Profile photo of lisa

by

Blase

Augustus 29, 2010 in Sonder kategorie

Die seuns het my berg-op gesleep.  Figuurlik.  Want ek het met my eie voete – toe nog heel en pienk – gestap. Rugsakke op die rug – myne gelaai met 3 liter water, my slaapsak, noodhulp dingetjie, en ‘n pak suiker of twee (net vir gewig),hulle s’n met water, en koeldrank, en appels, en suigstokkies, en sjokolade.  Ek dra myne saam om te voel of ons twee mekaar kan vind voor my staptog voplgende week, hulle dra hulle s’n om te keer dat hulle honger word. 

Driekwart-pad teen die laaste helling uit gaan ek op ‘n rots sit en verklaar ek is op.  My stapstewels skaaf waar hulle nog nooit gekaaf het nie,  my asem is weg weg weg. My hart bons nou al so lank so hard dat dit my nie meer skok nie, maar sonder asem en met jellie-bene kan ek nie verder nie. 

Jongste is omtrent in trane…”asseblief Mamma, kom net tot hier, dis amper bo,  ons sal jou rugsak vat”   Die bobbejane blaf iewers links teen die oorkantste skuinste, en ek sien hoe benoud hy die afstand tussen ons en hulle meet. Dis so skuins dat ek nie eers hande-vier-voet  hoef te sukkel nie…ek le maar net so effens vorentoe sodat my hande teen moeder aarde kan rus, terwyl my voete vastrapplek soek.  En my hakskene brand!!

Half-ses is ons bo (vir die hoeveelste keer, want met elke bo-kom, is daar nog ‘n stukkie om te klim, maar die keer is ons regtig bo-bo)  Ek kyk terug oor die voue van die Tsitsikamma berge Plet se kant toe…op ‘n helder dag – se my pa – kan mens glo die kuslyn sien.  Ek sien net voue en voue groen, en mistigheid ver.  

Anderkant toe le die Langkloof.  Die ou wereldjie is maar klein van hier bo af.

Selfoon piep in my sak, in ‘n ongewone ooblik van sein.   Dis mnr Lisa. ” Julle sal moet afkom, die donker gaan julle vang.  Waar is julle?”. 

Die afkom, dink ek , was erger.  Ons is skuins en langsamerhand op.  Ons is so reguit as moontlik en so vinnig ons kon af.  Die manne plek-plek op hulle boude. Ek het gedreig met helikopters wat nie in die nag gaan kom soek na seuntjies met af bene nie, en met ‘n vreeslike loesing, maar die bokspring in hulle word swaar gedemp. 

Naderhand gewonder of die heli sal uitkom net vir my.  Sonder enige breuke.  Net omdat ek mooi vra, en omdat ek weet my hakke is seker al bloederig.  Heimlik gebid dat die elektriese drade om die bergkamp moet af wees…sodat ons by ‘n sloot sommer onderdeur kan rol, en nog korter kortpad kan kies huiswaarts.  Gerol het ons.  Gekruip, en gehaak en gestoot en gekners op ons tande.  Kort paaie is nie ‘n goeie ding nie.

Jongste huil die laaste opdraande huistoe heelpad.  Omdat ons nerens piekniek gehou het nie.  En wat nou van al die kos in sy rugsak?  Ek se hy kan sommer so in die loop iets eet.  Maar hy wil nie.  Hy is nie honger nie.  Hy het sy rugsak gepak om te gaan piekniek hou daar bo. 

Nommer Drie se hand is vol blomme.  Hy het met die afkom by al wat ‘n inheemse bolplant  is ‘n blom gepluk.

 Ai!  Jongste is sy pa se kind.  Hy het gestap met ‘n doel.  Hy gaan piekniek hou daarbo.  Nommer Drie het die reis geniet.  Seker twee keer so ver soos ons gestap, omdat hy op en af en links en regs uitdraai om te kyk en ervaar en te ontdek.

En nou le ek hier in die bed en tik…met seer hakke.  Kon Donderdag nog my tekkies aankry vir tennis, maar daarna was dit tiekets!  Blase is rou en seer en skoene ‘n saak van onmoontlikheid.  Gaan vandag met my stapsokkies kerk toe, sonder skoene.  En weet regtig nie hoe ek teen volgende naweek gaan reg wees vir die regte stap nie – want ek sal dit nie met pantoffels aan kan doen nie!

4 antwoorde op Blase

  1. Is dit pers mercurocrome?

  2. pasella het gesê op Augustus 29, 2010

    hoop jy is betyds heelhuids op die been.

  3. Oe eina! Maar dit klink verseker die moeite werd.

  4. Berwick het gesê op Augustus 29, 2010

    Groetnis, Lisa.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.