Jy blaai in die argief vir 2010 Oktober.

Profile photo of lisa

by lisa

Aan my Skoonma

Oktober 4, 2010 in Sonder kategorie

Liewe Ma,

Ek het gister ‘n oorwinning behaal. Jy sal  nie daarvan weet nie, want dit is nie in jou aard om so iets op te let nie.  As dit was, het ek geen stryd gehad nie!

Ma weet mos ons kombuisblad is nie van marmer nie.  Dit is waarom ek al die jare die snyborde aangee wanneer Ma slaai maak.  Of brood sny.  Of uie kap.  Oor die merke op die melamine.  Ek het gister moed geskep toe Ma die tamaties begin sny op die bord wat ek aangee.  En toe Ma die uie kap op die tweede bord het ek begin ontspan, en gedink ons het dit nou mooi onder die knie.  Maar ek het nie voorsien dat Ma van die tuisgebakte brood gaan wil sny vir die braaibroodjies nie. Ai.

Die oorwinning het gekom toe ek opkyk en sien hoe jou oe blink terwyl jy my vertel van die Camino wat jy in Spanje gaan stap.  Toe ek onthou hoe amper ons jou onlangs verloor het.  En toe ek besef die merkies wat jy dalk inkerf op my blad sal die stil getuienis wees van al die slaaie en al die saamwees, en ook van al die eerste jare, toe ons mekaar nie kon vind nie. 

Jy vlieg solo.   En jy doen dit, soos alles wat jy aanpak, met jou hele wese.  Ek leer so baie by jou.

Dit was nie altyd so nie.  En daardie paadjie wil ek, met watter beloning ookal in sig, nooit weer stap nie.  Dit is (met genade) verby. 

So liewe Ma, ek wil nou nie se kerf maar my blad op nie, of storm die kamer binne sonder om te klop nie (veiligheidshalwe sluit ek maar deesdae die badkamerdeur), maar ek wil se dat jy vir my meer kosbaar is as ‘n paar ander dinge.  ‘n Hele paar.