Jy blaai in die argief vir 2010 September.

Profile photo of lisa

by lisa

Nora Jones

September 8, 2010 in Sonder kategorie

Ek het Nora Jones se musiek leerken as gevolg van Wilna Adriaanse se Rebecca.  Sy het dit soveel keer as agtergrondmusiek gebruik in die verhaal, dat ek genoop gevoel het om die musiek vir my aan te skaf.

Dit was liefde met die eerste luister.

Enkelliefde.  Want Mnrlisa glo dit is die klank van ‘n kat wat pynlik besig is om te sterf.  Ons musieksmaak oorvleuel geredelik, maar daar is die hopies cd’s wat die een van die ander vermy. 

Met vriende wat gisteraand by ons gekuier het, weet ek weer presies waarom Adriaanse Jones se musiek in haar verhaal gebruik het.  Omdat dit perfek pas.  Omdat dit emosie in mens (dis nou mense met goeie smaak :-)) wakker maak.  Omdat dit die pasta en die slaai en die wyn en die skuimerige koffie en die saamwees sag en sleperig in die agtergrond komplimenteer.

Dat die res van die geselskap die kos meer as die musiek waardeer het, is ongelukkig so.  Dat ons laataand gegroet het met “Walking in Memphis” in die agtergrond is ook so.  Dat dit steeds ‘n heerlike genoeglike aand was bly so.

Maar vanoggend wil ek nog bietjie luimer in die herinnering aan daardie perfekte oomblikke toe die klank  sleperig in my gemoed gemeng het met smaak en tas en reuk en wees.

Profile photo of lisa

by lisa

Sagte rots.

September 6, 2010 in Sonder kategorie

Ek het gister op jou rotsstoel gesit. My kop teruggeleuen en na die blou blou lug met die vlieswolke en die seemeeue bo my gekyk. En na die branders wat breek.

Jou stoel sit sag. En knus.  En ek was geborge in die holte klip wat om my vou.

Ek was alleen. My solo naweek. En tog was ek nooit alleen nie.

Miskien die paar oomblikke toe ek onthou het presies waar jy daardie eerste keer gesit het, en ek. Toe was my geborgenheid jou nabyheid. Dit was toe ons die groot tweede gesprek gevoer het. Toe ek ons albei eers in Jesus geanker het, omdat ek nie geweet het wat gaan volg nie, maar geweet het dit gaan bepalend wees.

Dit het beendiep gesny. En my so stukkie stukkie weggehaal uit die hier en die nou. My voete het sand geraak toe ons gaan stap, maar ek weet dat ek gesweef het. Ek weet dat daar lugstrome genade was wat my sag-sag laat beweeg het oor die strand, oor die rotste, al met die teerpad langs en later huistoe.

Toe het ek al die geweldige vasgryp van skok in my liggaam gevoel. Ek het al geweet hoe dit voel. En ek het al geweet hoe ek heeltemal sag en rustig met my liggaam kon aanhou asemhaal en leef, terwyl my ganse hart en siel skuil en wag vir die ergste vreeslike pyn om weg te gaan.

Jy het my arm vasgehou teen jou. Met my vingers gespeel, terwyl ons versigting beweeg in die rigting wat jy so lank wou vermy, en nie meer kon nie. Ek het geweet na hierdie gesprek gaan ons vriendskap nie weer dieselfde wees nie, en ek weet ons het die tyd so bietjie uitgerek. Die saamwees geniet en gekoester voor die groot geweld wat wag. Jy wou so graag he dat jou woorde nie moes kneus nie. Dit het. Baie baie. Vir ‘n rukkie het ons daar teen mekaar en die lewe geskuil en toe gestap. Weg van die rotsstoel af en oor die sand. Ek het jou hand bly soek, en skoon vergeet dat ek in hierdie suiwer oomblik van gedeelde pyn en naaktheid die wereld steeds in ag moet neem, omdat aardse reels steeds geld. En jou hand weer gelos. Want ons albei was daar op ons eie.

Gister het ek daar gesit en dit alles onthou. Die trane het in vlae gekom. En die seer van onthou. Ek het gedoen wat ek daardie keer gedoen het. Ons in Jesus geanker, en gebid. Vir my en vir jou. En vir ons onderskeie lewens wat nog besig is om ‘n groter prentjie te vorm, wat ek nie nou kan sien nie.

Ek het vir jou ‘n klippie gebere…in die hoek waar die rotswande teen mekaar kom. Ek sal jou daarvan se wanneer ek eendag weet jy weer daar gaan wees.

Pas jou op my vriend. Jy is kosbaar verby.

Profile photo of lisa

by lisa

Wiele – myne!

September 1, 2010 in Sonder kategorie

Dis lentedag en ek is die trotse nuwe eienaar van ‘n liewe lelike maroooooooon 230 000 km oue prado.

Hy voel of hy van yster gemaak is.

Hy het genoeg batterye en brandstoftenke en metertjies en pype en goetertjies om my dwarsdeur enige staking en bo-oor enige berg te neem.

(Mnr Lisa moet net vir my ‘n katrol-ding vooraan sit…as ek dan iewers in ‘n sloot beland, kan ek my sommer self aan die naaste boom uitkatrol).

Het ek gese hy is maroooooon?

Nou gaan ek vlieg oor die klippe en laat waai deur die modder   (ok, ek sal stadig deur die modder twv die ou marooooone se algemene welstand, maar ek gaan laat waai oor die klippe. Yeah!)  Ek het al hoeveel keer na ‘n noue stert-verby-die-neus ontkoming gedink hoe ek eendag die gemiddelde vrou sal ore aansit op ‘n modderpad, en op ‘n gruispad, en op ‘n sinkplaatpad (maar lg sal ‘n baie baie aantreklike beloning moet inhou).

Die heel ergste wat ek al ooit beleef het was toe ‘n slimmie so wit laag poeierige sogenaamde gruis op van ons paaie ingery het…dit sou glo kliphard vastrap…maar toe reen dit.  Dit was ‘n absolute nagmerrie!  Swaartekrag alleen was genoeg om enige voertuig te laat bveweeg.  Enige helling na enige kant van die pad toe het beteken jy gly, of jy nou ry of stilstaan of rem of draai of watookal.  Enigste ou wat daardie stuk gery het was mnr Lisa…en ek dink daar was baie meer genade aan sy kant as enige vernuf…die res van ons (manne en vroue) het voertuie weerskante gehad, of sommer net weggebly.  Selfs stap was ‘n groot gemors en gevaarlik!

Die groot grap vir my is die feit dat ek nie baie opgewonde was oor die maroon een nie (maroooooon!)…daar is baie mooi wittes en silweres en nuweres (heelwat nuweres!!) beskikbaar…maar dis hier te kort en daar te lank, en mnr Lisa het my al my dae gegee met al die baie voordele van die spesifieke een.  En toe kruis die eienaar toevallg ons pad (hy het ‘n 200km draai gery om dit reg te kry), en daar raak ek sommer dadelik verlief op die lelike yster.  Hy is sterk en laat my veilig voel.  En toe se ek JA.

En nou is my liewe man teleurgesteld (nadat hy al die moeite gedoen het om my te oortuig), want daardie een is oud en rerig nie die mooiste man op 4 wiele nie.  Heimlik dink ek hy is jammer die jagtog vir hom en sy pelle is nou verby…want al wat leef en beef het help soek.

Soooo.  Julle moet lekker slaap.  Ek slaap vanaand in my bed…maar ek dink ek en die seuns moet een aand die nuwe banke uittoets…net ingeval ons iewers vasval en moet oornag!

Lekker slaap… Lisa