Jy blaai in die argief vir 2010 September.

Profile photo of lisa

by lisa

Hierdie geslag.

September 30, 2010 in Sonder kategorie

Ek weet ek het nou-net iets lafs geblog, maar nou het ek eers nodig om ‘n paar ander dinge te verwoord sodat ek dit kan verwerk ( soos in prosesseer).

Oudste is op ‘n kamp in die Noorde.  Ongeveer 500 kinders tussen 14 en 19jr.  Sy se die klompie van Oudtshoorn is soos aliens tussen die stadsjapies.  En sy se hulle praat alien ook.  Daar moet aanmekaar “eksuus” gese word omdat die twee punte van ons land mekaar  se tiener dialek  nie dadelik snap nie. 

Ek het vooraf probeer uitvind wat presies op die kamp se program is.  Watter lesings aangebied gaan word ens.  Kon min uitvind.  My grootste besorgdheid was maar rondom “Heilige Gees” goeters.  Ek het al ‘n pad gestap.  En die lyn is soms maar dun. Ek is nie ‘n baie optimistiese gelowige as dit kom by “daar is iemand in die gehoor wat dit of dat of iets makeer nie”.  En dit beteken nie dat ek nie wonderwerke sien gebeur het nie.  Ek het.  Maar nie’ tydens n vertoning nie.  En nie in die vorm van ‘n sirkus nie. En daar was geen emosie, of kollektiewe energie  of wat ookal nodig om dit te laat gebeur nie. 

Altyd vir my aaklig as ek ‘n stukkie onskuld van een van ons kinders moet wegneem.  Dis elke keer ‘n tree weg van die paradyslewe waarvoor ons geskep is, nader na die werklikheid waarin ons woon. 

Haar sms die eerste aand se al sy is ongemaklik met sommige van die lesings, maar die avontuur-gedeelte is tops. Tweede dag se sy dit is baie moeilik om te glo dat 499 ander mense die pot op party plekke kan mis sit.  Derde dag rammel sy aantekeninge oor die telefoon af.  Ritse uitsprake en gebeure en vrae wat sy daaroor het.  Dit is onmoontlik om dit alles oor die telefoon en binne so kort tydjie te antwoord.  Sy is 1400 km van ons af.  En sy is op haar eie.  En op ‘n manier is dit haar beurt om te kies.  Om te luister en te bevraagteken en besluite te neem.  Dit kom so gou – soveel gouer as wat ek gedink het.

Vier van die nege (14jarige) dogters in haar groep is reeds gemolesteer. 

Twee rook. 

Vier sny hulleself of het hulle self al gesny.  

Helfte se ouerhuise is ongebalanseerd opgebreek.

Sy is in ‘n ok groep, sonder ernstige probleme.

Wat het skeefgeloop?

Profile photo of lisa

by lisa

7e Laan se moses

September 30, 2010 in Sonder kategorie

Ouma het die twee skerminkels in die selle gaan beskou – sommer so terwyl sy wag vir die verklarings en dinge om klaar te kry.

(Heimlik dink ek sy het die aanklagkantoor op horings geneem soos net sy in haar nommer 4 skoene  dit kan doen.  Sy moes immers haar staptog saam met ‘n vriendin in die Kouga Wildernis kortknip,  omdat sy die  gesteelde goedere  moes gaan uitken).  

Baie erg op haar perdjie is sy dus na die selle om die vyand en haar eie vrees (vreesloos) te konfronteer (sy was glo net effens uitasem).  Toe vertel sy die twee manne hulle fortuin en eis om te weet wat hulle in haar huis gemaak het, en waar hulle die res van die goed wat sy vermis weggesteek het. 

En, na bewering, het sy toe stil op die bankie gaan sit waarheen die speurder haar beduie het.

Nadat alles afgehandel is,  is sy terug selle toe, om vir die twee skerminkels  wat byna haar huis laat afbrand het, en wat jok sonder om ‘n ooglid te beweeg, en wat ‘n groot gemors gemaak het die sak vol  tuisgebakte gemmerkoekies te gaan gee wat hulle aanvanklik gesteel het.

My liewe man het amper bloupipperellakoors gekry.  Daarom, se sy, is dit maar beter as  hy liewers nie van al haar bewegings weet nie.  

Ek weet julle sal nie vertel nie. 

En toe

Profile photo of lisa

by lisa

Tjoekie toe

September 28, 2010 in Sonder kategorie

Hierdie storie wil ek graag mooi vertel van begin tot einde.

Maar ek weet nie of ek gaan tyd he nie.

Ek weet net ek het vandag iets in hierdie nuwe Suid-Afrika beleef wat my hoop gee op verskeie vlakke.

En ek weet twee manne slaap (ten minste) vanaand in die selle

En ek is bly dit is wie dit is, en nie iemand anders nie.

En Whoopie vir die cool dudes (verskoon my) wat hulle ondervra en gepeper het

Ek sou julle baie graag alles wil vertel want dit is die moeite werd om te hoor.

Soooooo bly die polisiemanne was alles behalwe wit.  En soooo bly dit is nie wit teen minder wit nie.  En soooo bly dat iemand genoeg omgegee het om te kom se wie dit is wat ingebreek het.

Moet nou spring…

Whoopie!

(A-hem, tweede Whoopie klink glad nie soos dit in my kop klink as mens dit lees nie!  Bye)

Profile photo of lisa

by lisa

Genadiglik het dit begin brand.

September 27, 2010 in Sonder kategorie

Gestaan en kyk na die swart traandruppels wat die roet en die water vorm

en hoe dit op die leiklipvloer spat

en op die pragtige mat

terwyl Mnrlisa nog en nog en nog fynsproei water spuit om seker te maak elke gloeiende kooltjies in die dakkappe word geblus

terwyl Skoonma weer met die polisie redekawel omdat hulle nog nie uitgekom het nie

omdat iemand by haar studeerkamervenster probeer inkom het

omdat iemand die beweingsligte stukkend gegooi het

omdat iemand die veiligheidshek by die agterdeur afgebreek het

omdat iemand die onderdeur uitgeskop het

omdat iemand die twee bakke gourmet sjokolade muffins uit die yskas gesteel het

omdat iemand vuur gemaak het op haar waskamer vloer

omdat iemand teen die spensrakke uitgeklim het om op die plafon te kom

omdat iemand daarbo in die donker seker ‘n vuurhoutjie getrek het

omdat ‘n vonkie iewers in die donker geval het en ‘n brand begin het

omdat sy verwag het dat die polisie sou reageer toe sy die eerste keer gebel het

op Jeffreys was ‘n lyk van ‘n vrou

met veelvuldige steekwonde

in haar huis gevind,

terwyl die aanvaller

hy was maar ‘n kind

op die plafon skuil

as hy net ingebreek het

as hy net gesteel het

as hy nie opgeklim het na die plafon nie

sou hierdie gevoel nie so erg gewees het nie

Andernag het sy ons gebel…kom gou…daar is 3 mans in die huis

sy het die kamerdeur in die split van ‘n sekonde  toegedruk gekry en haarself toegesluit in die kamer

Mnrlisa en buurman met pistole en skietlampe hier af

ons mag nie bel nie

nie roep oor die radio nie

nie weet wat gebeur tot ons eendag weer van hulle hoor nie

polisie M.I.A.

Verdagtes reeds weg

met lopers ingekom

Volgende oggend tienuur noodalarm

helder oordag

met ongeveer driehonderd mense versprei oor die plaas

met baie beweging

en hoe risiko

het hulle die vorige nag geskuil terwyl die omgewing bewe van bedrywigheid

in die buite geboue

en die niksvermoedende huishulp

wat gou iets wou gaan haal

het amper gesterf met ‘n lem deur haar nek

maar haar lewe uitbaklei

en gebyt en geskop en gekrap

en weggekom

omdat hulle net so verras was soos sy

en nou drup die plafon roettrane

oor hierdie pragtige stuk aarde wat so onveilig geword het

oor haar spog paradys tuin waarin sy met soveel toewyding en trots wandel

maar waar dit te gevaarlik vir haar geword het om alleen te bly

omdat lewe wat so kosbaar is so waardeloos geword het

omdat ek nie meer die sin in haar pragtige skilderye

en meubels

en dinge sien as haar lewe minder werd is nie

oor my kinders wat nog iewers in hierdie land

moet droom en leef en kinders kry

Profile photo of lisa

by lisa

tjok en blok

September 26, 2010 in Sonder kategorie

My kapasiteit om lief  te he is vol.  Daar is nie meer plek vir ‘n muis of ‘n mens nie.  Oppelalla.  Finis.

  

Die versameling liefgehedes in my lewe is nie indrukwekkend lank nie.  Maar dit is for life.  En dis nie altyd gemaklik nie.  Koes en keer het die lys nie beperk tot die very nearest en dearest nie…so hier en daar elke dekade glip ‘n onwaarskynlike kanidaat deur die doane …en dan is dit tiekets.  Koeel deur die kerk.  For keeps.

En as een van hulle weggaan

In gevaar is

Ongemak beleef

Nie kontak het vir ‘n tyd nie

Ly ek

En suffer ek

En verlang ek

En hoop ek

En wag ek

En bid ek

Tot dit voel of dit ‘n fisiese aanslag teen my lyf is…hier oor my middelrif …en soms hier deur my hart

  

Nugter weet wat die adevertensie bedoel as hulle se “Looking for love? Meet thousands.  Sms LOVE to 123321”  Hulle koppe kap aan.  Big time.

Profile photo of lisa

by lisa

Te werklik om te begryp.

September 21, 2010 in Sonder kategorie

Dogtertjie vandag oor my pad gekom.

Haar ma wil haar nie meer he nie.

Denimrompie. Mooi bloesie. Denim onderbaadjie. Haartjies gevleg.

Nuwe grootmenstande skitter in twee blink rye. Skraal armpies en handjies.

Haar handjies vasgehou terwyl ons gesels en gewonder of sy weet hoe dit voel om opgeraap en warm vasgedruk te word.

Beklemd besef haar klein lyfie weet dalk van meer dinge as waaraan ek kan waag om te dink.

Wou vir haar se sy moet by ons kom bly, ons sal haar oppas

My eie kinders se gesiggies voor my sien verbyflits en geweet ek moet hulle ook beskerm. (Hoe sou ek haar familie van haar kon weghou. Hoe sou ek haar kon wegneem en my eie maak en dan die moed he om haar weer te laat gaan tussen die gevaarlike plekke en mense in sonder dat my hart heeltemal breek).

Geweet waarom my pa so ferm NEE gese het toe ek maatskaplike werk as toekomstige beroep noem. Ononderhandelbaar nee, want hy’t geweet.

Hoe kan ‘n ma nie meer haar dogtertjie wil he nie?

Klein liefie meisietjie wat haar koppie skud toe ek vir haar vra of sy weet van Jesus. Miskien weet sy nie eers dat die wereld heeltemal stukked is nie want sy weet nie wat heel beteken nie.   Ek wil vir haar se dat ek ook nie geweet het wie Hy is nie tot ek beleef het hoe daar eendag met die noem van Sy naam iets gebeur wat geen mens kon doen of ooit sal kan nadoen nie. En dat ek van toe af weet dat Hy bestaan, al verstaan ek nie alles nie.

Ek wil haar in ‘n groot borrelbad laat speel tot haar tone rosyntjies is.

Ons het ‘n huis met baie kamers. En baie goeters. En baie plek. En dit help niks. Want dis meer ingewikkeld as net dit.

Hoe seer en deurmekaar moet ‘n ma se lewe word as sy op die punt kom dat sy vir haar dogterjie se “ek wil jou nie meer he nie?”

Profile photo of lisa

by lisa

Gaan nou soos ‘n verantwoordelike ouer my rekenaar afsit en slaap.

September 20, 2010 in Sonder kategorie

Nag Almal. lekker slaap.

Profile photo of lisa

by lisa

Rooimiere.

September 20, 2010 in Sonder kategorie

Vanoggend die verste 300km ooit gery.

Weggetrek in die donker.

Milo gedrink

RSG geluister

Lugversorger koud op my laat waai

Vaker gevoel

Yogetta begin suig

Musiek aangesit

Ysblokkies gesuig om te probeer wakker bly

Gebibber

Gekyk hoe die dag gebore word

RSG weer probeer

My ma gebel

Neute geeet

Steers geeet

Vriendin gebel

Sjokolade geeet

Naar gevoel

Baie slegte soet koeldrank gesuig

Ander vriendin gebel

Met my knie begin bestuur en hare in nuwe styl met knip vasgemaak

Gewonder of ek sal kan blog en bestuur

Saam die radio gesing

Gewens daar was nog ys

Mnrlisa gebel

Gese ek is naaaaar geeet

Gewens die pad wil nou klaarkry

Arms gestrek

Bene gestrek

Rug gestrek

Gewens ek het water in die kar

Iemand opgelaai wat ek ken

Iemand weer afgelaai

Begin rondskuif op die sitplek

Venster oopgedraai

Mnrlisa gebel en gese die pad het nie einde nie

Water gekry en gedrink en gedrink

Gedink opgooi gaan al wees wat nou kan help

Gesien ek is amper daar

Moed geskep

Gewens ek hoef nie weer die hele ent pad Donderdag aan te durf nie.

Besluit ek word ‘n huishen

Profile photo of lisa

by lisa

Go Sebastiaan!

September 18, 2010 in Sonder kategorie

Hy het hier begin werk toe hy sestien jaar oud was, nege jaar gelede.  (Nee, ek weet ook nie hoe hy op sestien deur die sisteem geglip het nie).  Voorbok van al wat moelik en moelikheid is.  Sterk leierseienskappe wat hom gereeld op al wat komitee is laat beland.

Ons bring baie wrewelrige ure in mekaar se geselskap deur, gewoonlik aan twee kante van die tafel.  Ek is vasberade om sy kop te swaai, hy is vasberade om al wat grens is uit te daag.  Wanneer hy hom vasloop in ‘n muur van teenstemme storm hy bewend uit die vergaderingsaal. 

Ons stoei voort.  Somtyds gaan ons ‘n paar tree links en soms ‘n paar tree regs.  Per geleentheid verbeel ek my ons gaan vorentoe – maar hy sou dit dalk regressie noem.

En toe op ‘n dag verander iets in hom. Hy weier nie meer om kursusse by te woon nie.  Hy begin luister na teenargumente en soek die swakplekke daarin.   Hy wend ‘n reuse poging aan om sy humeur te beteuel.  Hy begin glimlag.  En hy begin sy sin kry, want sy bydraes raak sinvol.

Ek is vertel dat hy die dag toe die sportklere gearriveer het die pad dopgehou het, en dat hy  toe die voertuig voor die kantoor stilhou, saam met hom daar aangekom het, uitasem en natgeweet.   En dat hy geweier het om terug te gaan werk toe voor hy nie die nommer dertien rugby trui in sy hande gehou het nie.

Vandag het hy hier by my kantoor ingekom en tot langs my stoel gestap, my in die oe gekyk en gese hy wil ‘n lening aangaan. Voor ek vir hom kom se hy moet ‘n leningsvorm invul se hy vir my hy sal ‘n leningsvorm invul, maar hy het net vir my kom se hy gaan vir homself borg staan. 

Ons het mekaar ‘n rukkie in die oe gekyk voor ek vra van wanneer af mens vir jouself borg staan.  “Vandat mens in jouself glo en weet jy is betroubaar” was sy antwoord.

Nou ja.  Sy lening gaan voorkeurbehandeling kry.  En hierdie naweek skree ek nie vir die Bokke of die Bulle of die Haaie of die Kraaie nie, ek skree vir Sebastiaan in sy groen en rooi nommer 13 trui.

Profile photo of lisa

by lisa

Joe-hoe! Hallo?

September 14, 2010 in Sonder kategorie

In Engels beloof hulle Absence makes the heart grow fonder…

en in Afrikaans dreig hulle met uit die oog uit die hart…