurder sit,  kla omdat dit bitter swaar is om te sien hoe die jongeres op al hoe vroer ouderdomme allerhande voorregte kry. 

Ek kou die uitgekoude kougom, en kyk na die refleksie van die pa se trouring in die ruit. 

Cool, man cool.

Profile photo of lisa

by lisa

Nie lag nie, antwoord net…

November 27, 2010 in Sonder kategorie

Pas ‘n botteltjie bier leeggedrink.

Want dis warm

Want ek het langs die swembad in die son gele en bak terwyl die kinders swem.

Want ek het gedink ons gaan nou iets ligs eet en dan dvd kyk.

En toe bel mnr Lisa.

Ek moet kom, hy het raad nodig.

Ek is lief vir rooiwyn af en toe.

Ek is lief vir ligte droe wit wyn af en toe.

Ek is glad nie gewoond aan bier nie.  En die botteltjie se 5.5% Vol.  En dit was heerlik koel en bitter. 

Ek moet 60km bestuur.   Kan hulle my aftrek of nie?

As ek vir ‘n tyd nie blog nie…stuur ‘n stuk koek met ‘n vyl in.  Of se asb net vir hulle ek was dom.  

Dankie.

Profile photo of lisa

by lisa

As julle hierdie ooit ooit ooit oorvertel…

November 25, 2010 in Sonder kategorie

Blog ek nie weer ‘n letter nie!

 

 

My man is weg met my 4×4 saam met besigheidsmense waarvaan een baie petite en baie gedress en sommer net baie alles is.   En dit klink my nogal  rerig baie oulik ook. En toe slaan my wange sommer sulke rooi warm kolle uit…

 

…sommer net so met die eerste kyk.

 

 

(Van hom het ek ‘n koebaaisoen in my nek en ‘n vreeslike bree smile en sulke fladder ogies gekry, want ek weet hy weet – die rooi wange is nou nie juis kamoeflering nie).

 

 

Sug.

 

 

Simpel.

 

Profile photo of lisa

by lisa

saamslaap

November 24, 2010 in Sonder kategorie

No 3 skryf LO.  Ek moet hom na werk (onder)vra. En ek moet goumaak, want no 4 wag al onder by die boomhuis vir hom om te kom speel.  Toemaar, se hy, ek hoef nie meer te vra nie, hy se sommer gou alles.  En hy rits dit af.  Vitamines en minerale, wanvoeding, padveiligheid, privaatruimte, plekke van aanbidding, dwelmiddels en hoe om nie vigs te kry nie:  Moenie saamslaap nie.  En oor sy skouer roep hy terug…maar net as dit iemand is wat se neus maklik bloei moet jy worry, en as jy ‘n stukkende plek het, anners is dit ok.

Wil graag vir die hoof ‘n briefie skryf:

Liewe Meneer,

My kind se dis ok om saam te slaap solank die ander ou se neus net nie bloei nie.   En hy se jy se ek moet maar vir hom verder leer as hy nog iets wil weet.  Hy wou nie vandag nog iets weet nie.  Hy wou gaan speel.

Wil maar net se dis ok met my ook as hy vandag  in die boomhuis speel en nie te veel worrie oor wat jy hom nie geleer het nie.  Want sy beurt sal kom.  Sy boomhuisdae spoed verby. 

Merk dan asb maar alles reg wat hy verkeerd geleer het.  Ek weet jy is ook ‘n pa.  Jy sal verstaan.  En jy weet hy sal tog op die ou einde weet.

Groete dan eers.

Mev Lisa  (M.A.)

Profile photo of lisa

by lisa

sterre kyk

November 20, 2010 in Sonder kategorie

Vanaand wil ek sommer net ‘n bietjie by jou sit

So rukkie aan jou raak en tot rus kom

Miskien my oe toemaak en agtertoe leun sodat ek deur toe oe na die sterre kan kyk.

Maar miskien is dit dieper

Hierdie onrustige gevoel van verlang

Miskien is dit die onvermoe om terug te staan en te kyk

Wat my die meeste vang

Dalk die baie vrae sonder antwoorde

Miskien as ek kon wegglip na binne

Of buite of iewers waar ek met God kon praat

En hoor wat ek nie gehoor kry nie

En sien wat ek nie insien nie

Sou ek dit met jou kon deel

En so deur my toe oe en jou nabyheid en die sterre

Rustig raak

En later slaap

En dalk sou ons lag

En vry wees

En speel

Dalk ‘n traan stort, wie weet

Maar net as jy kon bywees

Jy het gese ek moet minder fotos neem en meer detail onthou

Jy het gese dis nodig om seker te maak mens kan met toe oe sien

Ek sien niks, behalwe die sterre nie,

dalk die fyn spore om jou oe.

Ek sou graag sommer net ‘n bietjie by jou wou sit

Iewers in die aandwind

En aan jou raak

En met jou praat

En antwoorde en vrae en hierdie ongedurigheid met jou deel.

Profile photo of lisa

by lisa

Jaaaaa….sus.

November 6, 2010 in Sonder kategorie

Ek het hierdie week net weer besef hoe belangrik dit is om te verstaan hoe ‘n man se hartsake staan wat motorfabrikate betref.  Dit kan fataal wees om te dink dat ‘n Land Rover en Land Cruiser dieselfde droom is, net ander in ‘n ander kleur.  In hierdie omgewing is dit amper soos ‘n waterskeiding.  Die Cruiser manne en die Rover manne.

Die Cruisers, het ek agtergekom, aanvaar as ‘n feit dat die Rovers probleme gaan he.  Rover stories oor presies waar en watter probleme die eienaar opgetel het is volop.  Sodra daar egter ‘n Rover in die gelselskap beland, word daar empaties en kopskuddend uitgevra en geliaseer, vir latere nabetragting. 

Dit het woes gegaan by die kantoor hierdie week.  Daar was aanmekaar afsprake, en onderhandelinge en manne wat kom en gaan en agter toe deure vergader.  Een so vergadering het my baas vir ure besig gehou terwyl ek hom broodnodig gehad het om syfers na te gaan wat dringend aangestuur moes word.  So, ek wag. En tel my seeninge omdat ek nie saam agter daardie toe deur hoef te wees nie. 

‘n Paar uur later sien ek die mans sdeur my kantoorvenster saam uitstap en groet.  Ek slyp my spykerskoene om hom met sy terugkeer af te pen en die syfers onder sy aandag te kry voor iemand anders my voorspring. 

Maar die baas kom nie terug nie.    Intussen fluister ek vir twee van die ander vrouens in die kantoor dat dit hulle beurt is om die lang lat geselskap te hou wat pas voor die kantoor stilgehou het – ek het ander dringende sake om af te handel, die baas is MIA. 

Baas gekry.  Hy staan hande oor die bors gevou saam met vriend en vyand voor die oop enjinkap van die nuwe VW bakkie. Aktetasse verlate op teerblad.  Al vier die deure word oopgemaak.  Daar word ingebuk, gekyk en gevoel.  Teruggestaan en bespreek.  Omgeloop.  Teruggeloop vorentoe.  En ek verbeel my al dat die manne se tweede groet hartliker is.  Wat die volla betref is hulle nog in een kamp.  Die wag-en-sien-kamp.  

Oppad terug na my eie kantoor wonder ek waar die vrouens is.  Almal is weg.  En wat van die jonge heer geword het wat hulle moes geselskap hou.   By nadere ondersoek vind ek hulle is meer bedrewe as ek. Hulle staan waar die mans gestaan het, om die wit bakkie. Die lat praat.  En hulle kyk.  Nie vir die bakkie nie.  Vir die lat wat praat.

Profile photo of lisa

by lisa

ADHD

November 1, 2010 in Sonder kategorie

Besig om ‘n boek van Helena Bester te vluglees twv Nommer Drie.  Hy toets geniaal in ‘n afdeling of twee.  Hy toets onder die lyn in ‘n paar ander ander.  Hy is anders.  Ipv speel met ou motors en randsnyers en haardroers wat sy Oupa aandra vir hom om uit mekaar te haal, maak hy hulle reg.  Hy het eers op 5 begin praat, en hy sal ‘n ster wees in enige verhaal met die titel “Die wereld deur Nommer Drie se oe”.  Hy het die volwasse gemeenskap aan sy voete.  In die kerk laat ons die manne nie meer toe om voor te sit en vrae te antwoord nie om die rede.  Hy het begin motorfiets (4 wiel) ry toe hy nog in doeke was, maar geweier om te swaai. 

In die middel van ‘n tenniswedstryd staan hy stil en kyk hoe die bal ‘n hoop herfsblare in die lug op hop, en teken dit na die tyd in ongelooflike detail.  Hy begin gewoonlik aan een kant van die papier en teken die voorwerp van ‘n kant af in detail, asof hy bloot die prent wat hy reeds op papier sien se lyne na trek. 

Hy is ‘n vars briesie in my dag. 

Hy bou enige iets uit papier wat moontlik is.  In fyn fyn detail en met baie beplanning.  Hy gaan slaap met ‘n konsep in sy gedagtes (se nou maar ‘n TRex) en staan op en weet presies hoe om die driedimensionele werwels en ribbes en potjies te vorm sodat die ding kan beweeg.  En dit is altyd in proporsie.  Want dit wat hy in sy kop sien sien hy in detail asof hy daaraan kan vat. 

As jy vir hom se rook is sleg vir jou.  Is rook sleg vir jou, behalwe as hy jou verkeerd kan bewys.  En dit beteken hy sal met enige persoon wat rook ‘n ernstige gesprek oor sy longe aanknoop.  Ongeag.  As  jy die dominees is en jy se die lug is blou vandag, en more se jy dit is grys gaan hy baie belangstellend vir jou vra waarom jy dan gister gese het dit is blou.

Oud is oud.

Lelik is lelik.

En hoe verder ek lees oor ADHD (die dromerige tipe) sien ek skrikwekkend baie van myself. Maar so was dit ook in sielkunde.  Elke nuwe versteuring wat ons behandel het, het my aan die wonder gehad.

So.  As ek myself een van die dae vrywillig aanmeld vir Ritalin, moet julle weet dis oor die boek!