Profile photo of lisa

by

Sagte rots.

September 6, 2010 in Sonder kategorie

Ek het gister op jou rotsstoel gesit. My kop teruggeleuen en na die blou blou lug met die vlieswolke en die seemeeue bo my gekyk. En na die branders wat breek.

Jou stoel sit sag. En knus.  En ek was geborge in die holte klip wat om my vou.

Ek was alleen. My solo naweek. En tog was ek nooit alleen nie.

Miskien die paar oomblikke toe ek onthou het presies waar jy daardie eerste keer gesit het, en ek. Toe was my geborgenheid jou nabyheid. Dit was toe ons die groot tweede gesprek gevoer het. Toe ek ons albei eers in Jesus geanker het, omdat ek nie geweet het wat gaan volg nie, maar geweet het dit gaan bepalend wees.

Dit het beendiep gesny. En my so stukkie stukkie weggehaal uit die hier en die nou. My voete het sand geraak toe ons gaan stap, maar ek weet dat ek gesweef het. Ek weet dat daar lugstrome genade was wat my sag-sag laat beweeg het oor die strand, oor die rotste, al met die teerpad langs en later huistoe.

Toe het ek al die geweldige vasgryp van skok in my liggaam gevoel. Ek het al geweet hoe dit voel. En ek het al geweet hoe ek heeltemal sag en rustig met my liggaam kon aanhou asemhaal en leef, terwyl my ganse hart en siel skuil en wag vir die ergste vreeslike pyn om weg te gaan.

Jy het my arm vasgehou teen jou. Met my vingers gespeel, terwyl ons versigting beweeg in die rigting wat jy so lank wou vermy, en nie meer kon nie. Ek het geweet na hierdie gesprek gaan ons vriendskap nie weer dieselfde wees nie, en ek weet ons het die tyd so bietjie uitgerek. Die saamwees geniet en gekoester voor die groot geweld wat wag. Jy wou so graag he dat jou woorde nie moes kneus nie. Dit het. Baie baie. Vir ‘n rukkie het ons daar teen mekaar en die lewe geskuil en toe gestap. Weg van die rotsstoel af en oor die sand. Ek het jou hand bly soek, en skoon vergeet dat ek in hierdie suiwer oomblik van gedeelde pyn en naaktheid die wereld steeds in ag moet neem, omdat aardse reels steeds geld. En jou hand weer gelos. Want ons albei was daar op ons eie.

Gister het ek daar gesit en dit alles onthou. Die trane het in vlae gekom. En die seer van onthou. Ek het gedoen wat ek daardie keer gedoen het. Ons in Jesus geanker, en gebid. Vir my en vir jou. En vir ons onderskeie lewens wat nog besig is om ‘n groter prentjie te vorm, wat ek nie nou kan sien nie.

Ek het vir jou ‘n klippie gebere…in die hoek waar die rotswande teen mekaar kom. Ek sal jou daarvan se wanneer ek eendag weet jy weer daar gaan wees.

Pas jou op my vriend. Jy is kosbaar verby.

10 antwoorde op Sagte rots.

  1. pasella het gesê op September 6, 2010

    Sterk emosie, teer en hartseer.

  2. Soms is onthou seerder as ander tye

  3. Ai …

  4. Hmmm …dit is so…maar dankie tog daardie oomblikke gaan ook verby!

  5. Dankie Kelly 🙂

  6. More Lewies…ek smaail al as ek net jou prentjie sien…jou inskrywings laat my so lekker lag!

  7. More DsP 🙂

  8. Adage het gesê op September 7, 2010

    xxx

  9. Jip memories Lisa.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.