Profile photo of lisa

by

Hierdie geslag.

September 30, 2010 in Sonder kategorie

Ek weet ek het nou-net iets lafs geblog, maar nou het ek eers nodig om ‘n paar ander dinge te verwoord sodat ek dit kan verwerk ( soos in prosesseer).

Oudste is op ‘n kamp in die Noorde.  Ongeveer 500 kinders tussen 14 en 19jr.  Sy se die klompie van Oudtshoorn is soos aliens tussen die stadsjapies.  En sy se hulle praat alien ook.  Daar moet aanmekaar “eksuus” gese word omdat die twee punte van ons land mekaar  se tiener dialek  nie dadelik snap nie. 

Ek het vooraf probeer uitvind wat presies op die kamp se program is.  Watter lesings aangebied gaan word ens.  Kon min uitvind.  My grootste besorgdheid was maar rondom “Heilige Gees” goeters.  Ek het al ‘n pad gestap.  En die lyn is soms maar dun. Ek is nie ‘n baie optimistiese gelowige as dit kom by “daar is iemand in die gehoor wat dit of dat of iets makeer nie”.  En dit beteken nie dat ek nie wonderwerke sien gebeur het nie.  Ek het.  Maar nie’ tydens n vertoning nie.  En nie in die vorm van ‘n sirkus nie. En daar was geen emosie, of kollektiewe energie  of wat ookal nodig om dit te laat gebeur nie. 

Altyd vir my aaklig as ek ‘n stukkie onskuld van een van ons kinders moet wegneem.  Dis elke keer ‘n tree weg van die paradyslewe waarvoor ons geskep is, nader na die werklikheid waarin ons woon. 

Haar sms die eerste aand se al sy is ongemaklik met sommige van die lesings, maar die avontuur-gedeelte is tops. Tweede dag se sy dit is baie moeilik om te glo dat 499 ander mense die pot op party plekke kan mis sit.  Derde dag rammel sy aantekeninge oor die telefoon af.  Ritse uitsprake en gebeure en vrae wat sy daaroor het.  Dit is onmoontlik om dit alles oor die telefoon en binne so kort tydjie te antwoord.  Sy is 1400 km van ons af.  En sy is op haar eie.  En op ‘n manier is dit haar beurt om te kies.  Om te luister en te bevraagteken en besluite te neem.  Dit kom so gou – soveel gouer as wat ek gedink het.

Vier van die nege (14jarige) dogters in haar groep is reeds gemolesteer. 

Twee rook. 

Vier sny hulleself of het hulle self al gesny.  

Helfte se ouerhuise is ongebalanseerd opgebreek.

Sy is in ‘n ok groep, sonder ernstige probleme.

Wat het skeefgeloop?

6 antwoorde op Hierdie geslag.

  1. liki het gesê op Oktober 1, 2010

    Die “skeefgeloop” was/is die weggeloop van die God van die Bybel en Sy voorskrifte af, lisa. En die sirkus, oordrewe emosie, kollektiewe energie (soos jy noem), of nihilisme wat in die plek daarvan nagejaag word.

    Dis so laat in die dag…

  2. lisabeth het gesê op Oktober 1, 2010

    Annemarie…ek weet waardeur ons al is…en as haar lewe soos ‘n piekniek lyk teen die res is dit regtig rof. Maar ek weet ook daar is baie baie genade aan ons gegee – en ek kan net regtig baie stil en dankbaar wees.

  3. UNPOCO het gesê op Oktober 1, 2010

    Ek werk van tyd tot tyd met “kinders met probleme” en ek probeer altyd eerste om by die ontstaan van die probleem uit te kom en meer as dikwels is die probleem dissipline tuis en groepsdruk. Kinders moet van baie kleins af geleer word oor keuses en om verantwoordelikheid vir keuses te neem. Sterkte!

  4. loudavisi het gesê op Oktober 2, 2010

    ek ook, Flenters!
    Toe was dit reg of weg en respekte en angste ens.

  5. loudavisi het gesê op Oktober 2, 2010

    Jy sal alle probleme met haar tuiskoms uitstryk, ek weet. My dogter was in St9 op so ‘n toer en het teruggekom en ons veroordeel as sondaars. Nou is dit alles oor en is sy weer “normaal”

  6. eros01 het gesê op Oktober 2, 2010

    Beter om kinders stadigaan aan hierdie goed bloot te stel terwyl hulle nog onder jou dak bly. xR

Los ’n antwoord vir eros01. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.