Profile photo of lisa

by

Oormag.

Augustus 28, 2010 in Sonder kategorie

Eintlik het ek mos my liefde bewaak.  En baie suining daarmee omgegaan.  Baie beslis besluit waaraan en aan wie ek geheg sal raak – en daarvan was daar ook maar min. 

Sou op enige gegewe tyd vir jou kon se op watter orbitaalvlak wie in my lewe le.   Met die middelste sirkels byna leeg…en heelwat mense daar ver op die buiterand.

Maar toe word ek ‘n ma.  Eers net fisies, en toe later in my hart.   Daar, in die middel van die binnekring,  waar stilte en orde en alleenreg was, het vier ander wesens begin woon.  En later het hulle liefdes ook die konsentriese sirkels begin binnedring.   Eers daar doer ver op die horison ‘n hamster, ‘n hoender en haar kuikens, ‘n kalf, ‘n perd, twee katte, vier honde, ‘n papagaai, twee budgies, nog ‘n perd…

Ek het redelik goed stand gehou.  Die binnekring beperk gekry tot dit wat vlees en bloed en tweebenig is.  Maar vanoggend het ek wakker geword, met ‘n warm bondel hare by my voete.  Onder die duvet.  Nommer Twee se hondjie.  Sy het nie toestemming gevra nie, sy het net inkgeklim.  En toe los ek haar maar.   

Toe jongste op sy pa se maag kom spring sodat hy kan toets of sy pa se maagspiere drie-en-dertig (hy hoop) kilogram kan weerstaan, en ek keer vir die bondel sag daar onder, het ek besef dis verby… sy het gekom om te bly.  Pens en pootjies binne in my hart.  En dit is reg met my. 

En dit het my laat dink aan hoeveel anders dit nou hier binne is.  Ek het heeltemal se en beheer verloor.  Die oormag was te groot.  En dit is honderd persent reg vir my.

7 antwoorde op Oormag.

  1. Ag dis lekker – jy klink sommer gelukkig!

  2. En eintlik is hierdie die een plek waar ek my hart al oopgeskryf het.

  3. Dit is maar bang vir verloor…en jy is reg oor die sommetjie…hierdie was ‘n hostile take-over!

  4. Hallo Henry…ek is gelukkig…en begenadig. Hoe gaan dit met jou?

  5. Sal graag wil weet wat jou aanvanklik huiwerig gemaak het om iemand in te laat

  6. jy skryf so mooi, lisa.
    Mens se hart het plek vir baie.

  7. Lewendig. dankie, lewendig – dit maak al die verskil, jy weet…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.