Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

Profile photo of lisa

by lisa

Stilte

Augustus 31, 2010 in Sonder kategorie

Met KOKOMO se uitdaging so in my agterkop, en na die lees by Sonneblom vanoggend, is ek stil bewus van die vrede in my. 

 

Vrede en dankbaarheid en werklike verwondering.

 

Wat noem mens iemand wat nie aan predikante glo nie, wat skepties is oor godsdiens, die kerk, die meeste boodskappies van hoop, lankal nie meer die gemeente-ding doen nie, en tog weet dat sy weet dat sy weet…

 

…en haar verwonder aan die Vader wat haar stil en sterk tot hier gebring het, verby en oor elke onoorkombaarheid. 

 

Hy het my gewys. 

 

En ek kan Hom nie ontken nie. 

Profile photo of lisa

by lisa

Daai vinger.

Augustus 29, 2010 in Sonder kategorie

Ek staan en kolwyntjies versier saam met Nommer Drie vir sy rygby-afluiting van more, toe die volgende gebeur.

“Mamma dit beteken mos nie iets leliks as ‘n vrou haar middelvinger wys nie?”

Ek verduidelik dat dit presies dieselfde betekenis het, maak nie saak aan watter geslag die vinger behoort nie.

“O, maar dan beteken dit seker iets hoer (kolletjies op die e)op by ‘n vrou?”

Ek sukkel om oor te skakel van die nege provinsies wat ons besig is om tussen die versierdery te hersien na die erns van die oomblik.  “Huh? – hoe bedoel jy?” wil ek weet.

“Dit kan mos nie iets leliks beteken by ‘n vrou nie Mamma, want hulle het mos nie Mamma weet wat nie, dis dan seker maar net soos vloek vir hulle.”

Ek strompel heel onvoorbereid en met verdeelde aandag deur die res van die gesprek, ons maak ‘n draai by kinders wat dit gebruik sonder dat hulle mooi weet wat dit beteken, en ander wat presies weet en so aan en so voorts.  Glad nie lus om in die grafiese detail te verval en nie, maar baie bewus daarvan dat dit eintlik al antwoord is wat die misterie rondom die vinger kan oplos.

Saam met die laaste versiersuiker wat hy met ‘n voorvinger uit die bak vee is sy gevolgtekking:  “Ek dink dis baie lelik om dit te wys, maar net nie as jy ‘n vrou is nie, want Mamma weet mos hoekom, en ook nie as jy ‘n biker is nie, dan is dit cool!”

Profile photo of lisa

by lisa

Blase

Augustus 29, 2010 in Sonder kategorie

Die seuns het my berg-op gesleep.  Figuurlik.  Want ek het met my eie voete – toe nog heel en pienk – gestap. Rugsakke op die rug – myne gelaai met 3 liter water, my slaapsak, noodhulp dingetjie, en ‘n pak suiker of twee (net vir gewig),hulle s’n met water, en koeldrank, en appels, en suigstokkies, en sjokolade.  Ek dra myne saam om te voel of ons twee mekaar kan vind voor my staptog voplgende week, hulle dra hulle s’n om te keer dat hulle honger word. 

Driekwart-pad teen die laaste helling uit gaan ek op ‘n rots sit en verklaar ek is op.  My stapstewels skaaf waar hulle nog nooit gekaaf het nie,  my asem is weg weg weg. My hart bons nou al so lank so hard dat dit my nie meer skok nie, maar sonder asem en met jellie-bene kan ek nie verder nie. 

Jongste is omtrent in trane…”asseblief Mamma, kom net tot hier, dis amper bo,  ons sal jou rugsak vat”   Die bobbejane blaf iewers links teen die oorkantste skuinste, en ek sien hoe benoud hy die afstand tussen ons en hulle meet. Dis so skuins dat ek nie eers hande-vier-voet  hoef te sukkel nie…ek le maar net so effens vorentoe sodat my hande teen moeder aarde kan rus, terwyl my voete vastrapplek soek.  En my hakskene brand!!

Half-ses is ons bo (vir die hoeveelste keer, want met elke bo-kom, is daar nog ‘n stukkie om te klim, maar die keer is ons regtig bo-bo)  Ek kyk terug oor die voue van die Tsitsikamma berge Plet se kant toe…op ‘n helder dag – se my pa – kan mens glo die kuslyn sien.  Ek sien net voue en voue groen, en mistigheid ver.  

Anderkant toe le die Langkloof.  Die ou wereldjie is maar klein van hier bo af.

Selfoon piep in my sak, in ‘n ongewone ooblik van sein.   Dis mnr Lisa. ” Julle sal moet afkom, die donker gaan julle vang.  Waar is julle?”. 

Die afkom, dink ek , was erger.  Ons is skuins en langsamerhand op.  Ons is so reguit as moontlik en so vinnig ons kon af.  Die manne plek-plek op hulle boude. Ek het gedreig met helikopters wat nie in die nag gaan kom soek na seuntjies met af bene nie, en met ‘n vreeslike loesing, maar die bokspring in hulle word swaar gedemp. 

Naderhand gewonder of die heli sal uitkom net vir my.  Sonder enige breuke.  Net omdat ek mooi vra, en omdat ek weet my hakke is seker al bloederig.  Heimlik gebid dat die elektriese drade om die bergkamp moet af wees…sodat ons by ‘n sloot sommer onderdeur kan rol, en nog korter kortpad kan kies huiswaarts.  Gerol het ons.  Gekruip, en gehaak en gestoot en gekners op ons tande.  Kort paaie is nie ‘n goeie ding nie.

Jongste huil die laaste opdraande huistoe heelpad.  Omdat ons nerens piekniek gehou het nie.  En wat nou van al die kos in sy rugsak?  Ek se hy kan sommer so in die loop iets eet.  Maar hy wil nie.  Hy is nie honger nie.  Hy het sy rugsak gepak om te gaan piekniek hou daar bo. 

Nommer Drie se hand is vol blomme.  Hy het met die afkom by al wat ‘n inheemse bolplant  is ‘n blom gepluk.

 Ai!  Jongste is sy pa se kind.  Hy het gestap met ‘n doel.  Hy gaan piekniek hou daarbo.  Nommer Drie het die reis geniet.  Seker twee keer so ver soos ons gestap, omdat hy op en af en links en regs uitdraai om te kyk en ervaar en te ontdek.

En nou le ek hier in die bed en tik…met seer hakke.  Kon Donderdag nog my tekkies aankry vir tennis, maar daarna was dit tiekets!  Blase is rou en seer en skoene ‘n saak van onmoontlikheid.  Gaan vandag met my stapsokkies kerk toe, sonder skoene.  En weet regtig nie hoe ek teen volgende naweek gaan reg wees vir die regte stap nie – want ek sal dit nie met pantoffels aan kan doen nie!

Profile photo of lisa

by lisa

Oormag.

Augustus 28, 2010 in Sonder kategorie

Eintlik het ek mos my liefde bewaak.  En baie suining daarmee omgegaan.  Baie beslis besluit waaraan en aan wie ek geheg sal raak – en daarvan was daar ook maar min. 

Sou op enige gegewe tyd vir jou kon se op watter orbitaalvlak wie in my lewe le.   Met die middelste sirkels byna leeg…en heelwat mense daar ver op die buiterand.

Maar toe word ek ‘n ma.  Eers net fisies, en toe later in my hart.   Daar, in die middel van die binnekring,  waar stilte en orde en alleenreg was, het vier ander wesens begin woon.  En later het hulle liefdes ook die konsentriese sirkels begin binnedring.   Eers daar doer ver op die horison ‘n hamster, ‘n hoender en haar kuikens, ‘n kalf, ‘n perd, twee katte, vier honde, ‘n papagaai, twee budgies, nog ‘n perd…

Ek het redelik goed stand gehou.  Die binnekring beperk gekry tot dit wat vlees en bloed en tweebenig is.  Maar vanoggend het ek wakker geword, met ‘n warm bondel hare by my voete.  Onder die duvet.  Nommer Twee se hondjie.  Sy het nie toestemming gevra nie, sy het net inkgeklim.  En toe los ek haar maar.   

Toe jongste op sy pa se maag kom spring sodat hy kan toets of sy pa se maagspiere drie-en-dertig (hy hoop) kilogram kan weerstaan, en ek keer vir die bondel sag daar onder, het ek besef dis verby… sy het gekom om te bly.  Pens en pootjies binne in my hart.  En dit is reg met my. 

En dit het my laat dink aan hoeveel anders dit nou hier binne is.  Ek het heeltemal se en beheer verloor.  Die oormag was te groot.  En dit is honderd persent reg vir my.

Profile photo of lisa

by lisa

Nag aan al die uile…

Augustus 27, 2010 in Sonder kategorie

lekker slaap!

Profile photo of lisa

by lisa

Mymering

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

Net hier, in die stofpad, het ek gesit die eerste keer toe jy gebel het.

Ek was besig op my laptop.  Gesukkel om die kragaffere-boksie-ding met die drade en die motor se battery gelyk aan die gang te hou, sodat ek kon werk, terwyl ek sit en wag.

En hier is die afdraai waar jy gestaan en wag het dat ek jou moet kom haal.  Jy het voor teen jou motor geleun.  Ek wou weet of jy nie bang is nie, en jy het geantwoord as ek mooi luister sal ek hoor die enjin luier nog.

Jy wou weet van God.   Jy was tergelykertyd ‘n groot stilte en aanhoudende beweging.   En jou hare was lank.

Ek het jou alles vertel wat ek op daardie stadium geweet het. 

En jare later het ek vir jou die stofpad kom wys.  En die berg.  En die bos.

Vandag moes ek in die einste stofpad ‘n driepunt draai maak, dis was nader aan tien,  sodat ek kon teruggaan op die spoor waarmee ek gekom het.

En toe wonder ek of jy nog onthou. 

Profile photo of lisa

by lisa

@pruimtwak – mos

Augustus 19, 2010 in Sonder kategorie

Die boetvaardige soet van die mos op my broodjie

le bitter en wrang en jarelang

in my gemoed

Soenoffersoet het dekades gelede mos

onskuld verloor

in die tyd wat dit neem vir die wonde om te heel

op oog op lyf op hart

Ek het jou mos gese

los maar die konfyt

dis te laat vir soet om te boet

vir dit wat mos uit jou beker gevloei het.

Profile photo of lisa

by lisa

Sake van die hart – drie klein vragies

Augustus 14, 2010 in Sonder kategorie

  1. Wie glo in ou Prados   (minstens 200 000 km plus op die klok)
  2. Wie het al Harkerville gestap (tips asb)
  3. Hierdie een het my nou ontglip…dit was iets makliks soos verhoudings of tienertantrums of iets…

Bonusvraag:

Enige iemand al ooit ernstig oorbegin met iets?  (Enige en alle insig welkom)

Profile photo of lisa

by lisa

2010.08.05

Augustus 5, 2010 in Sonder kategorie

Vandag het ek oorleef

sonder sjokolade

sonder broodjies

en sonder jou